SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Leef
Jou kind:
Die wens om te wen

Die land baai in die euforie van die William Webb Ellis-trofee, maar om jou kind te leer oor wen en verloor is nie so eenvoudig nie, skryf Johanna van Eeden.

Die Bokke is bly. Engeland ly. foto: getty images

Dis weer tyd vir die jaarlikse prysuitdelings en jou Facebook-voer word oornag oorgeneem deur foto’s van trotse ouers wat spog met die prestasies van hul telge. Daar is die superuitblinkers, wat ál die bekers verower. Diegene wat spog met ’n sertifikaat wat eintlik sommer aan byna almal uitgedeel is. En dan is daar diegene wat stil is, want nie álmal se kinders wen nie. Dit maak nie saak watter een van hierdie kinders joune is nie, hier’s ’n paar lesse oor wen én verloor:

1. Jy móét probeer wen

“Wen is slegs ter sprake wanneer ’n aktiwiteit so gestruktureer is dat daar ’n duidelike uitkoms is met ’n wenner, ’n tweede en derde plek of ’n wenner en verloorder,” sê dr. Greyling Viljoen, ’n kliniese sielkundige van Pretoria. Op so ’n speelveld moet jy minstens poog om te wen, want dis wat die reëls vereis, sê hy. Dis belangrik dat kinders verstaan sommige aktiwiteite is ’n kompetisie en ander nie. Waar die uitkoms nie ’n wenner vereis nie, moet kinders weet samewerking is die belangrikste of dat hulle in so ’n omgewing sommer net kan speel sonder die druk om te wen.

Maar wanner dit gaan oor wen, is dit oneties om deel te neem sonder om jou beste te gee. “As die reëls sê daar moet ’n wenner wees, moet jy hard werk om eerste te kom. Jy kan ook nie ’n goeie wenner wees as jy nie ’n goeie verloorder is nie. Dit beteken nie jy moet hou van verloor nie.”

“As ons niks van kinders verwag nie, sal hulle ook niks vermag nie,” sê Wilna van Rooyen, ’n oudskoolhoof en vroeëkinderontwikkelingspesialis by die Afrikaanse Onderwysnetwerk. “As ons middelmatigheid van kinders verwag, glo hulle dis al waartoe hulle in staat is.”

2. Wen is nie die toppunt nie

Jannie Putter, ’n sielkundige van Midrand en skrywer van Wenplan vir jou kind se lewe, sê die probleem is dat mense wen as ’n uitslag sien. ’n Wenner is nie iemand wat altyd op die telbord die oorwinning behaal nie. “ ’n Ware wenner is iemand wat die lewe en die uitdagings van die lewe op ’n sekere wyse hanteer. Om ’n wenner te wees is ’n persepsie, nie ’n uitslag nie.”

Jannie meen “kampioene is nie seker van die uitslag nie, hulle is seker van hulself”. Om jou kind te help om met selfvertroue deel te neem aan aktiwiteite sonder om homself heeltyd met ander kinders te vergelyk, is dus belangrik.

Dit gaan heel eerste oor wat jy van jouself dink.

3. Wen bepaal nie jou waarde nie

Help jou kind eerder om ’n positiewe selfbeeld te ontwikkel as om heeltyd daarop aan te dring dat hy wen, sê Wilna. Só help jy jou kind om in homself en sy vermoëns te glo. “Dit sal bydra tot sukses in hul skoolloopbaan, sport en latere werkslewe. Om te wen is ’n bonus, maar kinders moet leer om ten spyte van die uitkoms hul beste te gee,” sê Wilna.

Jannie sê kinders moet leer dat ’n medalje of trofee nie jou waarde bepaal nie. “Dit gaan nie oor wat ander mense van jou dink nie. Dit gaan heel eerste oor wat jy van jouself dink, verwag en weet.”

Hy meen dis belangrik dat kinders leer dat ’n positiewe uitslag nie jou menswaardigheid bepaal nie. “Dis juis die hartseer van vorige nederlae, die harde werk en sweet waarvan niemand weet nie, die teleurstellings in oomblikke wat jy kon wen, maar nie het nie, wat die reis van kampioene so fassinerend maak. Dis waar karakter gebou en gegroei word – in oomblikke van teleurstelling, hartseer en nederlaag. Dit is ’n kerndeel van die lewe.”

My kind is ’n wenner

Jannie Putter, ’n sielkundige van Midrand, sê die eienskappe wat natuurlike wenners moet leer is respek, dankbaarheid en die belangrikheid van harde werk.

Wilna van Rooyen, ’n vroeë kinderontwikkelingspesialis, sê indien ’n talentvolle kind ’n positiewe selfbeeld het, sal hy makliker nederig wees. So ’n kind weet sy selfbeeld hang nie af van prestasie nie. “Selfs natuurlike wenners het nodig om te leer dat daar nederlae kan wees en dat hul menswees nie van wen afhang nie. Hulle moet leer wen bepaal nie hul persoonlikheid, waardestelsel, geloof in hulself en hul omgee vir ander nie.”

Ook Wilna meen dankbaarheid is ’n belangrike eienskap wat kinders moet aanleer omdat dit ’n kind help om nederig te bly en boonop geluk as newe-effek het.

