Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Dié tekens kan wys kind gaan moord pleeg

Daar is meestal waarskuwingstekens voordat jong mense moord pleeg.

Prof. Esmé van Rensburg: “Daar is meestal gevaartekens voordat ’n jeugdige moord pleeg.” Foto: Susan Cilliers

Maar dit kan egter veral by tieners misgekyk word omdat hulle tipies weens hul ontwikkelingsfase baie gemoedskommelinge beleef of by hoërisiko-gedrag betrokke raak, sê prof. Esmé van Rensburg, ’n voorligtingsielkundige by die vakgroep psigologie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

Gemeenskappe word tot in hul fondamente geskud wanneer jong mense soos Don Steenkamp en Henri van Breda hul ouers en sibbe vermoor.

Die onlangse moord op twee tienermeisies in Stella, Noordwes, het ook skokgolwe deur die land gestuur. Xander Bylsma (19) is in aanhouding weens die moord op sy eksmeisie, Sharnelle Hough (17), en kleinniggie, Marna Engelbrecht (16).

Van Rensburg beklemtoon egter dat sy in breë algemene terme praat en nie spesifiek verwys na Xander nie omdat sy hom nog nooit geëvalueer het nie, en die bewerings teen hom nog bewys moet word.

Volgens haar is daar baie risikofaktore – byvoorbeeld armoede, wanfunksionele gesinsomstandighede en/of ouers se egskeiding op ’n kwesbare ouderdom, swak akademiese prestasies en leerprobleme – wat ’n rol in kinders se persoonlikheidsontwikkeling speel.

Xander Bylsma Foto: Facebook
Vermoor: Sharnelle Hough Foto: Verskaf
Vermoor: Marna Engelbrecht Foto: Facebook

“Dit kan veroorsaak dat die kind nooit werklik deel voel of word van ’n groep nie, en geviktimiseer voel. Dit kan tot gewelddadige gedrag of selfs moord lei wanneer hulle wéér deur byvoorbeeld ’n meisie verwerp voel.”

Van Rensburg sê navorsing toon daar is ’n paar ooreenstemmende kenmerke onder jeugdiges wat moord pleeg: emosionele probleme soos angs, depressie of ’n gemoedsversteuring; gedragsprobleme oor ’n lang tydperk; alkolhol- of middelgebruik of persoonlikheidsversteurings. “Gewoonlik is daar ook gesinsproblematiek, soos langdurige konflik, egskeiding of onbevredigende ouer-kind-binding.”

Nog ’n risikofaktor is wanneer mans of seuns vroue of meisies probeer beheer, byvoorbeeld met die neerlê van reëls oor wat hulle mag of nie mag doen of aantrek nie.

“Indien die vrou of meisie nie beheer kan word nie, gaan dit dikwels in geweld oor,” sê Van Rensburg.

Don Steenkamp het sy hele gesin met ’n geweer afgemaai. Foto: Emile Hendricks
Henri van Breda het byna sy hele gesin met ’n byl doodgekap. Foto: Jaco Marais

“Dit kan aanvanklik manifesteer in die rondruk of -stamp van die persoon, maar dit kan mettertyd vererger en selfs tot moord oorgaan.”

Van Rensburg raai ouers aan om hul dogters van hierdie sogenaamde “toksiese manlikheid” bewus te maak. Tekens hiervan is seuns of mans wat hulle boelie, emosioneel afkraak, dreig of probeer beheer. Meisies moet ook leiding kry oor hoe om uit so ’n verhouding te stap.

“Enige vorm van geweld (selfs sogenaamde speelse gedrag wat ’n gewelddadige element het) moet as waarskuwingstekens dien,” sê Van Rensburg.

Ouers en skole moet dus nie dié gevaartekens afmaak as bloot “ ’n fase wat die kind sal ontgroei” nie, waarsku Van Rensburg.

“Ouers moet dit eerste raaksien en hulp kry. Skole en ouers moet egter ’n vennootskap vorm. Ouers moet besef dat indien die skool oor ’n kind of sy gedrag kla, is dit nie ’n persoonlike vendetta teen die kind nie maar waarskynlik omdat die skool iets raakgesien het wat die ouers nog nie raakgesien het of wil erken nie.”

Van Rensburg sê sommige literatuur voer ook aan dat ’n gewelddadige milieu waarin baie jeugdiges hulle bevind ook tot latere geweld kan bydra.

“Kinders word oormatig deur televisie, Xbox, videospeletjies en so meer aan geweld blootgestel. Ons lewe dus in ’n kultuur van geweld waarin mense onsensitief ten opsigte van geweld en die ‘onbelangrikheid’ van mense se lewens word.”

Waarskuwingstekens
  • Leer- en akademiese probleme.
  • Middel- of alkoholmisbruik.
  • Disfunksionele gesinne (blote kontak tussen die ouer en kind beteken nie daar is ’n goeie verhouding nie).
  • Emosionele problematiek.
  • Diagnoseerbare sielkundige afwykings soos depressie of gemoedsversteurings.
  • Gedragsversteurings met ’n geskiedenis van jeugoortredings of ernstige skoolverwante oortredings.
  • Emosionele of psigiese afwykings by een of albei ouers.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.