Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Drie droogte-vrae aan ’n skaapboer

Baie mense sal dankbaar wees wanneer 2019 oor ’n paar dae 2020 word, en hulle kan sê die moeilike jaar is agter die rug. Die droogte gaan egter nie oornag verdwyn nie. Desnieteenstaande bly hy hoop, sê Guillau du Toit, voorsitter van die nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV). Lourens Schoeman het met hom gesels. 

Foto ter illustrasie.

Hoe sal jy die stand van sake aan die einde van 2019 opsom?

Dis amper soos ’n dag van harde hande-arbeid wat ten einde kom. ’n Mens is tevrede met wat jy vermag het, jy het jou beste gelewer, en sien nou uit na ’n nag se rus. Al die probleme is nie opgelos nie, maar jy het gedoen wat binne jou vermoë was en moet daarmee verlief neem.

Na aanleiding van menslike voorspellings gaan ons 2019 met droogte afsluit en 2020 met droogte begin. Dit is ’n natuurtoestand en nie in ons hande om te beheer nie, maar dit laat ’n mens toe om te beheer wat binne jou vermoë is.

Só sal 2020 se nuwe dag ontwaak, maar steeds met knellende realiteite en groterwordende uitdagings. Die afgelope tyd se kol-kol neerslae het moed gegee, maar nie probleme opgelos nie. Die grootste gedeelte van die uitgebreide veegebiede in die Noord-, Wes- en Oos-Kaap het reën en reën en opvolg na opvolg nodig om te kan herstel.

Volgens reënvalstatistieke is hierdie dele al deur verskeie droogtesiklusse. Statisties duur die siklusse gemiddeld van 3 tot 7 jaar. Die langste siklus was gedurende die depressiejare. Dit het agt jaar geduur. Groot dele in die Karoo is tans in sy sewende jaar van ’n droë siklus. Hoe kan ons anders as om te glo die einde is in sig? Elke dag beslis nader aan die reën.

Bewys my verkeerd!

Waar gaan die boere se hulp in 2020 vandaan kom?

As ons ons hoop op die regering plaas, is ons gedoem! Die regering het die landbouers van Suid Afrika in die steek gelaat.

Ons soek nie aalmoese nie, ons soek ondersteuning om die hulpbron wat kos vir die land moet voorsien, te bewaar.

Dit behoort ’n langtermyn strategie te wees en te alle tye in stand gehou word. Dit lyk egter nie of die regering erns met hierdie situasie gaan maak nie. Hoe gouer ons besef ons is op onsself aangewese, hoe beter kan ons beplan.

Ons boeregemeenskap is onder druk, maar hoe meer ’n mens onder druk is, hoe meer kom die kreatiwiteit na vore.

Ons het die afgelope jaar ervaar hoe produsente vir mekaar sorg, hoe die publiek se harte en hande oop is om mekaar te ondersteun. Ons Landbou-organisasies doen baie meer as wat die regering kan hoop om te doen om produsente se las te verlig. Dis waar ons ons gewig moet ingooi om ’n verskil te maak.

Die empatie van gemeenskappe teenoor mekaar, skenkings, gebede en morele ondersteuning dra dié wat gebuk gaan onder die droogte.

Dit is die dinge wat ons kop bo water laat hou.

Ek hoop van harte alle finan­siële instellings sal met empatie na hul klante omsien en saam planne sal maak om boerderye by te staan om ’n natuurramp te oorleef.

Niemand is op sy eie bestand teen die enorme eise wat die natuur kan stel as dit by rampsituasies kom nie.

Watter raad het jy vir boere vir die komende jaar, sodat hulle kan vasbyt en moed hou?

Elke boerdery is uniek. ’n Mens het kwalik raad vir jou eie omstandighede en omdat situasies verskil, is elkeen maar op homself aangewese vir planne en strategieë.

Ek dink die regte ding om te doen is om voortdurend jou eie situasie te evalueer en daarvolgens te handel. Realistiese besluite is partykeer die moeilikste om te neem, omdat daar te veel emosies by betrokke is.

Omring jou met praktiese advies en as jy ’n besluit geneem het, voer dit uit. Sorg dat jou familie en vriende weet wat jou posisie is, want jou ondersteuningsbasis is jou reddingsboei.

Ons is almal vol hoop dat die droogte in die eerste helfte van 2020 heeltemal gebreek sal word, maar totdat dít gebeur, moet ons stappe neem om onsself geestelik en finansieel te beskerm teen ondergang.

En hou moed dat 2020 in die langverwagte jubeljaar sal ontluik!

Meer oor:  Droogte  |  Skape  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.