Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Die nagwa se emmers, bo-op die spietkop . . .
Foto ter illustrasie. Foto: iStock

’n Wa is ’n wonderlike ding. Deur die geskiedenis van die mensdom speel dit nog altyd ’n groot rol. Strydwa, lykswa, sleepwa, ossewa, treinwa, altyd aan die werk en selfs skape is al ingespan om hulle te trek.

Vir my is ’n Sigeunerwa die bekoorlikste met die kleurvolle dekor en binne het dit alles wat ’n mens nodig het om te oorleef – selfs ’n koolstoof!

Ons het elke Desember-vakansie van die Laeveld af met die trein Oos-Kaap toe gery. Dit het sowat twee dae geneem, want jy moes ’n halwe dag lank in Johannesburg oorstaan vir die aansluiting Kaap toe.

Hoewel dit nie die Orient Express was nie, was die passasierswaens vir ons baie luuks, want ons het eersteklas gery. Dit het beteken daar was ’n stort beskikbaar en die kompartemente het ’n wasbak en ’n tafeltjie gehad wat kon uitvou vir etes of speletjies.

Baie studente het tydens die vakansie op die treine gewerk. Laatmiddag het hulle kom beddens opmaak met kraakvars wit lakens en blou komberse. Daarna het een van hulle van wa tot wa gestap en die ding-dong-gong gelui vir almal wat kaartjies vir aandete kon bekostig. Wat ’n bederf was dit nie!

Die tafels in die eetsalon was keurig gedek met egte silwer en porselein eetware. Kos was uit die boonste rakke en is bedien deur ’n kelner met ’n spierwit doek oor sy arm. Hy het vir jou ingeskep en ek was altyd verstom oor sy vasvoetigheid ten spyte van die trein se geskud.

Baie passasiers het by elke stasie uitgeklim om op die perron rond te loop. Menigmaal was ek so benoud dat ons sonder my boeties sou vertrek, want al drie van hulle het gedink dis groot pret om toffies te koop by al die stasiekafees eerder as die kiosk op die trein.

Soms het ons in ’n ou luukse houtwa gereis – met groen leersitplekke, pragtige houtpanele en foto’s van mooi plekke in Suid-Afrika in houtrame teen die mure gemonteer. Die Gautrein is nie treinry as jy eers in so ’n antieke wa gereis het nie.

In ons dorpie was daar ook ’n ding soos ’n nagwa vir die paar huise wat nog ’n emmerstelsel in hulle badkamers gehad het. Die nuwe spietkop het nie daarvan geweet nie. Hy was nog maar net ’n maand daar en die inwoners was reeds suur vir die mannetjie, want selfs die kinders wat met fietse sonder lisensies gery het, het stywe boetes gekry. Ja julle lees reg, honde en fietse moes elke jaar ook ’n lisensie uitneem.

Een aand besluit hy toe dis tyd vir ’n laatnag-patrollie. Nugter weet hoekom, want al wat jy ná 21:00 op straat gesien beweeg het, was katte en kinders wat te voet van kuiers af gekom het.

So ry hy toe nou op sy motorfietsie die lang pad verby die krieketveld toe hy op die nagwa afkom wat deur ’n trekker gesleep word.

Irma de Klerk.Foto: Verskaf

Hy het getoeter en geskree dat die drywer moet stop. Hoekom iemand die nagwa wou inspekteer weet nugter, maar die drywer van die trekker het so groot geskrik vir die gedoente agter hom in die donker, dat hy summier die rem getrap het.

Die spietkop, wat hopeloos te naby aan die wa gery het, het nie geweet wat hom tref nie. Toe die trekker rem, skuif die emmers agtertoe op die wa en die laaste ry val af, twee van hulle bo oor die spietkop!

Binne 24 uur was die dorp verlos van hierdie geregsdienaar – hy het die hasepad gekies terug stad toe.

Die drywer tot die nagkar was almal se held en het boonop ’n stywe verhoging gekry!

Meer oor:  Irma De Klerk  |  Trek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.