4. Harde werk is belangriker as wen

Greyling meen dis problematies as kinders geleer word hulle hoef nie te werk vir iets nie. “Dis nodig om aan kinders die idee oor te dra dat sukses die positiewe gevolg van harde werk is. As daar beloning gegee word, moet harde werk beloon word. Die uitkoms is belangrik, maar die harde werk is belangriker. Ons moet ons kinders leer om hard te werk, verantwoordelikheid te aanvaar, uit foute te leer en deursettingsvermoë te hê. Dit is vaardighede wat later in die lewe vir hulle deurslaggewend kan wees.”

Jannie meen ware wenners kry genoegdoening uit toewyding en die wete dat hulle hul beste gee. “Vir kinders is ’n trofee ’n simbool van sukses, maar daardie simbool het slegs waarde as dit gepaard gaan met ’n prys wat daarvoor betaal is – harde werk – en trots – die gevoel wanneer jy werklik ’n opponent kon klop.”

5. Ek’s áltyd lief vir jou

Dis belangrik dat jou kind nie voel hy moet presteer om jou liefde te ontvang nie, voeg Wilna by.

Jou kind moet weet jou verwagtinge is gekoppel aan sy vermoëns en maak nie saak wat nie, jy bly lief vir hom.

Greyling sê dit raak problematies wanneer die wenmotief gedryf word op terreine waar wen en verloor eintlik nie deel van die struktuur moet wees nie, byvoorbeeld in jul verhouding of selfs die werksomgewing. “Daar gaan dit nie oor wen of verloor nie. Die werksomgewing is nie gestruktureer sodat iemand ’n goue medalje wen nie. In daardie omgewing is jy suksesvol of nie. Sodra jy verhoudings as ’n kompetisie sien, dan word dit ’n magsdinamika,” verduidelik Greyling.

My kind is gemiddeld

Jannie Putter, ’n sielkundige van Midrand, sê selfs wanneer jou kind in niks uitblink nie, bly die waardes van respek, dankbaarheid en harde werk die belangrikste. “As ’n kind hierdie eienskappe ontwikkel, sal hy ophou om homself met ander te vergelyk.”

Wilna van Rooyen, ’n vroeë kinderontwikkelingspesialis, sê goeie voorbereiding is noodsaaklik. “ ’n Gemiddelde kind wat goed voorberei, presteer optimaal en kan trots wees daarop. ’n Gebalanseerde kind wat weet wie hy is en glo in sy vermoëns, is gemaklik in sy vel en kan ander hul prestasies gun.”

6. Soms kan meer as een uitblink

Daar is gevalle waar meer as een kind ’n “kans” kan kry om te “wen”. Wanneer ’n skool byvoorbeeld besluit om vir verskillende kinders beurte te gee om hoofleiers te wees, kan dit positief wees, meen Greyling. “Dit maak eintlik nie van daardie kind ’n wenner nie, want dit is nie ’n wen-of-verloor-situasie nie. Dit gee hulle die geleentheid om hul leierskap te ontwikkel.”

7. Daar’s nie troospryse nie.

Om jou kind ’n “troosprysie” in die hand te stop omdat al die ander kinders bekers ontvang het en hy met leë hande sit, is volgens Wilna oneerlik en kan negatief op ’n kind se selfbeeld inwerk. “Kinders moet ook leer om teleurstellings te hanteer sonder om ten gronde te gaan,” sê Wilna.

8. Jou doelwitte is ook ’n oorwinning

Jy hoef nie jou kind te help om ’n aktiwiteit te kry waarin hy uitblink nie, dis voldoende as ’n kind ’n aktiwiteit ontdek waarin hy homself kan uitleef, sê Wilna. “Indien ’n kind dan boonop ’n toppresteerder is, is dit ’n bonus, maar onthou, nie alle kinders het die vermoë om ’n toppresteerder te wees nie. Dis goed om te droom en dan doelwitte te stel wat jy deur harde werk kan bereik. Dit maak van jou ’n suksesvolle mens, al is jy dalk nie ’n kampioen wat ’n trofee wen nie,” sê Wilna.

Jannie Putter, ’n sielkundige van Midrand, sê die eienskappe wat natuurlike wenners moet leer is respek, dankbaarheid en die belangrikheid van harde werk.

Wilna van Rooyen, ’n vroeë kinderontwikkelingspesialis, sê indien ’n talentvolle kind ’n positiewe selfbeeld het, sal hy makliker nederig wees. So ’n kind weet sy selfbeeld hang nie af van prestasie nie. “Selfs natuurlike wenners het nodig om te leer dat daar nederlae kan wees en dat hul menswees nie van wen afhang nie. Hulle moet leer wen bepaal nie hul persoonlikheid, waardestelsel, geloof in hulself en hul omgee vir ander nie.”

Ook Wilna meen dankbaarheid is ’n belangrike eienskap wat kinders moet aanleer omdat dit ’n kind help om nederig te bly en boonop geluk as newe-effek het.

Jannie Putter, ’n sielkundige van Midrand, sê selfs wanneer jou kind in niks uitblink nie, bly die waardes van respek, dankbaarheid en harde werk die belangrikste. “As ’n kind hierdie eienskappe ontwikkel, sal hy ophou om homself met ander te vergelyk.”

Wilna van Rooyen, ’n vroeë kinderontwikkelingspesialis, sê goeie voorbereiding is noodsaaklik. “ ’n Gemiddelde kind wat goed voorberei, presteer optimaal en kan trots wees daarop. ’n Gebalanseerde kind wat weet wie hy is en glo in sy vermoëns, is gemaklik in sy vel en kan ander hul prestasies gun.”

Meer oor:  Leer  |  Verloor  |  Kind  |  Wen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.