Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Ervaar die lewe in ’n ossewalaer

Trekboernasate trek steeds, hoewel in kleiner groepe, oor die veld, berge en dale heen. Hulle smelt vet om kerse te maak, karring room tot botter, giet koeëls en klap die sweep om almal – van die Baby Boomers tot Generasie X, die Millenniërs en die Zoomers – op hul spore te laat terugkyk. Charné Kemp het saam geleer.

Tyd om rustig te raak. Die son gaan onder in die laer in Kimberley. Foto: John Roderick

’n Kind kyk op en vra die man wat haar hand vashou of die ossewa voor haar ’n outydse woonwa is.

“Ja, my kind, dit is,” kom die antwoord terwyl die oupa oor die wawiel streel. Bokant hom wapper die Voortrekkervlag in rooi, wit en blou driehoeke.

Voor die drie ossewaens is stoele in rye voor die gloeiende kole, braairoosters, ketels en potte uitgepak. Die nuwe generasie gaan vandag leer hoe om ’n wawiel af te haal om die aste te smeer, roosterkoek te bak, koeëls te giet en met ’n pangeweer of voorlaaier te skiet. Vanaand gaan daar aan tradisionele geregte weggelê word, soos kaiings, hutspot, wildspastei en melktert wat op die kole berei is.

Marius Nagel klap die sweep. Sy fletsblou oë skitter teen die herfsblare. Die eerste In die Laer-uitstalling by die Agt Myl-plaas buite Kimberley wat hy namens Die Voortrekkers, Landsdiens en die Rapportryer-beweging reël, loop op geoliede wiele.

Vir bewaring

“Ons bied die uitstalling aan om geld in te samel om monumente rondom Kimberley skoon te maak en in stand te hou,” sê Nagel.

Jaco Janse van Rensburg, van Kempton Park, demonstreer hoe vetkerse gegiet is. Foto’s: Charné Kemp

“Op 22 Mei gaan ons werk by die Paardeberg-slagveld doen, waar die hekke by die monument stukkend is. Die konsentrasiekampgedenkteken in Kimberley het strukturele probleme en die konsentrasiekampgrafte in die Weseinde-begraafplaas is gevandaliseer.”

Om hom loop oupas en oumas en pa’s en ma’s en kyk na tradisionele gereedskap soos aambeelde, bankskroewe en domkragte, asook wafel- en obliekiepanne, potte, ketels en ander kombuistoerusting wat hul voorouers gebruik het. Hul nageslagte se vrae is nimmereindigend.

Trekboervereniging

Die uitstallers wat lede van die Trekboervereniging is, het die volledige ossewaens vanuit Gauteng, Noordwes en die Noord-Kaap gebring. Dit is hulle wat die demonstrasies in tradisionele klere lewer, terwyl Nagel se span sorg dat oud en jonk tradisionele speletjies soos vierbal en sak- en driebeenresies probeer bemeester.

John Roderick, van Kimberley, spog met ’n indrukwekkende voorlaaierversameling. Hy het ’n paar daarvan saamgebring.

Jaco Janse van Rensburg is ’n osmeester wat osse van jongs af afrig om ossewaens te trek.

“Die oudste pangeweer in my versameling dateer uit ongeveer 1720. Ek het een met ’n datum van 1803 van ene D.J. Schoeman en ’n ander een van ene H.C.A. Venter van 1820.”

Roderick staan breëbors langs sy spoggerige 1912-bokwa, die 2 344ste transportwa wat deur J. Merryweather and Sons in Pietermaritzburg vervaardig is en vragte van tot 16 ton gedra het.

Hy en die ander lede slaap in hul wa of tent, knus met lappieskomberse.

“Nee wat, as ek eers die seile onder die matras ingevou het, is dit lekker warm.”

Dié wa het hy lank begeer. Tot op ’n dag dat oom Anton van der Linde op Britstown hom laat weet het hy kan maar kom. Die wa is nou te koop. Roderick het dadelik by sy huis 'n afdak daarvoor gebou.

Rudi Luyt (4), wat geweldig beïndruk is met die uitstalling van die Voortrekker-leefwyse en -kleredrag, poseer vir ’n foto saam met Marina en Piet Breytenbach van Ottosdal.

“Hy moet toe kom, hy moet geen wind en weer kry nie.”

Hy het ’n advertensie uit ’n ou Landbouweekblad wat lui: “Oor die grofste paaie. Merryweather-waens word gemaak om die drang en spanning van aanhoudende swaar werk oor die growwe paaie en veldtogte in Suidafrika te weerstaan.”

Aan die wa hang ’n teerputs waarmee die aste gereeld gesmeer word. Dis al tweede natuur vir hom om vinnig die domkrag in te span en vuil lunsrieme, skywe en wiele af te haal.

