Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Draf apart en tog tesame

Getroue drawwers sal altyd ’n manier vind om aan hul geliefde padwedlope deel te neem. Dís hoe virtuele wedlope al hoe meer momentum kry, skryf Alet Wichmann.

In die tyd voordat Covid-19 ons wêreld onderstebo kom keer het, het drawwers elke naweek in hul massas aangetree vir padwedlope. Dan’t hulle skouer-aan-skouer saamgedrom voor die wegspring. Wanneer die skoot klap, was daar natuurlik ’n klompie wat met ’n spoed wegtrek om te wen, maar die meeste het skuifelend en al geselsend begin vorentoe beur in die bondel. In vandag se tye is so ’n opmekaarspul natuurlik onaanvaarbaar.

Maar waarvoor oefen ’n mens as daar nie wedlope is nie, sal die drawwers jou vra. Gevolglik het virtuele wedlope momentum gekry. Dis wanneer ’n drawwer inskryf vir ’n spesifieke wedloop, maar dan die bepaalde afstand op sy eie tyd hardloop en net sy resultate digitaal inhandig. Party organiseerders vereis dat jy dit op ’n spesifieke dag en tyd doen, maar ander gee jou meer grasie.

Blanche Moila
Blanche Moila, die eerste swart vroueatleet wat in 1984 Springbokkleure verwerf het, het haar Race the Comrades Legends- virtuele wedloop in Durban gehardloop. Foto: Darren Stewart

Die meeste mense hoor nou die eerste keer van hierdie verskynsel, maar virtuele wedlope is niks nuut nie. “Dit het in 2014 in China begin en in 2015 ook in die VSA en Brittanje posgevat,” vertel Neil Cameron, stigter van BoutTime, wat sedert 2017 Virtualrun.co.za, ’n platform vir virtuele wedlope, bedryf.

Voorheen het net atlete wat ’n wedloop misgeloop het as gevolg van die ligging daarvan, familieverpligtinge of siekte die virtuele opsie gekies. Só kon hulle steeds daai ná-wedloop-satisfaksie-gevoel ervaar en boonop ’n medalje hê om dit te bewys.

Virtualrun.co.za se eerste virtuele wedloop was die Prestige Trail Run-reeks van 2018. Die werklike veldwedlope het rondom Pretoria plaasgevind, maar sowat 30 drawwers het dit in Brittanje, die VSA, Duitsland en elders in Suid-Afrika voltooi.

Dit neem eksponensieel toe

Volgens Neil is virtuele wedlope baie gewilder in ander lande Z in Amerika is dit reeds ’n bedryf van sowat $55 miljoen, sê hy Z maar tot onlangs nog het Virtualrun.co.za maar sowat 400 inskrywings per jaar gehad. Dit het egter die laaste paar maande met 500% toegeneem, sê Neil.

Al is die 95ste Comrades-ultramarathon gekanselleer, het meer as 43 000 drawwers van 102 lande op 14 Junie aangetree vir die aangepaste Race the Comrades Legends- virtuele wedloop. Jy kon kies uit vyf afstande, vanaf ’n skamele 5 km tot die gewone 90 km. En almal het ’n spesiale medalje ontvang as hulle hul afstand suksesvol afgelê het.

Met virtuele wedlope gaan dit baie meer oor die samesyn en pret as oor jou stamina en tyd.

“Virtuele wedlope is sosiale geleenthede, vir geldinsameling of sommer net vir die pret om jou goodie bag, T-hemp of medalje te verdien,” sê Neil. Met sosiale geleenthede bedoel hulle byvoorbeeld jy mag in ’n groep hardloop, mits jy die regulasies nakom en ’n fisieke afstand handhaaf.

Daar’s ook talle kleiner wedlope wat jy met ’n vinnige Google-soektog kan opspoor. Een hiervan, die Run Free Virtual 5 k, het op Sondag 3 Mei altesaam 166 inskrywings getrek.

“Almal het weggespring en die afstand voltooi,” vertel een van die organiseerders, Gerrit Pieterse.

Daar’s ook nog heelwat wedlope wat vir vanjaar beplan word.

Virtuele wedlope is sosiale geleenthede, vir geldinsameling of sommer net vir die pret om jou goodie bag, T-hemp of medalje te verdien.

