Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Dis dié mense se werklikheid’
Afrikaans se bekendste broer en suster het ook nou hul eie TV-reeks.

In die reeks In jou skoene beleef Bobby en Karlien van Jaarsveld ander mense se lewens met die doel om ’n betekenisvolle verskil te maak. Delia du Toit vertel.

Dis nie net die gewone gepeupel wat nuuskierig is oor hoe die rykes en beroemdes leef nie – klaarblyklik geld dit albei kante toe.

En dís die beginsel agter die ­bekende sangers en sibbes Bobby en Karlien van Jaarsveld se nuwe TV-reeks, In jou skoene (Via, kanaal 147).

In elke episode dink Bobby en Karlien se familielede vir hulle ’n lewensveranderde uitdaging uit. Hul suster Cara daag hulle byvoorbeeld uit om met ’n begroting van R100 vir twee dae hul glansryke ­lewe in Pretoria-Oos te verruil vir die arm buurt Elandspoort, naby Danville.

“Wat vir ons soos ’n sepie lyk, is hulle lewe,” sê Karlien dan oor dié ondervinding.

Karlien besoek ook ’n township saam met haar huishulp, Bingo – met haar peperduur Louis Vuitton-handsak en al. Bobby dra vir twee dae ’n bril wat hom “blind” maak, soos die sanger Vernon Barnard, en het ’n emosionele oomblik op kamera wanneer hy besef hoe moeilik dit is om só kitaar te speel.

“Dit was ontsettend moeilik om mense so te sien swaarkry. Ontsettend,” sê Bobby.

“Die kinders in die kinderhuis. Die mense in die armste van arm gebiede. Dit het regtig soms vir ons soos ’n rolprentstel gelyk. Dit was nie. Dit is hierdie mense se realiteit. ’n Mens is bewus van ander se swaarkry, maar deur saam met hulle te leef, eet en slaap vir 48 uur het ons siening heeltemal verander. Dit was ontsaglik hartseer.”

Maar die twee se emosionele stryd dien ook ’n goeie doel benewens produksiewaarde. Kykers kan ná sommige van die episodes skenkings maak aan organisasies wat die betrokke behoeftiges help.

Karlien het haar huishulp, Bingo Ramatsetse, se township-huis besoek in ’n vorige episode.Foto: Verskaf

Met die ter perse gaan is nagenoeg R53 000 ingesamel en aan die Hanna-liefdadigheidstigting geskenk om die mense van Elandspoort te help.

Vir Bobby en Karlien is die reaksie oorweldigend. “Ons wou al lankal saam ’n televisieprogram maak, maar nie ’n Kardashian-tipe-ding nie. Dis seker baie vermaaklik, maar dit het geen betekenis nie en ons wou ’n verskil maak,” sê Bobby.

“Maar ons het nie ’n reaksie op dié skaal verwag nie. Ons word nou oorval met e-pos van mense wat sê dat dit hul uitkyk op die lewe verander.

“Hulle is dankbaar dat hulle ’n ouerhuis het, dat hulle kos op die tafel het, dat hulle kan sien.”

Vanaf die eerste uitsending in ­Januarie vanjaar is dit die mees ­gekykte program op Via, sê Izelle Venter, kanaalhoof.

Aanhangers kan later vanjaar ook daarna uitsien om Bobby in die kompetisie The Voice te sien, asook na ’n nuwe album van Karlien.

Só kan jy help

Kykers kan met Candystick, ’n digitale platform vir geldinsameling, skenkings maak aan van die plekke wat Bobby en Karlien in die program besoek.

Besoek candystick.co.za om geld aan een van dié sake te skenk. ’n Skakel na een van die sake wat op In jou skoene verskyn het, sal op die tuisblad vertoon word.

Jy kan dit doen deur op die toepaslike “Moneybox” en dan weer op “Contribute” te kliek. Jy word na ’n betalingsblad geneem waar jy jou betalingsmetode – per elektroniese geldoorplasing of met jou kredietkaart – sowel as die bedrag wat jy wil skenk – kan aandui.

Van die skarefinansieringsprojekte wat nog voorlê, is:

In episode agt (1 Maart) kan kykers saam met Bobby die stryd teen renosterstropery help stry deur ’n bydrae aan die Stop Rhino Poach­ing-organisasie te maak.

In episode tien (15 Maart) leer ken ons dr. Liana Roodt van die Groote Schuur-hospitaal en haar Project Flamingo, wat vroue met borskanker ’n tweede kans gee.


Meer oor:  Bobby  |  Karlien Van Jaarsveld  |  Tv-Reeks  |  In Jou Skoene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.