Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Ervarings by SAL van ouds wek nostalgie

Ná bykans 70 jaar het ’n 91-jarige oud-Albertonner vir die eerste keer weer op die vliegtuig geklim waarop sy haar loopbaan by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) begin het.

Marie Ligthelm (91), deesdae ’n Pretorianer, het voorverlede Sondag by die Randse Lughawe in Germiston verduidelik hoe sy as lugwaardin die passasiers op die Lockheed Lodestar ZS-ASN in 1949 bedien het.

Ellanor Ligthelm, haar dogter, Karel Zaayman, ’n bekende in lugvaartkringe, en André de Wilzem, wat ook tussen 1980 en 1999 vir die SAL gevlieg het, het die nostalgie saam met Marie beleef.

Marie Ligthelm en André de Wilzem.Foto: WOLFRAM ZWECKER

’n Vlug tussen Kaapstad en Johannesburg het destyds meer as vier ure geduur, vertel Marie en André.

“Ek het die kos vir die 12 passasiers bedien. Ons het dit in ‘regte’ borde opgeskep,” sê Marie.

“Daar was nie soos deesdae plastiekborde met ’n keuse tussen hoender of vleis nie.”

Die vlugkelner – André – het die drankies bedien.

Die buitelandse vlugte het later gevolg. Dit het die vlugbemanning 14 dae geneem om van Johannesburg na Rome, Italië, en terug te vlieg, wat die vier dae wat hulle in Rome oorgeslaap het, ingesluit het.

“Tydens een van die besoeke aan Rome was ek deel van ’n groep wat die pous ontmoet het en my gebedpêrels laat seën het,” herroep Marie.

Marie Ligthelm poseer by die Lodestar ZS-ASN. Foto: WOLFRAM ZWECKER

In 1954 is haar loopbaan kortgeknip toe sy met C.J. Ligthelm getroud is. ’n Getroude vrou kon immers nie meer ’n lugwaardin wees nie. C.J. het later as Alberton se verteenwoordiger in die parlement gedien.

Marie Ligthelm toe sy nog ’n lugwaardin van die Suid-Afrikaanse Lugdiens was.

André was net so nostalgies toe hy die Boeing 747 “Lebombo” betree.

Hy is in die proses om onderhoude met die oud-bemanningslede soos Marie te voer en dit in die SAL-geskiedenis op te neem.

André onthou byvoorbeeld die kere wat hulle op die eiland Ilha do Sal in die Kaap-Verdiese Eilande oorgeslaap het.

“Dit was ook ’n uitdaging om op die 747 warm sop teen die wenteltrap uit te dra,” vertel hy.

“Dié sop is onder in die Boeing 747 warm gemaak.

“Die vlugkelner moes dan met die bak warm sop teen die wenteltrap oploop – dít terwyl die vliegtuig bokspring!”

  • Die SAL-museum by die Randse Lughawe in Germiston is elke dag, behalwe op Maandae, oop vir besoekers. Die museum huisves onder meer twee Boeing 747’s, ’n Boeing 737 en ’n uitstalruimte met aandenkings en interessanthede van die SAL se geskiedenis oor die jare. Die Lockheed Constellation word tans gerestoureer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.