Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Nie kanker óf finansies stuit dié ‘ou’ skoolliefde
Weens pyn moes Larami gedurende die huwelikseremonie teen haar bruidegom, Otto Meyer, leun, maar selfs dit sou nie met hul gelukkige dag inmeng nie. Foto: Lolande Baker

Otto Meyer het meer as 20 jaar gewag.

Nie kanker of finansies sou hom dié slag keer om met sy destydse skoolliefde te trou nie.

Larami Meyer se pa, Stefan Maré, en haar oudste seun, Dihan Diedericks, help haar na die kansel toe. Foto: Lolande Baker

Net om hiervan seker te maak, het die Centurion Hospice hand bygesit.

Larami Meyer (36) het nog gedink sy trou September, toe reël die hospies binne nege dae ’n bobaas-bruilof.

Op 1 Mei is dit wat destyds as ’n skool-kalwerliefde begin het, by die Centurion Hospice in ’n “vir-ewig-en-altyd-sprokie” omgetower.

Daar was laventel en proteas. Daar was ’n rooi tapyt en ’n driegang-bruilofsmaal.

Die pad na die kansel het begin toe Meyer jare gelede die 13-jarige Larami gevra het om “uit te gaan”.

’n Ruk later het haar gesin van Pretoria na die Noord-Kaap verhuis.

“Ek het nooit vir Otto gesê ons trek nie. Toe die skool weer in Januarie begin, het hy vir my gewag, maar ek het nie teruggekom nie.”

Sy het hom wel gebel en hulle het met tiekieboks-oproepe en briefies deur die pos gekommunikeer totdat dinge mettertyd doodgeloop het.

Die bruid straal, ten spyte van ’n stryd met kanker en die gevolge van chemo-behandelings. Foto: Lolande Baker

Jare later het Meyer (38) haar op Facebook opgespoor en tergend bygevoeg: “Ek wil net sê, jy het nooit met my uitgemaak nie…”

Dit was 20 jaar en ses maande sedert hulle kontak gehad het.

Met hul eerste weersiens was Meyer se woorde: “Ek sien jy is nog net so mooi soos altyd.”

Hulle was ses maande bymekaar toe sy in Augustus 2019 siek raak. In Desember 2020 het dokters ’n reuse-gewas van 28 cm by 18 cm gevind. Op 11 Januarie is dit tydens ’n ure lange operasie verwyder.

“Dit is ’n tipe kanker, ‘clear cell-karsinoom’, wat net 2% van die mense wêreldwyd tref, en gewoonlik ouer mense. Teen die tyd wat dit opgespoor word, is dit gewoonlik te laat,” verduidelik Larami.

Chemoterapie-sessies het gevolg.

Larami Meyer en haar ma, Sandra Kok. Foto: Lolande Baker

“Toe my hare uitval, het Otto syne ook gaan afskeer. Hy trek elke Vrydag ’n pienk hemp aan vir my kankerstryd.

“Hy het dat ons ’n bucket list, soos my droom om op Tafelberg te staan, opstel, sodat daar elke keer iets is om na te streef, nes ek wil moed opgee.”

Larami vertel haar hare het op 10 Februarie begin uitval. Binne 12 ure was die laaste haarstring weg.

Ná meer as 20 jaar kon Otto Meyer sy skoolliefde voor die kansel inwag. Foto: Lolande Baker

Kort daarna het Meyer die ja-woord gevra.

Toe Larami antwoord sy sou graag wou, maar sy het dan nie eens hare nie, antwoord hy: “Ek trou nie met jou hare nie. Ek trou nie met jou siekte nie. Ek trou met jou wat ek lief het…”

Die paartjie sou egter eers moes spaar, want Larami was so swak ná ’n chemobehandeling dat sy nie meer kon werk nie en Meyer se enkel-inkomste moes die meeste uitgawes dek.

Sy kon ook nie meer alleen tuisbly ná ’n chemosessie nie. Sy het die Centurion Hospice genader om te hoor of hulle dalk kon help.

Hulle kon, en, toe die personeel die twee se liefdesverhaal hoor, het Marius Bester, bedryfsbestuurder, besluit om hand by te sit.

Marius en Melanie Robbins het sakemense genader en skenkings, insluitende twee trourokke, bekom.

“Binne nege dae het hulle ons troue gereël! Hoe bedank jy so iemand?”

Larami se ma, Sandra Kok, het gesorg vir pers in haar trourok, soos die bruid wou hê, sowel as vir ’n pruik.

Op Werkersdag het Larami, met die hulp van haar pa, Stefan Maré, en haar oudste seun, Dihan Diedericks, na die kansel geloop, ten spyte van die pyn.

Tydens die kort seremonie kon sy met byna haar hele gewig teen haar steunpilaar-bruidegom leun.

Soos Larami se pa gesê het toe hy sy dogter afgee: Meyer is bereid om die hele “package” te vat. Kanker en al.

Twee dae later moes sy weer vir behandeling gaan.

“Ek wil nie hê mense moet my jammer kry nie. Ek is hier om te leef. Ek wil mooi herinneringe bou en nog met die kabelkarretjie tot bo-op Tafelberg gaan.

“Dit is nog nie die eindstreep nie,” sê Larami.

Meer oor:  Otto Meyer  |  Larami Meyer  |  Kanker  |  Skoolliefde  |  Troue  |  Liefde  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.