Die volgende Run Free-wedloop word binnekort bekend gestel. Jy sal kan kies tussen 5 km, 10 km of 21.1 km en in plaas van ’n medalje, sal jy ’n plakkaat ontvang wat die roete wat jy gehardloop het grafies uitbeeld. Hierdie plakkate word deur plaaslike ondernemings vervaardig. “Só ondersteun ons klein sakeondernemings, soos onsself, tydens die pandemie wat sy tol eis,” sê Gerrit en voeg by dat dit ’n gulde geleentheid is om ’n kunswerk te skep met ’n kreatiewe roete wat ’n prentjie teken.

Die jaarlikse Sanlam Kaapstad-marathon is ook vanjaar verander in ’n virtuele wedloop wat op 18 Oktober plaasvind. Duisende atlete het reeds ingeskryf om die 42,2 km, 21,1 km, 10 km of 5 km op daardie dag aan te pak.

Vir hierdie wedloop moet jy hul spesiale app aflaai en saamneem op jou drafsessie. Dit neem jou dan op ’n digitale reis wat nie net in reële tyd vir jou wys hoe jy vorder nie, maar ook waar jy sou trek indien jy die dag in Kaapstad sou draf.

Verder is daar byklanke wat jou laat voel asof jy werklik vir die ware marathon aantree. Jou wedloop begin soos elke jaar met die aansteek van die vredesfakkel, die sing van die volkslied en die skoot wat klap. Wanneer jy verby bekende landmerke soos die stadsaal “draf”, is daar ’n stem wat interessante feite deel en op die promenade sal jy seemeeue hoor.

Neem jou tyd

Soos reeds genoem gaan dié wedlope meer oor of jy dit geniet as ’n rekordtyd.

Van die organiseerders vereis dat jy spesifieke apps gebruik om jou tyd en afstand te bepaal, maar ander aanvaar amper enige vorm van tydhou, tot om sommer jou tyd op ’n stophorlosie te neem en dan ’n foto daarvan in te stuur.

Jy hoef ook nie stoksielalleen te hardloop nie, maar onthou dat jy en jou drafmaat aan die regulasies moet voldoen en ’n fisieke afstand handhaaf.

'n Eerste vir baie

Rapport se adjunkredakteur, Inge Kühne, is een van die drawwers wat vanjaar haar eerste virtuele wedloop aandurf wanneer sy vandag vir die Joburg North City Marathon se 21.1 km aantree. Dié wedloop word gereël deur die RunZone-klub in Fairland, Johannesburg, en sou eintlik in April plaasgevind het.

“Ek het al ’n paar 10 km-wedlope gedoen en het die laaste paar jaar saam met die klub geoefen, maar sedert die hardloopklubs gesluit het weens die inperking, het ek nog altyd alleen geoefen,” sê Inge, wat vandag ook op haar eentjie die halfmarathon aandurf.

“My gesin gaan darem vir my by vier afgespreekte plekke wag met drinkgoed en ook bietjie morele ondersteuning verskaf.”

Inge vertel sy gaan die energie mis wat mededrawwers tydens ’n wedloop aan ’n mens gee. Haar ander groot bekommernisse was die tekort aan waterpunte (wat haar gesin vir haar opgelos het) en om haar eie roete te beplan. “Omdat ek alleen hardloop, wil ek nie in ’n onbekende omgewing hardloop nie. Maar 21 km is ver en dis nogal ’n uitdaging om genoeg pad te kry sonder om te ver van die huis af te hardloop.

“Ek het in die laaste paar weke met roetes geëksperimenteer en ek is nou tevrede dat die pad nie sal opraak voor die 21,1 km verby is nie.”

Sy erken dat sy nie voorheen sou kies om ’n virtuele wedloop te doen nie, maar dat sy besef dis die situasie waarin almal hulle bevind en beplan om die beste daarvan te maak.

“Daar is wel voordele. Jy kan hardloop wanneer dit jou pas. Ek verkies om ’n bietjie later weg te spring as die weer koel is. Jy hoef nie te sukkel om parkeerplek by die wedloop te kry nie, en noudat al hoe meer wedlope virtueel aangebied word, kan jy aan wedlope ‘deelneem’ wat andersins ver buite jou bereik is.”

Meer oor:  Draf  |  Oefen  |  Covid-19  |  Virtuele Wedlope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.