Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Bewaring:
Een voor die stropers

In die Krugerwildtuin is dit ’n voortdurende stryd om die diere te beskerm. Riana de Lange ondersoek die maniere waarop dit gedoen word.

Scent, een van die Dobermann-bloedhond-kruisings, saam met Johan de Beer, bestuurder van die honde-eenheid in die Krugerwildtuin. foto: Riana de Lange

Speurder Snoet

Spoorsny-honde, versteekte veldkameras wat renosters monitor, ’n boma vir renosters wat stropery oorleef het, en veldwagters, wat weekliks patrolleer om duisende onwettige valstrikke te verwyder, vorm deel van die Krugerwildtuin se voortgesette stryd teen wildstropery.

Die speurhonde is verreweg die suksesvolste teen renoster- en wildstropers, sê Johan de Beer, bestuurder van die Krugerwildtuin se honde-eenheid met sowat 20 honde. Meer as 90% van die mense wat in hegtenis geneem word, is danksy die hulp van die honde-eenheid vasgetrek.

Die wildtuin het in 2012 honde as spoorsnyers begin gebruik. Johan sê hy het mettertyd Dobermann-bloedhond-kruisings begin oplei omdat hulle baie suksesvol is om die stropers op te spoor voordat hulle die diere skiet. Voorheen het veldwagters op skote gereageer, maar die benadering is nou voorkomend.

Dié honde kan ’n 22 uur oue spoor volg en oor ’n afstand van tot 44 km. Die hond sal so 6 km op ’n slag doen en dan rus. Die honde kan ook afgewissel word as hulle te moeg word, sê Johan.

Honde word ook gebruik by ingangshekke na die wildtuin om onwettige produkte soos ivoor en renosterhoring uit te snuffel.

Hoe beter ons hulle verstaan, hoe beter kan ons hulle beskerm.

In ’n strik gevang

Johan en spanne veldwagters doen ook gereeld patrollies om letterlik duisende onwettige valstrikke te verwyder wat ’n al hoe groter probleem in die wildtuin word. ’n Paar naweke gelede is sowat 200 strikke binne sowat 1 km gekry in ’n voetpad wat veral rooibokke gebruik. Dis nie ongewoon om tot 3 500 strikke per maand te verwyder nie, maar ná ’n paar dae is daar nuwes, sê Johan.

Die strikke word meestal gestel langs die wildtuin se grens met aangrensende gemeenskappe naby Pretoriuskop, Malelane en Skukuza en by Pafuri wat aan Zimbabwe grens.

Die strikke, meestal van bloudraad en kabels, het ’n lus en een punt word aan ’n boom vasgebind. Wanneer ’n bok verbyloop, gaan die lus om die rooibok of koedoe se nek of horings en trek al hoe stywer as die dier begin spartel om dit af te kry.

Johan raam sowat 20 bokke per week word so gevang en vrek weens ’n pynlike versmoring.

Dis duidelik die wildstropery is nie ter wille van kos vir oorlewing nie, want hulle sien dikwels dat van die vleis net daar gelaat word om te vrot. Die vleis word buite die park vir kommersiële gewin verkoop.

Strikke vir groot diere soos buffels, olifante en selfs seekoeie word ook gestel. Daar was al gevalle van ’n olifant se slurp wat deur so ’n valstrik afgesny is, olifante met die strikke aan hul pote wat deur die veld sukkel en ’n buffel wat ’n swaar houtstomp, waaraan die strik vasgebind was, agter hom aansleep. Diere soos leeus, hiënas en aasvoëls word gevang om sekere produkte aan sangomas te verkoop.

Johan glo hulle maak vordering teen die stropery, maar dit neem soms net ’n dag voordat stropers nuwe strikke stel. Die ergste straf hiervoor is sowat vyf jaar en is dus nie genoeg van ’n afskrikmiddel nie.

Goose, die effens befoeterde inwoner van die versorgingsboma. foto: Mariana Balt, Hazyview Herald
’n Hoop valstrikke, meestal van bloudraad, wat veldwagters oor ’n naweek binne ’n gebied van sowat 1km in die Krugerwildtuin gevind het. Dié onwettige strikke word gewoonlik geplant in voetpaaie wat rooibokke gebruik om dié diere te vang. So vinnig as wat die strikke verwyder word, word nuwes aangebring, sê die veldwagters. Foto: RIANA DE LANGE

Die getalle lyk belowend

Enact, ’n organisasie gefinansier deur die Europese Unie, bestry transnasionale georganiseerde misdaad en die negatiewe impak daarvan op ontwikkeling en veiligheid. Volgens sy webblad maak wildlewe-misdaad ’n geraamde 21% van georganiseerde misdaad in Afrika uit.

