Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Die liefde blom op Nampo

Alles begin by liefde . . . Dit het woordsmid Charles Smith die afgelope week opnuut by Nampo by Bothaville besef. Hy deel sy ervaring van dié jaarlikse hoogtepunt op die landboukalender.

Liefde is ’n soen voor ’n superstroper op Nampo. Coert Jansen van Rensburg, ’n hoenderboer van Pretoria, en Geraldine Vorster, sy vriendin, was so aangevuur deur die Claas Lexion-stroper dat hulle mekaar ’n vurige soen in die kajuit gegee het. Sy het dit toe sommer voor die stroper herhaal en haar liewe boerseun ’n vet soen gegee. Foto: Charles Smith

Die liefde blom behoorlik op Nampo.

’n Paartjie is so oorweldig deur hul paar oomblikke alleen in die kajuit van die superluukse Claas Lexion-stroper dat hulle mekaar ’n vurige soen gegee het.

Coert Jansen van Rensburg is ’n hoenderboer van Pretoria, maar dié blinkgroen masjien het sy kop behoorlik laat draai.

Dit moes hy deel met Ge­raldine Vorster, sy vriendin wat hom met die hoenders help.

En dié soen, waaroor gaan dit?

“Dis maar die liefde, jong,” sê dié boerseun as sy meisie bloedrooi bloos.

Dis wat Nampo aan besoekers doen wat vir die eerste keer dié miernes van net die beste trekkers, stropers, bakkies en vragmotors beleef.

Dis iets waaroor plaas-seuns droom, naas ’n meisie wat die mooi rygoed en die diere net soveel soos jy waardeer, natuurlik.

Johan Venter Human (3) wys dat dié liefde vir mooi ysters ingebore is in seuns wat op ’n plaas grootword. Sy ma, Lindi, het haar hande vol om hom van die Deutz-Fahr-trekkers te hou.

“Mamma, ek wil plant!” sê dié blonde klong en brrr-brrrmm as hy die stuurwiel tol. Nampo is die peuter-boer se hemel.

Vrystaatse goud. JP Fourie, skaap- en wolbeampte van OVK, wys hier die vag van Meester, die Vrystaatse merinoram van die jaar. Meester is die topram van Adam Swanepoel van die Mooihoek-merino’s van Smithfield. Die veseldikte van die wol is 19,5 mikron. Foto: Charles Smith

“Wat wil jy plant, jong?” vra sy ma. Die gesin van die plaas Nooitgedacht, Koppies, is vir die dag hier en almal geniet dit terdeë.

“Sonneblomme,” is die antwoord.

Sy bababoetie, Colin (11 maande), suig grootoog aan sy fopspeen as hy Johan dophou wat van een trekker na die ander spring.

Pa Johan is dit gewoond, want hy gesels sake met ’n trekkerman.

“Hy lewe vir die plaas. Hy ry orals stroper en trekker. Of hy is in die veld agter die beeste en skape aan. Anders vang hy kuikens. Hy doen alles wat ’n seuntjie moet doen,” sê Lindi.

***

“Ek is bly ek boer nie. Net om ’n trekker te koop, is al ’n groot jop,” sê ’n kêrel soos hy tussen die trekkers deurloop. Sy mond hang behoorlik oop.

Hier is trekkers van alle kleure en groottes. Die meeste kos ’n plaas se prys.

Die John Deere 9570 RT-trekker met rusperbande wat 570 perdekrag (419 kW) uitskop, sal jy op Nampo vir ’n spesiale prys van “net” R8,76 miljoen kan kry. Om die gevorderde rekenaartegnologie te bemeester waarmee die monster ry en werk, verg wel baie breinkrag.

Boere van die toekoms. Tshepang Mokoena, Zavier Meiring en Eric Mngowezulu, gr. 11-leerlinge aan die Hoërskool Standerton, neem al drie die vak landbou en droom daarvan om self te kan boer. Agter op hul hemde is die skool se leuse: “Landbou is lekker.” Foto: Charles Smith

Dis met dié amperse vuurpyltegnologie wat die boere letterlik hulself die toekoms in lanseer onder die ANC se verstokte Zimbabwe-beleid van grondonteiening sonder vergoeding uit.

Elke dag raak die tegnologie en boerderymetodes meer gevorderd.

Gerrie Wagenaar van Agri­Afrika in Hoopstad sê jy het omtrent ’n groen monster soos dié John Deere nodig om een van hul Amerikaanse Great Plains-skoffels van 20 m breed te trek.

Hy skud net sy kop oor die onkunde oor landbou, maar verwys ook na die “taaierskoppers” van Klerksdorp en Orkney wat hul toerusting kom bekyk en baie te sê het. Dis die ouens wat op Saterdae Nampo toe kom, toe dit nog die Saterdag ook oop was.

“Die boere wat in die week kom kyk, het klaar hul huiswerk gedoen. Baie weet meer van die produk as ek. ’n Ou wat dié skoffel koop, het reeds die trekker,” sê hy.

“In my opinie is die superboere van Suid-Afrika die ouens wat stabiel is, wat gevestig is en wat hulle nie laat intimideer nie. Hulle weet waarheen hulle op pad is. Hulle het ’n wyer visie. Hoe minder die boere word, hoe meer graan produseer hulle.