“Die kakebeenwaens wat houtaste het, moet elke twee, drie uur gesmeer word, anders draai die rook weens die wrywing.”

Hul vereniging het twee jaar gelede oor ’n paar dae in die Waterberg ’n sirkelroete van 60 km met waens en osse gery en snags in die veld geslaap en geëet.

John Roderick, van Kimberley, vertoon van sy stokou en gesogte gevlegte riempiestou wat tydens die Groot Trek gebruik is om osse voor kakebeenwaens in te span.

Piet en Marina Breytenbach van Ottosdal stal hul replika-kakebeenwa, wat in 1988 met die Groot Trek se 150ste herdenking gebou is, uit. Die seile is van skeepseile gemaak en die rame van jong houtlatte wat gebuig is.

Omdat die kakebeenwa baie nou is, slaap hulle eerder in ’n A-raam-seiltent daaragter.

“Elke Voortrekker-gesin het ’n paar waens gehad. Gerrit Maritz het sewe waens gehad om almal en alles te vervoer. Vroue en jong kinders het in die wa geslaap, die mans onder die wa, hoewel hulle ook tente gebruik het.”

Die Andries Potgieter-vlag hang bokant sy wa.

“Elke trekgeselskap het daaronder proklamasies uitgereik waarin wet en orde gehandhaaf is.”

Osmeester

Jaco en Endriëtta Janse van Rensburg, van Kempton Park, sê hul vereniging wil kultuur bevorder deur ’n lewende museum waar mense kan vat, voel, kyk en ervaar. Hoewel elke uitspanning ’n fortuin kos, is dit vir Endriëtta belangrik dat kinders leer deeg knie, botter maak, bak, koffie rooster en bone maal of vetkerse maak.

Neylan van Zyl, van Kimberley, gooi die bal in die vierbalspel. Die swaar bal word op vier maniere gegooi en die mikpunte is om dit verder as die res van die spelers te gooi.

Haar man is ’n osmeester van formaat.

“Die osse ken my stem en my liggaamshouding – hulle sal nie sommer vir ’n vreemde touleier of die een wat die sweep hanteer, luister nie,” sê Janse van Rensburg.

“Dit neem so drie jaar om hulle van ’n jaar oud af te rig. Elkeen het sy eie temperament, wat bepaal waar in die span hulle trek. Eers leer hulle om ’n juk gewoond te raak, dan die ketting. Daarna sleep hulle buitebande en later ’n ligte voertuig.”

Janse van Rensburg sê hy span eers twee, dan vier en dan ses osse agtermekaar in.

“Namate die jong osse die bevele aanleer, raak hulle al hoe gemakliker en ontwikkel spiere. Hy dra ’n juk op sy skof en daardie spier moet ontwikkel word,” vertel hy.

Endriëtta Janse van Rensburg, van Kempton Park, lag terwyl sy vertel een van haar kinders se vriende het nie geweet hoe koffiebone gerooster of gemaal word nie.

Sommige dae is die osse balhorig.

“Hulle breek jukke, wil omdraai, of stamp ’n maat met die horings. Die Afrikanerosse se horings raak lank, die ou weet presies hoe om iemand te haak as hy in ’n moeilike bui is.”

Janse van Rensburg sê sy eerste liefde is sy osse.

“Ons hanteer hulle met die grootste agting en liefde. Jy roep hom op sy naam en die beweging van sy ore en sy liggaamshouding sê hy weet jy raas met hom. Die sweep klap net bokant hom as hy halsstarrig bly.”

Trekosse het tradisionele name.

“Dit het te make met Jan, berge of dale, Afrikaner-leiers of die kleur van sy vel. Name soos Swartberg, Smuts of Rooijan.”

Voorosse is vinniger, jonger osse wat die pas aangee. Agterosse moet sterk wees om die disselboom te dra. Hulle is ook makker sodat hulle nie mense met die op- en afklimslag van die wa beseer nie en hulle word laaste uitgespan.

Later, met die wolke wat in oranje skakerings teen die laaste lig glimmer, word daar staaltjies vertel, saamgesing en gebid. Die kole knetter om die potte en panne. Dan word ’n pangeweer afgevuur en tientalle oë volg die vuurstreep wat teen die hemel en sterre trek.

John Roderick het ou rytuigpermitte van Kimberley aan ’n ammunisiekis uit die Tweede Wêreldoorlog op sy ossewa vasgemaak.
’n Obliekiepan, waarin deegbolle platgedruk en vinnig oor die vuur gaargemaak word, voordat dit gevou en met vla en ander lekkernye gevul word.
John Roderick staan breëbors by sy Merryweather and Sons- transportwa.
John Roderick se versameling voorlaaiers, wat ook as pangewere bekend staan.
Meer oor:  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.