Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Ek kry tweede kans,’ sê Hempas
Hempas Rademeyer

Ouer rugby-ondersteuners sal Hempas Rademeyer (58), wat van 1982 tot 1992 vir Transvaal (vandag die Goue Leeus) heelagter gespeel het, onthou.

Hy is sy lewe lank ’n Beeld-leser en deesdae lees hy Netwerk24 op sy foon, sommer regdeur die dag, so tussendeur afsprake. Hy is die direkteur van Prodigy Asset Management, ’n maatskappy wat mense se finansiële portefeuljes bestuur.

“Ek lees letterlik alles op Netwerk24, van die harde nuus, die hooftrekke soos dit inkom, asook die sake- en sportnuus,” sê hy.

Rademeyer woon aan die Wes-Rand, waar hy ook grootgeword het. Hy was een van ses kinders, vyf broers en ’n suster, en almal was taamlik sportief.

“Ek het rugby en krieket gespeel en later jare begin fietsry,” sê hy.

Hy het juis pas van Sardinië af teruggekom waar hy saam met ’n groep sakelui vir die Change a Life-liefdadigheidsorganisasie gaan fietsry het.

Ná skool het Rademeyer onderwys studeer en in 1982 het hy vir die eerste keer vir Transvaal se rugbyspan uitgedraf. Hy het altesame 105 wedstryde vir Transvaal gespeel.

Hy het twee jaar lank skoolgehou aan die Laerskool De La Rey en is in 1984 met Martie getroud. Toe die geleentheid hom voordoen om die onderwys te verlaat en in die finansiële wêreld te gaan werk, het hy dit aangegryp.

Op die vraag watter finansiële advies hy aan Beeld-lesers kan gee, sê hy ons spaar ongelukkig te min.

“Salarisse het eenvoudig net nie met inflasie bygebly nie en ons het nie ’n keuse nie as om byna al ons geld elke maand te bestee. Salaristrekkers kry swaar en ons pensioenfondse het die afgelope vyf jaar omtrent zero groei getoon.”

Sy raad is om skuld te verminder. Hoe minder jy aan skuld afbetaal, hoe meer geld het jy in jou sak. Probeer wegbly van rekeninge soos klererekeninge en koop eerder kontant.

Kanker is in Augustus 2016 by Rademeyer gediagnoseer. Hy het eers gedink hy het net ’n abses aan ’n tand en is ’n paar keer terug tandarts toe daarvoor.

’n Klomp wortelkanaal-prosedures is uitgevoer, maar hy het steeds gevoel iets is nie reg nie.

Toetse het getoon dit was kwaadaardig en baie na aan sy brein.

Ná die soveelste keer het ’n tandarts ’n insnyding gemaak en op ’n baie groot abses afgekom. Toetse het getoon dit was kwaadaardig en baie na aan sy brein.

“Ek kan die skok toe ek hoor ek het kanker aan niemand beskryf nie. Ek leef taamlik gesond, het nie ’n dieetprobleem nie en dis eenvoudig maar net iets wat gebeur het waaroor ek geen beheer gehad het nie.

“Ek het die Sondag nog aan ’n padren by Sun City deelgeneem en die Maandag het ek gehoor ek het kanker,” sê hy.

Hulle moes agt tande trek om ontslae te raak van die infeksie in sy mond en chemoterapie het begin.

Kanker het my geleer dis nie ’n skande dat mans emosie wys nie.

“My verhouding met die Here het in daardie tyd baie verdiep en ek het letterlik op die Here se skoot gesit. Ek weet ek het ’n tweede kans op lewe gekry en ek beskou nie een dag van my lewe as vanselfsprekend nie,” sê hy met trane in sy oë.

“Kanker het my geleer dis nie ’n skande dat mans emosie wys nie en dat jy moet sorg dat jou lewe reg is, want jou draadjie kan enige dag kortgeknip word.

“Ek kan nou eers ten volle verstaan waardeur ander mense by wie kanker gediagnoseer word, gaan,” sê hy.

“As ek vir iemand raad kan gee, is dit dat jy nie moed moet opgee nie. Jou liggaam gaan deur veranderinge, maar jy kan daardeur kom.”

Hy en Martie is die ouers van Anzelle en Leander. Hulle ry graag tandemfiets in hul vrye tyd en Hempas het al ’n hele klomp Change a Life-fietstoere onderneem.

“Deur die jare het die Change a Life-gemeenskap vir my soos familie geword.

“Dis baie meer as net gewone fietstoere. Dit is ’n lewensveranderende ervaring terwyl jy regtig iets goeds doen,” sê hy.

Meer oor:  Sport  |  Herinneringe  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.