Bemoedigende syfers van die departement van omgewingsake is dat renosterstropery in Suid-Afrika verlede jaar vir die derde agtereenvolgende jaar afgeneem het: 769 gevalle is aangemeld teenoor 1 028 renosters wat in 2017 vir hul horings afgemaai is.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, het einde Julie op Internasionale Veldwagterdag gesê in die eerste ses maande van 2019 is 318 gevalle van renosterstropery landwyd aangemeld. Dis 68 minder gevalle as in die ooreenstemmende tydperk in 2018. Oor dieselfde tydperk is 253 vermeende stropers en handelaars in renosterhoring landwyd gearresteer, 122 van hulle in die Krugerwildtuin.

Swart renoster, glimlag vir die kamera

Volgens die Wêreldnatuurfonds (WWF) het die getal swartrenosters in die wêreld danksy bewaringspogings van 2 410 in 1995 tot meer as 5 000 vandag gestyg. Die getalle swartrenosters in die wildtuin het ook aansienlik gegroei.

Dr. Cathy Dreyer, ’n spesialis oor die Krugerwildtuin se swartrenosters, sê ’n program waardeur die beweging en gedrag van swartrenosters deur versteekte kameras gemonitor word, is waardevol.

“Hoe beter ons hulle verstaan, hoe beter kan ons hulle beskerm.”

Tientalle kameras in stewige metaalomhulsels is oor ’n groot gebied in die wildtuin aangebring. Dit word aan bome vasgemaak en van die kameras is gestel om elke vyf sekondes ’n foto te neem. Party het flitsligte, maar ander ’n swart flits wat nie sigbaar is in die nag nie.

Die kameras word een keer per maand gemonitor en die foto’s afgelaai. Sommige kameras het dan tot 12 000 foto’s op – van nuuskierige vlakvarke of rooibokke, tot hiënas wat ondersoek instel. Ondanks die metaalomhulsels, is ’n paar al deur olifante en seekoeie beskadig, sê Cathy.

Foto:
Die Zappar-app laat die diere op hierdie plakkaat in drie dimensionele vorm lewe kry. Dis ’n lekker manier vir kinders om meer te leer oor bewaring. Foto:

Die befoeterde Goose

Nog ’n hartroerende projek is die versorgingsboma vir renosters wat stropery oorleef het of kalfies wie se ma’s gestroop is. Die koeie in die boma word as surrogaat-ma’s vir die wesies gebruik om hulle veilig te laat voel, sê Tebogo Manamela, ’n veeartseny-tegnikus.

’n Bekende inwoner is die effens befoeterde Goose, ’n swartrenosterkoei van so tien jaar oud. Stropers het haar in September verlede jaar in die regteragtervoet geskiet. Sy is sedertdien in die boma, waar sy met antibiotika behandel word en die gips om haar voet elke twee maande omgeruil word. Sy vorder goed.

Brendan Cottrell, ’n assistent by die boma, sê dit is moeilik om te sê of sy weer in die natuur sal aanpas. Sy sal hopelik gebruik kan word vir aanteling.

Het jy geweet ’n Nylkrokodil kan tot 100 jaar oud word en die geliefde bergskilpad tussen 50 en 100 jaar?

Buiten dié interessante inligting op ’n reeks van ses muurplakkate wat te koop is om Sanparke in sy bewaringspogings te help, bied die plakkate ’n nuwigheid wat kinders se belangstelling sal prikkel.

Met ’n oulike app – beskikbaar vir Apple- en Android-fone – en danksy verrykte werklikheid kry die diere, voëls en reptiele op die plakkaat voor jou oë lewe.

Só maak jy:

1. Laai die Zappar-app via Apple se iStore of Google Play (vir Android) af.

2. Maak Zappar oop en hou jou foon oor die unieke zap-kode in die boonste regterkantste hoek op die plakkaat.

3. Skandeer die kode . . . en siedaar!

Die plakkate is ’n projek deur Total Suid-Afrika wat reeds die afgelope 60 jaar met verskeie projekte en skenkings bydra tot Sanparke se bewaringspogings.

Die plakkate met hul verrykte werklikheid is dus nie net prettig nie, maar help ook met opvoeding oor natuurbewaring, sê Total Suid-Afrika.

Die plakkate kos R56,35 stuk of R286,35 vir die hele reeks.

Vir meer inligting en aankope besoek www.total.co.za of https://sanparks.sapplive.co.za/product-category/posters/

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Beskerm  |  Stropers  |  Diere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.