Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Eerste vrou lei stoeiklub in SA

Bianca Taljaard (27) van Roodepoort het pas die eerste vrou geword wat die president van ’n amateurstoeiklub in die land word.

Sy is deur die Wes-Rand-stoeiklub benoem en is as president van Sentraal-Gauteng se stoeivereniging aangewys.

Taljaard is ook ’n gekwalifiseerde stoeiskeidsregter en dien as sekretaris van die Bears-stoeiklub by die Marks Park-sportklub in Emmarentia.

Bianca Taljaard

Sentraal-Gauteng bestaan uit vyf klubs – die Wes-Rand, Eagles, Ruiter, Danie van Zyl en Bears – wat almal onder Taljaard se bestuur val.

Dié prokureur se paadjie het toevallig met dié van amateurstoei gekruis toe sy saam met haar kollega Gerrie Grové in Kaapstad was om kliënte te besoek.

“Stoei het werklik ’n warm gevoel by my wakker gemaak. Ek en Gerrie was in Maart 2019 in die Kaap toe hy vir my vertel sy drieling is almal stoeiers. Ek was dadelik geïnteresseerd en het nie die geleentheid laat verbyglip om die Suid-Afrikaanse kampioenskap by die Velodrome in Bellville by te woon nie.

“Ek is dadelik vasgevang deur die sport en het begin ondersoek instel hoe om daarby betrokke te raak. Ek het as skeidsregter ingeskryf en kursusse begin bywoon. En dit is hoe ek betrokke geraak het,” vertel Taljaard.

Sy beskryf haarself as ’n dinamiese en hardwerkende persoon.

“Mense is geneig om te sê dat ek rigied voorkom, maar ek is iemand met ’n positiewe gesindheid wat altyd na ander sal luister. Die aard van my beroep as prokureur gee ’n mens maar ’n harde uiterlike, maar ek staan vir dit wat reg is in my beroep en ook in my persoonlike lewe,” sê Taljaard.

Haar grootste uitdagings in haar nuwe rol is om meer finansiering vir die klubs te kry en om meer mense by die sport betrokke te kry.

“Ons bemark in dié stadium maar soveel ons moontlik kan om mense betrokke te kry. Toernooie gaan ook vanjaar regstreeks gebeeldsend word, wat mense in die gemak van hul huis kan kyk. Ek glo dit sal ’n baie positiewe impak hê,” sê Taljaard.

“Stoei is ’n wonderlike sport wat dissipline en toewyding verg van oud en jonk. Die jongste en oudste aktiewe lede van die Bears-stoeiklub is onderskeidelik vier en 52 jaar oud.

“Ek wil ouers en kinders aanraai om by stoei betrokke te raak en ’n ingeligte besluit te neem om by jou naaste stoeiklub te gaan kyk wat amateurstoei behels. Dit is ’n gedissiplineerde sportsoort en beslis een wat elke ouer moet oorweeg vir sy kind, ongeag of jy ’n seun of ’n dogter het. Gaan woon ’n byeenkoms van die stoeiklub by voordat jy ’n vooropgestelde idee daaroor vorm,” is haar raad.

Daar moet ook geen verwarring wees tussen rofstoei soos die World Wrestling Entertainment (WWE) se aanbiedings en amateurstoei nie.

“Baie mense wonder oor die verskil tussen WWE-stoei en amateurstoei. Volgens my is amateurstoei die ware Jakob. Dit is ’n sport wat ’n persoon van so jonk as vier kan beoefen. Dit is ook ’n sport met waardes en dissipline.

“WWE is ’n skouspelagtige sport en verskil hemelsbreed van amateurstoei.

“In amateurstoei word harde oefening, harde werk en deursettingsvermoë benodig. Dit is ook die oudste sport ter wêreld,” sê Taljaard.

Volgens haar is daar ’n toename in die betrokkenheid van vroue by die sport. Sentraal-Gauteng het tans ongeveer drie administratiewe beamptes, een afrigter, ses mediese beamptes, twee skeidsregters en 11 spanbestuurders wat vroue is. Daar is ook ongeveer agt vrouestoeiers in die provinsie.

Meer oor:  Roodepoort
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.