Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Dié ontwerpers maak uitrustings vir Mej. SA-kroningsaand
Die Johannesburgse ontwerper Juan Visser van Juan William Aria. Foto: Verskaf

Net soos wat die toptien-finaliste in die Mej. SA-kompetisie van oor die hele land kom, is die nege ontwerpers wat hul uitrustings vir die kroningsaand maak, ook van ’n rits stede en provinsies afkomstig.

Die ontwerpers bring hul skeppings van Durban, Klerksdorp, Tshwane en Johannesburg na Kaapstad vir die glansryke kroningsgeleentheid wat op Saterdag 24 Oktober in die Waterfront gehou word.

“Vanjaar is van die beste ontwerpers in die land deel van die program, en dit sal wys hoe sterk ons ??ontwerpersbedryf is,” sê kreatiewe direkteur van die Mej. SA-kompetisie, Werner Wessels, wat ook as die ster van die TV-program Die Kroonprins bekend is.

“Die modesegmente, waartydens die finaliste die klere modelleer, sal met sterk monochromatiese patrone begin en gedurende die aand in ’n kleurontploffing verander,” sê hy.

“Elke deelnemer sal in ’n kleur van die reënboog aangetrek word om die diversiteit en krag van ons reënboognasie te verteenwoordig.”

Sello Medupe, ontwerper en eienaar van Scalo Designer. Foto: Verskaf
Sandi Mazibuko, ontwerper van die Nguni-reeks wat die finaliste heel eerste sal dra. Foto: Verskaf

Die finaliste sal die loopplank heel eerste in die Nguni-reeksontwerpe van die KwaZulu-Nataller Sandi Mazibuko, aandurf. Volgens Mazibuko is die reeks deur die Zoeloe-kultuur geïnspireer.

Die Kaapse ontwerper Lena Lisa Retief het die finaliste se aandrokke ontwerp wat hulle aan die begin van die regstreekse vertoning sal dra.

Volgens Retief is dié ontwerpe eenvoudig en tydloos. Hoewel die benadering vir die ontwerpe in skoonheidskompetisies gewoonlik daaroor gaan om meerstylen dramatiese aksente te hê, gaan dit nie oor die beklemtoning van ’n individuele persoonlikheid nie, maar om die tema van die kompetisie aan te vul, sê sy.

Die finaliste sal daarna swemklere modelleer, geskep deur die Kaapstadse TracyB Swimwear (wat die baaikostuums maak) en Johannesburgse Imprint ZA (wat die kledingstuk bo-oor ontwerp).

Tracy Efstathiou, eienaar van TracyB Swimwear, sê die kostuums is Afrika-geïnspireerd en sexy. Sy gee toe dat haar ontwerpe “ ’n bietjie meer konserwatief” is wanneer sy vir ’n kompetisie ontwerp.

Die Kaapstadse Lena Lisa Retief wat die finaliste se aandrokke vir die begin van die vertoning maak. Foto: Verskaf

Vyf ander ontwerpers kry dan die kans om twee rokke elk vir die groot finale te ontwerp. Anel Botha wat lank reeds uitrustings vir die kompetisie maak, sal Jordan van der Vyver (Wes-Kaap) en Lebogang Mahlangu (Gauteng) se aandrokke maak.

Juan Visser van Juan William Aria sal Thato Mosehle (Noordwes) en Karishma Ramdev (KwaZulu-Natal) se rokke ontwerp.

Neville Masondo van La Art Neviole Emporium is vir Melissa Nayimuli (Oos-Kaap) en Chantelle Pretorius (Gauteng) se uitrustings verantwoordelik.

Orapeleng Modutle van Orapeleng Modutle Style Avenue sal Shudufhadzo Musida (Limpopo) en Aphelele Mbiyo (Oos-Kaap) se uitrustings maak en Sello Medupe van Scalo Designer ontwerp die rokke van Busisiwe Mmotla (Gauteng) en Natasha Joubert (Gauteng).

Visser, wat van Johannesburg is, het voorheen ’n aantal voormalige Mej. Suid-Afrika-wenners se uitrustings gemaak, onder wie Mej. Heelal Zozibini Tunzi, voormalige mej. Heelal Demi-Leigh Tebow (née Nel-Peters) en voormalige Mej. SA Tamaryn Green.

Die kroningsaand begin om 17:00 in The Table Bay Hotel in die Waterfront. Die geleentheid word regstreeks op M-Net en Mzansi Magic uitgesaai. Die organisasie het voorheen gesê ’n beperkte aantal sitplekke sal beskikbaar wees.

Meer oor:  Mej. Sa  |  Kroningsaand  |  Ontwerpers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.