Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Driekamp-ster met stent in hart na wêreldkampioenskap

Drie jaar nadat ’n oud-Bloemfonteiner ’n stent in die hoofaar in sy hart gekry en ’n jaar nadat hy erg beseer is toe hy met sy fiets geval het, vertrek hy binne ’n week na Lausanne, Switserland, om ná jare weer aan die driekamp-wêreldkampioenskap deel te neem.

Franna Vorster (50), ’n pa van vier, bly die afgelope ses jaar in George nadat hy sy lewe lank ’n Bloemfonteiner was.

Franna Vorster (50) in aksie by die swembad waar hy vir die driekamp-wêreldkampioenskap oefen.Foto: Verskaf

In die Suid-Kaap het die ongeluk hom behoorlik gery en moes hy onder meer geopereer word weens ’n oorerflike hartprobleem en ’n stent kry.

Boonop het hy verlede jaar met sy fiets in die berge geval en sy sleutelbeen gebreek en sy regterelmboog gekraak.

Dit was nadat hy in 2017 sy dyspier geskeur het toe hy in ’n danskompetisie probeer het om die spreibeen-sak te doen (te “split”) .

Die droom van ’n vriend, Johnny Veitch van Harrismith, net soos hy ’n oud-Grey en oud-Kovsie, het hom ná die terugslae weer op sy voete gehelp.

Volgens Veitch het die Here in die droom aan hom gesê Franna “leef en is nie besig om te sterf nie”.

Dit was volgens Vorster die aansporing wat hy nodig gehad het om ná sy terugslae weer mededingend deel te neem.

Vorster het vroeër in sy lewe al aan agt driekamp-wêreldkampioenskappe deelgeneem – die laaste een 13 jaar gelede.

Franna Vorster hardloop as deel van sy oefenprogram vir die driekamp-wêreldkampioenskap in Switserland.Foto: Verskaf

Hy sê hulle is ’n klompie Suid-Afrikaners wat aan die wêreldkampioenskap deelneem. Twee deelnemers word in elke ouderdomsgroep gekies. Hy neem in die ouderdomsgroep 50 tot 54 deel.

Sy pad met driekamp het sedert sy studentejare ’n geestelike element gehad.

As student het hy op ’n keer in die swembadbodem vasgeduik en sy sewende servikale werwel gebreek.

“My dokter het gesê as die werwelbeentjie na binne gebreek het, sou ek verlam gewees het. Dit was die eerste keer dat ek die Here beloof het dat ek altyd aan driekamp sal deelneem om Sy Naam hoog te hou,” vertel Vorster.

Franna Vorster by sy fiets. Hy oefen graag in die berge in die George-omgewing.Foto: Verskaf

Nadat hy onderwys aan Kovsies gestudeer het, het Vorster by verskillende Bloemfonteinse skole skoolgehou.

Hy werk nou as gimnasium-instrukteur by die Virgin Activ-gimnasium in George waar hy ook swem en driekamp afrig. Sy vrou, Riana, werk saam met hom en rig ook swem af.

Vorster oefen hard, twee tot drie keer per dag vir ’n uur of twee per sessie, en op Saterdae langer wanneer hy gewoonlik drie uur lank fietsry. Sondae rus hy.

“Ek eet ook baie, so vyf keer per dag, maar is nie op poeiers of energiedrankies aangewese nie. Ek sal liefs heuning en suurlemoensap in my bottel aanmaak of appelsap en rooibostee. Verder eet ek vleis, slaai, boerekos, biltong en droëwors.”

Hy swem deesdae beter as ooit, maar hardloop en ry nie meer so vinnig fiets soos vroeër jare nie.

“Ek hou daarvan om in die Outeniekwa-berge by George te oefen, maar gaan ry ook soms die Montague-pas uit, soos onlangs saam met my oudste kind, Josua (14), wat ook vanjaar aan die driekamp-kampioenskap in Durban deelgeneem het.”

Vorster is uiters dankbaar teenoor mense wat hom geldelik ondersteun sodat hy weer aan die wêreldkampioenskap kan deelneem. “Baie is Bloemfonteiners, soos familie, vriende en oud-skoolmaats.”

* Vorster se skoonpa is Sam de Klerk, voorsitter van die Bloemfonteinse Kultuurvereniging, en sy ma is dr. Dirkie Vorster (Stander), wat diep spore in huisartskunde in Bloemfontein getrap het.

Franna Vorster op sy fiets. Foto: Verskaf
Meer oor:  Switserland  |  Sport  |  Driekampatleet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.