“Die boere in Suid-Afrika is heeltyd besig om hulself te verbeter. En hulle is op die hoogte van al die jongste tegnologie.”

***

“Landbou is lekker,” pryk agter op die kakiehemde van drie nuwegenerasieboere wat die miljarde rande se trekkers en stropers bewonder.

Leon Liversage jr. van Leon Liversage Trail Rider Saddles van Belfast wys hul handgemaakte perdesaals wat hulle nou al na Australië, Nieu-Seeland en die VSA uitvoer.

Tshepang Mokoena, Zavier Meiring en Eric Mngowezulu is almal 17 en in gr. 11 aan die ­

Hoërskool Standerton. Die Tswana, Afrikaans en Zoeloe-sprekers deel benewens hul vak en liefde vir landbou, ook ’n liefde vir Afrikaans.

“Ons wil. Ons wil die nuwe boere van die land wees,” sê Eric.

“Ek wil by Standerton met mielies boer.”

Tshepang sê jy kan “nogal baie geld maak” met boerdery.

“Ek sal nogal daarvan hou om vir mense kos te produseer. Ek droom van my eie plaas waar ek met beeste en skape kan boer.”

Die drie leerlinge skud hul kop as hulle oor grondonteiening gevra word.

“Nee, nee. Dit kan nie gebeur nie. Dan sal Suid-Afrika se ekonomie daal,” sê Tshepang.

Isaac Mzima, ’n kleinboer wat op die meentgronde by Koppies boer, glimlag as hy oor Nampo praat. Hy het ’n draai by die boerbokke kom maak en staar verlangend na Splinter, die na­sionale grootkampioenram van die Karsten-boerdery in die Noord-Kaap.

Die tuli-bul Donkerhoek Bush Wacker trek baie aandag op Nampo. Hy is die eerste tuli wat die nasionale Elite-bulgroeifaseklas op die Bloemskou kon wen. Hy is die eiendom van Ben Raath (agter, links) van Britstown. Raath is ook die voorsitter van die Tuli-telersgenootskap. Langs hom is Ben Rossouw van Bethlehem, raadslid. Foto: Charles Smith

“Die diere is die mooiste. Ek boer self met beeste, skape en bokke. En perde. Ek droom van my eie lappie grond. Maar om grond van (wit) boere af te vat om aan swart boere te gee, gaan nooit werk nie. Jy sien mos wat het gebeur met die grond van die mense wat dit verniet gekry het.

“Die regering help my, wat wel boer, wel nie met grond nie. Dit word aan die comrades gegee,” sê Mzima.

Hy wil nie ’n foto van hom laat neem nie, want hy glo hy kan weens sy kritiek op die regering aangeval word.

***

Adam Swanepoel (59) van Mooihoek-merino’s by Smithfield het sy liefde vir die wolskaap van kleins af met sy mieliepap en kaiings ingekry.

Meester, die Vrystaatse kam­pioenmerinoram op die Bloemskou, is dié boerdery se topproduk ná meer as 120 jaar van teling.

Hulle het ook pas ’n intensiewe lamhokstelsel op Mooihoek gebou en gebruik presisieboerdery om elke skaap se inligting te bekom en dit te rekenariseer vir ontleding.

Met presisieboerdery het die boerdery met 30% op dieselfde grond gegroei waar sy oupa, J.A.J. Swanepoel, reeds in die Anglo-Boereoorlog op geboer het. Met een ram kan hy nou 400 tot 500 ooie dek.

’n Jong bokboer by ’n boklam op Nampo. D.J. Treurnicht (11) van Delareyville wat self sy eie klein boerbokboerdery het, speel hier met ’n boerboklam op Nampo. Sy eie boerbokram se naam is Jan Bok. Foto: Charles Smith

“Die ou wat nie byhou met presisieboerdery nie, gaan verloor. Jy kan nie sommer grond koop nie. Jy moet die grond wat jy het optimaal benut. Ek het begin boer deur al die inligting agter op ’n sigaretboksie te skryf – en dan gooi jy die boksie nog weg ook.”

Meester en sy kollegas in die ramstal op Mooihoek slaap 365 dae van die jaar onderdak.

“Met die wolprys nou móét hy onder dak slaap,” sê Swanepoel.

Hy kyk na Meester en glimlag tevrede.

Die wolprys het tot meer as R200/kg opgeskiet vir die duurste wol.

Dit wat oupa J.A.J. in Mooihoek ingeploeg het, werp nou vrugte af.

“My pa, ook Adam, het altyd gesê: ‘Hou vas aan die merino se stert en hy trek jou deur die drif.’ Die merino koop baie plase. Die meeste plase in Smithfield is deur merino’s gekoop.”

Dis boere met dié filosofie, harde werk oor geslagte en eeue heen, en die bemeestering van tegnologie wat maak dat duur trekkers, stropers, toerusting en voertuie gekoop kan word.

Hiermee word kos vir meer as 55 miljoen mense in die land verbou.

Maar alles begin by liefde.

Johan Venter Human (3) wil net ploeg en plant met die trekkers op Nampo. Hy is die seun van Johan en Lindi van die plaas Nooitgedacht, Koppies. Foto: Charles Smith

Meer oor:  Charles Smith  |  Bothaville  |  Nampo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.