Die 13de keer dat hulle aan die berugte K-Way Skyrun-wedloop in die Witteberge teen die Lesotho-grens deelgeneem het, het Mynhardt en Riana van der Merwe hul naasbeste tyd behaal.
Dié “berghardloop”-egpaar van Modderrivier buite Kimberley het op 15 November die 100 km-wedloop in 25:19:04 voltooi. Hulle het verlede jaar hul beste tyd aangeteken toe hulle dit in 24:53:00 voltooi het.
Vir dié wedloop, wat in die omgewing van Lady Grey en Barkly-Oos plaasvind, moet deelnemers hul eie kos- en watervoorraad saamdra en ’n eie roete oor en om die berge met ’n GPS, kompas of kaart baan.
Die afsnytyd vir die 100 km-roete is 30 uur. Deelnemers kan ook die 65 km- of 38 km-roete doen.
“Dit is altyd die moeite werd om só ’n projek, wat eintlik groter as jyself is, aan te pak,” sê Riana.

Riana en Mynhardt van der Merwe van Modderrivier buite Kimberley het op 15 November die 13de keer aan die K-Way Skyrun-natuurwedloop deelgeneem. Hulle het dié 100 km-wedloop in die Witteberge in 25:19:04 voltooi.Foto: Verskaf
Sy was eerste in die meestersafdeling vir vroue en die 16de vrou oor die eindstreep.
Mynhardt was negende in die meestersafdeling vir mans en die 85ste man by die eindpunt.
“Die sleutel tot sukses is dat die atlete deurlopend deur die beperkings van hul eie gedagtes breek sodat hul lyf hulle verder dra as wat hulle glo moontlik is,” sê Adrian Saffy, organiseerder van die wedloop.
“As ’n mens so ’n tog aanpak, ry jou emosies die heeltyd wipplank. Tog is die natuurprag en die ervaring iets wat jy nêrens anders sal vind nie.”
Die Van der Merwes het al verskeie kere internasionaal aan dié soort wedlope deelgeneem.
Skyrunning is ’n adrenaliensportsoort waarin daar gehardloop word op en oor berge hoër as 2 000 m, waarvan die helling meer as 30% is en die moeilikheidsgraad vir klim nie meer as 11° nie.