Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Één met die land

“Begrawe my onder ’n kameeldoringboom,” het JH Pierneef versoek “met sy sterk, manlikheid wat oor my waak en sy wortels diep gesetel in Afrika-grond”. Carla Lewis skryf oor dié ikoniese kunstenaar se nalatenskap.

Pierneef was innig lief vir die Bosveld, dis amper of die kunstenaar ’n atavistiese band met dié streek en sy landskap gehad het.

Hy het met elke moontlike geleentheid weggebreek Bosveld toe waar hy sketse gemaak het van die landskap; stapelwolke wat teen laatmiddag oor die veld pak; elegante rooiseringbome met hul sierlike takke en welige blarekroon; ’n drolpeer getooi in ’n sluier wit bloeisels.

Pierneef het egter nie en plein air gewerk nie. Nadat hy sy onderwerpe geskets het, is hy is terug ateljee toe waar hy sy bome, berge en wolke in hoogs geordende landskappe gerangskik het.

Die kunstenaar wou graag ’n argitek word, maar sy ouers, wat weens die Anglo-Boereoorlog in ballingskap in Nederland was, kon dit nie bekostig nie. Hy het wel tekenklasse by ’n afgetrede argitek in Hilversum, Nederland, geneem.

Die argitektoniese invloed is duidelik in sy kuns – daar is amper ’n wiskundige, uitgemete harmonie aan sy skilderye, of hy nou die dramatiese rotsformasies van die Vallei van Verlatenheid of ’n hawetoneel aan die Afrika-ooskus skilder.

Verkrampte landskappe?
“Bosveld” (olie op doek) is vanjaar op ’n Strauss & Co-veiling vir R10,2 miljoen verkoop. Daar word bespiegel dat hy die inspirasie daarvoor in die verre noorde van vandag se Limpopo, iewers langs die Luvuvhu- of Limpoporivier, gekry het.

“Pierneef het ongelukkig ook ’n naam gekry as die verpersoonliking van Afrikaner-nasionalisme en apartheidsideologie,” sê Wilhelm van Rensburg, kurator van die 2015 Pierneef-retrospektief A Space for Landscape en ’n kunskenner by die afslaer Strauss & Co.

Kunshistorici en kritici, veral in die 80’s en vroeë 90’s, het sy werk as ’n uitdrukking van Afrikaner-nasionalisme en ideologie beskryf. Daar is gemeen sy “beherende blik op die landskap” en sy “sin van elegante simmetrie” gee gestalte aan die 20ste-eeuse Afrikaner se oortuiging dat hulle die reg het om die land te beheer, te besit en te orden.

Wilhelm meen dit was ’n onregverdige toeëiening. “Met die retrospektief het ek dieper navorsing oor die sieninge gedoen en tot die gevolgtrekking gekom dat dit ’n wanvoorstelling is.

“Ongelukkig, omdat sy werke so eg-Suid-Afrikaans is, was dit maklik vir die Afrikaner-nasionaliste om hom as een van hulle toe te eien ná sy dood.”

J.F.W. Grosskopf, een van Pierneef se biograwe (en volgens sommige hagiograaf), het ook in sy boek Hendrik Pierneef: Die man en sy werke geskryf die skilder was nie een wat witvoetjie gesoek wanneer dit by goedkoop nasionalisme gekom het nie.

Die Kommandoboom, op pad na SibasaFoto:

“Kuns wat werklik nasionaal is, moet uit jou eie omgewing en jou eie grond strek,” het hy gesê. Pierneef het ook groot bewondering gehad vir die San-kuns, iets waaroor hy dikwels bespot is.

Die skilder het ’n paar vroue na hul pêrels laat gryp toe hy in 1938 as spreker by die Pretoriase Vroueklub aangevoer het die Afrikaner-kultuur is oppervlakkig. “Die enigste manier,” het hy gesê, “hoe ons daadwerklik Afrikaanse kuns in die land sal bevorder, is om al die Afrikaners in konsentrasiekampe toe te sluit en elke naaimasjien van die vrouevolk te vernietig.”

Die lyding van die Afrikaner-vroue in die Anglo-Boereoorlog was nog vars in die gemeenskaplike Afrikaner-geheue.

Wilhelm sê dit was die reaksie van die breër publiek op Pierneef se werke wat hom laat glo dat dit ’n hedendaagse betekenis vir alle Suid-Afrikaners, wit of swart, inhou. “Tydens die retrospektief in 2015 het ek spesifiek met elke rondleiding – en ons was gelukkig dat die uitstalling deur ’n diverse groep Suid-Afrikaners besigtig is – vir die besoekers hul mening oor die kunswerke gevra. Wat my bygeval het, was dat jong swart mense veral aanklank hierby gevind het.”

Wilhelm het hulle ook gepols oor die politiek agter die kunswerke en aldus hom het die meeste jong swart mense ’n positiewe ervaring van die werke gehad. “Jy moet ook onthou, die uitstalling is gehou tydens die hele Rhodes Must Fall-beweging.”

