Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Eers huiswerker, toe sakevrou

’n Voormalige huiswerker wat deesdae haar eie spysenieringsbedryf het, help nou behoeftiges eerder as om in sak en as te sit oor haar eie gebrek aan kos weens die inperking.

Paulinah Ramaktsa (48) van Bothaville in die Vrystaat sê die inperking het haar tot stilstand geruk omdat mense so swaarkry.

Renata Redelinghuys-Stols, ’n sakevrou van Bothaville, werk saam met Paulinah Ramaktsa nadat hulle hande gevat het met die Bothaville/Kgotsong-voedingskema, beter bekend as Die Sopkombuis, om kos by behoeftiges uit te kry. Foto: Cheréne Pienaar

“Met hierdie Covid-19 het ek die regte lewe gesien. Mense kry swaar. Elke sent wat ons kry, gaan reguit vir kos.”

Sy het destyds herbesin oor haar lewe toe haar werkgewer en die gesin by wie sy gewerk het, Durban toe getrek het.

Dit is kort nadat sy haar matriekjaar op 40-jarige ouderdom voltooi het en sommer ook haar rybewys gekry het.

“Toe ek nêrens werk kry nie, het ek maar groente by die taxi-halte verkoop.”

Omdat sy lief is vir kook en mooi goed, het sy besluit om ’n onthaaltent te koop en goedere te huur om ’n troue se dekor en spyseniering te behartig.

Dié geleentheid met 100 gaste was ’n dawerende sukses. Soveel so dat sy deesdae ook die dekor en spyseniering van begrafnisse, kombuisteepartytjies en nog geleenthede met gemiddeld 250 gaste behartig.

Paulinah Ramaktsa (48) sê haar wens vir Kgotsong is dat die inwoners hul eie besigheid begin, soos sy nadat sy vir jare ’n huiswerker was. Foto: Verskaf

Sy het deur die jare veral gewildheid vir haar geroomde spinasie verwerf. Een keer was daar nie kaas nie, en het sy noodgedwonge kaaskrulle gebruik, wat die gaste rasend vir haar geheime resep gehad het.

“Elke keer as ek ’n betaling ontvang, het ek nog iets vir die besigheid gekoop, en so het ek uitgebrei.”

Sy kon intussen ook ’n Toyota Hilux aanskaf om die goedere te vervoer.

Dit is met die einste bakkie wat sy nou behoeftiges help nadat sy hande gevat het met die Bothaville/Kgotsong-voedingskema, beter bekend as Die Sopkombuis. Sy gee nou Maandae tot Vrydae kos en klere af in Kgotsong, waar sy ook woon.

“ ’n Mens moet uit die hart gee of glad nie.”

Paulinah Ramaktsa (48) van Kgotsong by Bothaville in die Vrystaat help behoeftiges in dié nedersetting. Foto: Verskaf
Dit is hoe die dekor lyk nadat Ramaktsa ’n tafel beetgekry het. Foto: Verskaf
Dit is hoe die dekor lyk nadat Ramaktsa ’n tafel onder hande geneem het. Foto: Verskaf

Daar is baie vroue wat gereeld by haar huis kom vra of daar nie ’n geleentheid is waarmee hulle kan help nie.

“Ek bemoedig hulle dan eerder om hul eie ding te begin.”

Sy sê Michael (20), haar kleinseun wat in gr. 11 by die Vaal Reefs Technical Secondary School is en ’n slag met syfers het, help haar om die somme te maak wanneer sy ’n persentasie van die bedrag as deposito’s aanvra.

Die een wens wat sy vir Kgotsong het, is dat mense moet ophou soek vir werk en dinge self begin doen.

“Dan sal daar beter dinge vir almal voorlê.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.