Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Elsies-broers hou mae vol met groentuine oral
Van die lede van die inisiatief Feed The Future wat die groentetuine aan die gang hou.

Hulle het die “honger in ons gemeenskap en omliggende gebiede gesien” en besluit om groentetuine aan te lê en om voedingskemas aan die gang te kry.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou (tweede van links), is heel ingenome met die groentetuine in Elsiesrivier. Hier is hy saam met Geronimo de Klerk (links), Dailen Jacobs van RLabs en Valentino de Klerk.

En twee jaar later is Geronimo (18) en Valentino de Klerk (20), twee broers van Elsiesrivier, Kaapstad, so goed op dreef met hul inisiatief dat dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR, onlangs self gaan kyk het na wat hulle alles doen.

Die twee broers het saam met mense in die gemeenskap begin om groentetuine in oop ruimtes in Elsiesrivier aan te lê.

“Veral ouer mense kry groente uit die tuine, maar ons bestuur ook verskeie voedingskemas om die gemeenskap se mae vol te maak,” sê Geronimo.

“Ons het aanvanklik niks gehad nie. RLabs het ons ondersteun met geskenkbewyse wat ons by Shoprite kon gaan inruil vir onder meer saad. So het ons ons eerste tuin begin,” sê Geronimo.

Deesdae bestuur die broers vyf tuine, maar daar is nog verskeie oop stukke gronde in en om die Kaapse Vlaktes wat tuine moet word sodra hulle die nodige geld kry.

“Verskeie skole het ook al grond beskikbaar gestel,” sê Valentino.

“Ons kweek nou al kool, wortels, blomkool, tamaties en verskeie ander groente. Ons het ook al mense gehelp om hul eie klein tuintjies in hul agterplase te begin met die basiese groente sodat hulle na hulself kan omsien.”

Geronimo de Klerk is nie bang om sy hande vuil te maak in die groentetuin nie.

Valentino sê ook dit is lekker om die verskil te kan sien wat hul inisiatief in hul gemeenskap gehad het.

Voordat hulle met die projek begin het, is hulle en ander inwoners opgelei in die aanplant en instandhouding van groentetuine.

“Nou leer ons ander jong mense oor aanplanting en die klimaat,” sê Valentino.

“Hier is baie werklose mense by ons. Omdat daar nie geleenthede is nie, gebeur dit dikwels dat van dié mense met potensiaal geen vooruitsigte het nie.

“Ons hoop ons kan die jong mense bemagtig en verdere geleenthede vir hulle skep deur hulle te leer van landbou.”

Wayde Sellidon (voor) en Kayden January help in die groentetuin.

Die LUR het daarop gewys dat voedselsekerheid ’n “fundamentele mensereg” is.

“Net in die afgelope drie maande het die Wes-Kaapse regering 1 249 huishoudelike tuine en 27 gemeenskapstuine begin. Ons het ook agt skooltuine ondersteun,” sê Meyer.

Lyle Esau werk in die tuin.

“Ons is trots op wat ons jeug bereik en deur hulle te ondersteun, hoop ons om hul werk te versterk.”

Die LUR het tuintoerusting, sade, kunsmis, kruiwaens, kompos en ’n watertenk van 10 000 liter, wat deur die Wes-Kaapse departement van landbou geskenk is, aan die broers oorhandig met sy besoek.

“Ons hoop om in die volgende boekjaar 1 800 tuine in huishoudelike gemeenskappe deur die provinsie te begin,” sê Meyer.

Brentay Lovelot en Jayden de Klerk sit ook handjie by in die tuin.

Ná die LUR se besoek het albei broers vertel hoe “geëerd” hulle voel met die erkenning wat hulle van die LUR gekry het.

“Die nood in ons gemeenskappe bly groot en ons sal graag ons inisiatief wil uitbrei oor die provinsie en hele Suid-Afrika heen,” sê Geronimo.

“Jy hoef nie ryk te wees om ’n verskil te wil maak nie.”

Meer oor:  Elsiesrivier  |  Honger  |  Liefdadigheid  |  Hulp  |  Voedselsekerheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.