Wilhelm glo ook, ondanks die huidige diskoerse oor identiteitspolitiek, het die publiek se verbeelding ’n kopskuif ondergaan. “Ná daardie uitstalling het Pierneef se werke ook uitstekend begin vaar op die kunsmark; sy werke het rekordpryse bereik.”

Die waarde van Pierneef in die Suid-Afrikaanse kunskanon het nuwe betekenis verkry en plaaslike en internasionale museumkurators het met nuwe oë na die konteks van sy werke begin kyk.

“Sy kunswerke is ingesluit by belangrike internasionale kunsuitstallings; een van die belangrikes was die Art of a Na-tion-uitstalling in 2016 by die Britse Museum. Een van sy Bosveldtonele, Boom in die Bosveld (1930), is saam met Esther Mahlangu se Ndebele-BMW en die Mapungubwe-renoster uitgestal.”

’n Hunkering na grond
“Landskap” (olie op doek). Hardekoolbome het vir Pierneef ’n spesiale betekenis gehad; hy het hulle gesien as die patriarge van die Bosveld.

Hoewel grond een van die groot politieke twispunte in die Suid-Afrikaanse konteks is – of dit nou by landbou, politiek of kuns kom – is die hunkering daarna ’n universele verskynsel.

Pierneef se liefde vir die Suid-Afrikaanse landskap is iets waarmee enige Suid-Afrikaner kan identifiseer. Die meeste van sy skilderye is dalk gestroop van menslikheid, maar dis waar sy bome die leemte vul – hulle staan in as onderwerp; met hul eie, unieke karaktertrekke.

Volgens P.G. Nel, skrywer van die boek J.H. Pierneef: Sy lewe en sy werk sou die skilder ’n boom so fyn bestudeer “dat hy so goed vertroud met dit sou wees soos ’n skrynwerker die grein en tekstuur van sy hout leer ken”.

Hy kon die vorm en wese van elke boom vaardig weergee, of dit nou in die eenvoudige lynstudie van ’n linosnit was of die fyn cloisonné-kwaswerk van een van sy groter, meer monumentale werke.

Grosskopf beskryf sy voorbereidingstegniek soos volg: “Pierneef het geglo in harde werk en geduldige voorbereiding. Wanneer hy een van ons Suid-Afrikaanse bome, spesifiek een van die Bosveldbome waarvoor hy so lief was in een van sy meer dekoratiewe skilderye uitgebeeld het, weet dié wat hom ken dat hy honderde sketse gemaak het in die fynste detail. Hy het die wortels geteken wat die aarde vasklem, en die bome se blare, dorings, bloeisels en saadpeule met die akkuraatheid van ’n botanis.”

Volgens Nel het die kunstenaar bome beskou as die lewenskrag wat tussen hemel en aarde vloei.

Vir Pierneef was die hardekool die patriarg van die Bosveld – ’n deurwinterde grysaard en kanniedood. In sy Bosveldtonele is hulle ankers in die landskap – ’n standvastige verskynsel wat weerlig, termiete en droogte kan weerstaan.

Dié skildery van ’n kremetartboom is in 2008 vir byna R18 miljoen verkoop op ’n Bonhams-veiling in Londen.

“Ek hou van die hardekoolboom, dit kan tot in ewigheid staan,” het hy aan die kunstenaar Zakkie Eloff gesê.

Sy kremetarte was mitiese kolosse, anderwêreldse wysgere wat alles om hulle in die skildery verdwerg. Sy kremetartskilderye het ’n boaardse atmosfeer, of hy die statuur, ouderdom en oervorm van die bome wou beklemtoon.

In teenstelling daarmee is sy geliefde rooiseringe amper vroulik, delikaat en sensueel in hul uitbeelding. Hul stamme boog en draai, met duidelike invloede van die Jugendstijl-beweging se fyn lynwerk. Hul blaarkroon is ragfyn dog welig, kenmerkende silhoeëtte van ’n Bosveldlandskap.

Pierneef se kennis van inheemse bome, asook sy begrip vir die Suid-Afrikaanse landskap, maak sy werke amper meevoerend.

Bosveld, wat op ’n veiling verkoop is vir R10,2 miljoen, voer jou dadelik weg na ’n hoogsomer-laatmiddag iewers in Limpopo: Tipiese oewerwoud met anabome en fier mopanies met roesrooi spatsels tussen hul vlindervormige blare. Daar is ’n hardekool en die rooiseringe met hul welige pompom-krone.

Jy kan byna die toneel ruik. Teen laatmiddag sal die aartappelbos sy kenmerkende aardse reuk van gekookte aartappels begin vrystel. Die gryspers wolke dui op ’n donderstorm wat pas vet druppels op die rooi Transvaalgrond uitgestort het.

Meer oor:  Pierneef  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.