Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Dís hoe inperking en Covid-19 my verander het’

2020 is NIE die jaar om vir mense te vra wat hulle bereik het nie. Maar of die koronavirussiekte se tentakels vatplek by jou gekry het of nie. Die kans is groot dat die Covid-19-pandemie jou verander het. Cheréne Pienaar het met ’n paar mense hieroor gepraat.

Tokelo Lekula Foto: Verskaf

Tokelo Lekula (grootgemaak deur die skrywer Karel Schoeman), Trompsburg

“Die jaar het baie goed begin. Ek het na Johannesburg getrek. Ek het vir AKA by die Viewers Choice Awards gedans. Skielik het die virus in Suid-Afrika geland. Sommige goed het net begin stilstaan. Dit het gevoel asof ek nie my drome kan bereik nie.

Maar God was altyd daar vir my. Die inperkingstyd het my net geduldiger gemaak. Dat ek ook nie opgee nie, want Karel Schoeman is altyd saam met my en hy beskerm my.

Ek het hard begin werk en bid, ek het begin geld spaar en met meer idees vorendag gekom. Want pryse het begin styg – die wêreld het skielik ’n duur plek geword. Ek het al my talente gebruik om inkomste in te bring. ’n Paar celebrities het my begin raaksien en my gevra of ek op hul liedjies sal dans.

Ek verkoop ook my eie klere met my brand KidaSwag. Dans help my ook baie soos toe ek vir Sho Madjozi ook gedans het vir ’n TV-shoot. En ek het besluit om aanlyn dansklasse te gee. Hoewel die inperking alles bemoeilik het, het dit my net nog meer honger vir sukses gemaak. En om my ouers, en vir Karel, trots te maak.”

Jani Swart Foto: Verskaf

Jani Swart, openbare gesondheidskonsultant in Johannesburg

“Covid-19 en die gevolge van die inperking het my sensitief gemaak teenoor ander. Eerstens, dat onverantwoordelike of moedswillige gedrag van my (soos om nie ’n masker te dra nie) ander negatief kan beïnvloed (waarvan ek waarskynlik nie sal weet nie). Die modernisme se mantra dat jy net vir jouself lewe en moet doen soos dit vir jou gerieflik of gemaklik is, is bog. Ons as skepping is een liggaam en aan mekaar verbind, al wil ons dit nie glo nie.

“Dalk soos enige ander krisistyd, raak mens sensitiewer teenoor ander se omstandighede, middele en geestesgesondheid. Mense het hul werk verloor, was eensaam en hanteer dit op verskillende maniere, is gespanne oor familielede wat siek word . . . “be kind, always, for every one is fighting some battle you may not know of”.

Werner EsterhuyseFoto: Verskaf

Werner Esterhuyse, Durban

“Party dae is ek kwaad vir die Here.”

Ek sukkel om te bid. Ek weet Hy het met Covid-19 iets vir die wêreld probeer sê. Ek glo dit vas.

Hier in Durban staan daar bedelaars by elke verkeerslig. Armoede sien jy duidelik. Maar ek het ’n kalmer mens geraak.

Ek is een van daardie mense wat glo ek raak nie siek nie en het nie ’n mediese fonds nodig nie.

Ek was op 26 Maart na die dokter. Longontsteking is by my gediagnoseer. ’n Paar dae later word ek in die Pelomomi-hospitaal opgeneem.

Toe ek vir die medic in die ambulans vra waarheen gaan ons en sy sê Pelomomi, toe neem ek ’n foto van myself. Ek het vas geglo nou gaan ek dood. Vier dae later en die drips word nie meer volgemaak nie. My kinders kom haal my en ek lê vir ’n dag by hulle in die huis.

Toe word ek na die Mediclinic geskuif.

Ek kry baie suurstof want in daardie stadium voel dit asof iets op my bors sit.

Tot nou toe weet ek nie of dit Covid-19 was nie.

28 Maart was nog te vroeg vir die mediese mense om te onderskei tussen longontsteking en Covid-19.

Toe die bank my bakkie terugneem, was dit asof ’n ligte siddering deur my gegaan het, en ’n dag later het ek besef die Here het my lewe gespaar.

Nog vyf dae later is ek uit die Mediclinic ontslaan.

Op my ontslagvorm staan geskryf: Longontsteking? Covid-19?

Ek was baie deurmekaar toe ek uit hospitaal kom. Skielik het ek my in die inperking bevind.

Dis was asof ek in ’n ander wêreld ingestap het.

Net soos dit deesdae voel met die plaasmoorde. ’n Ander wêreld.

Ek bedank ook nog in daardie tyd uit my pos as finansiële bestuurder. Ek bly heel deurmekaar, met geen eetlus nie. Vyf maande werkloos.

Ek het werk gekry in Durban by ’n swart konstruksiemaatskappy.

Ek was ’n week in Durban toe lê die bank beslag op my bakkie.

Ek het in 2017 in Zanzibar tussen Moslems gewerk. My rekenmeester was ’n Moslem en van kop tot tone bedek.

Ek het altyd gewonder of sy ooit glimlag. Ook nou sien ’n mens nie meer ’n glimlag nie.

Covid-19 het my lewe vir altyd verander. Ek sien dinge anders. Materiële goed maak nie meer vir my saak nie. Ek werk nie meer deur die nag nie. Om te lewe is nou meer werd as ’n mooi ryding, of ’n pos met ’n mooi titel. Voorheen sou van die goed my vreeslik ontstel het.

Toe die bank my bakkie terugneem, was dit asof ’n ligte siddering deur my gegaan het, en ’n dag later het ek besef die Here het my lewe gespaar.”

Marianne Valentine, Johannesburg

“Ek het ontdek dat ek nie naastenby so ’n goeie introvert is as wat ek altyd in die Before Time (soos ek op Twitter geleer het om te verwys na die tyd voor #LockdownSA) gedink het ek is nie. Ek het naderhand op #level5 só gesmag na die fisieke geselskap van ander mense, al luister ek net na hul praatjies en sê self bloedweinig.

En ek gee al weer mense drukkie, maar die gewer en die ontvanger van die drukkie móét verkieslik gemasker wees.”

Kleurvolle maskers is ‘n nuwe modegier.Foto: Gerda Niemann

Gerda Niemann, radio-omroeper van Bloemfontein

“Aan die begin was die maskers mooi, kleurvol en het min of meer by die meeste uitrustings gepas. Nou nie meer nie. Die een wat die naaste of gemaklikste is, moet werk. Die koronavirus het ons samelewing se karaktertrekke kom onderstreep. Die kaf en die koring is geskei – jy volg die reëls of jy volg dit nie. Jy gee om vir jouself en jou medemens – of nie.

Ons aanpasbaarheid is verbysterend en ons het seker byna volpunte daarvoor gekry. Hoe aanpasbaar ons gaan wees met die groter gevolge op, byvoorbeeld die ekonomie, sal ons sekerlik binnekort duidelik begin sien.”

Meer oor:  Coronavirus  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.