Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Fanie Enslin: Die man wat ’n boom se hart vind

Fanie Enslin (links) en sy seun Johan by ’n kamferhoutstomp – een van honderde boomstompe op sy erf. Foto: Deon Raath
Onder Fanie Enslin se saag kry elke boomreus ’n kans om sy innerlike skoonheid te vertoon, skryf Antoinette Slabbert.

Fanie Enslin se instrumentmaker-pa, Ben, het laat in die vorige eeu, toe hy al 70 jaar oud was en met ’n hartomleiding agter die rug, ’n saag gebou om kiaatbome vir eie gebruik op die familieplaas te saag.

Dié einste saag, wat stompe met ’n deursnee van tot 1 m en 6,5 m lank kan kloof, is nou die kern van Fanie se unieke Bensaw Sawmills – genoem na sy pa.

Daar omskep hy, sy seun Johan en ’n tiental personeel vaal boomstompe in die mooiste houtblaaie en unieke houtmeubels wat in van die voorste huise, konferensiekamers en vertoonlokale van binneversierders pronk.

“Die hout is die ster,” sê Fanie. “Dis kalmerend om met hout te werk.

“Daar is niks so bevredigend as om met ’n rowwe stomp te begin en soos jy werk, die natuurlike kleure te sien blom nie. Daar is soms die mooiste patrone in die grein.

Die hout is die ster. Dis kalmerend om met hout te werk.

“As jy terugstaan en jou handewerk beskou, besef jy watter voorreg dit is om ’n stukkie natuur te vat en dit net so ’n bietjie mooier te maak . . .”

Om met dié lywige stukke hout te kan werk is nie altyd eenvoudig nie. Die afgelope week moes Fanie en sy span ’n swarthoutstomp van 450 kg wat ’n tafelpoot geword het, by twee stelle trappe op dra. Vurkhysers en hyskrane kan net tot ’n punt help en Fanie, wat gelukkig ook as instrumentmaker opgelei is, moes maar self skuinsvlakke en trollies bou, waarna dit eenvoudig skouer aan die wiel was vir die span.

Fanie besig met die afronding van ’n tafelblad in sy fabriek.Foto: Deon Raath

“Ons gym elke dag!” sê hy grappenderwys.

Op die kleinhoewe buite Pretoria waar Fanie woon en werk, lê daar meer as 1 000 boomstompe. Maklik 20 verskillende soorte. Aspoestertjies wat wag vir sy towerstaf. Sommige behoort aan kliënte wat dit daar laat totdat Fanie daarby kan uitkom; hulle opsaag in planke of verwerk in meubels.

Sommige is houtsoorte wat nie in die handel beskikbaar is nie, soos jakaranda, sering en kamfer. Ander is werklike skaars hout.

“Ek wens mense wil twee keer dink voordat hulle stompe weggooi,” sê Fanie.

“Min mense hou nié van hout nie en baie van die bome in ons tuine het pragtige hout.”

Peperbome, apiesdorings, sipresse, jakarandas, soetdorings en “selfs ’n moerbeiboom het mooi hout”.

Fanie sê mense wat ’n erf koop en self bou, neig deesdae om die bome wat uitgehaal moet word te verwerk in hul eie, unieke meubels. Hulle grawe ook die wortels uit wat Fanie skoon spuit en verwerk in indrukwekkende tafelpote.

Dit kan tot drie weke neem om ’n stomp skoon te kry. Dit word eers gelyk gesaag en dan uitgespuit en met die hand geskrop met onder meer draadborsels.

Dikwels is dit net gelyk saag, skoonmaak en seël. Die natuur wys sy eie mooi.

’n Stuk Engelse populier. Fanie sê dis sy beste werk.

Sommige bome, soos olienhout, tambotie en geelhout, word beskerm en mense moet liefs eers by die natuurbewaringsowerheid hoor of hulle ’n spesifieke boom mag afsaag, sê hy.

Fanie doen ook boomslopings en het ’n ooreenkoms met die Tshwane-metroraad dat hy bome wat omgeval het, mag verwyder. Dít het hom al ryklik beloon.

Die stuk waarop hy die trotsste is, het hy in 2010 ná ’n storm in die Moot gevind: ’n Hol Engelse populier wat uiteindelik ’n eetkamertafel geword het; met ’n dik blad van versterkte glas (wat maklik tot R16 000 kan kos) sodat ’n mens die hout se “hart” kan sien.

Dié stomp het tien jaar op sy erf gelê voordat hy die regte kliënt daarvoor gevind het.

Mense soek deesdae na eenvoudige meubels en hou daarvan om die natuurlike rand van die plank te behou, sê hy.

Om te keer dat die groot blaaie mettertyd kromtrek, het hy ’n metode ontwikkel om dit te stabiliseer. Dít bly egter sy geheim. Sy gunsteling is olienhout; die kleur en patrone. Kiaat, weer, het sy pa se hartsnare geroer.

Dis net genade, sê Fanie. Genade dat pa Ben destyds houtwerk as stokperdjie gehad het; dat hy die drie maande gevat het om die saag te bou; dat hy dit sewe jaar later geskenk het toe Fanie se ingenieursonderneming begin swaarkry het.

Genade dat hy daagliks met die natuur se mooi mag werk.

Net genade.

  • Versorgingswenk: Afhangende van die afwerking moet houtmeubels gereeld gepolitoer of geolie word, sê Fanie. “Houtmeubels hou ook nie daarvan om ’n deel van die dag in die son en deel daarvan in skaduwee te staan nie. Dan kraak dit maklik.”

‘My tafel’

’n Geelhouttafel gemaak van ’n ou grote uit die Knysnabos het die sanger en liedjieskrywer Coenie de Villiers geïnspireer om ’n gedig daaroor te skryf.

Die eienaars, die Gautrein-woordvoerder Barbara Jensen en haar man, Paul Vorster, het dié “lewende hout”-tafel spesiaal vir hul droomhuis in Paternoster, aan die Weskus, laat maak. Hul vereiste was dat die rand die karakter van die boom moes weerspieël en dat die boom nie daarvoor afgekap moes word nie. Hul bouer, André Kleynhans, het gelukkig geweet van so ’n stuk hout. Dit was by die seun van ’n oud-bosfiskaal van die Knysnawoud. Die man het ’n geelhoutplank van 3,9 m aan hulle verkoop op voorwaarde dat die plank nie gesny mag word of aan geboor mag word nie. So gesê, so gedaan.

Coenie, ’n huisvriend van die Vorsters, het in April 2018 aan dié tafel gekuier en die volgende gedig geskryf wat ook op sy onlangse CD opgeneem is:

My tafel

My tafel is van geelhout

Wat glim soos neutmuskaat

Hy kom uit skemer woude

Wat hy hoeka moes verlaat

Om plek te maak vir almal

Wat gereeld om hom vergader

Só ’n tafel bring geliefdes

Wat aansit almal nader

My tafel ken die stories

Wat almal kom vertel

Hier is daar geen skanse nie

En min wat mense kwel

Wanneer ons by hom aansit

en my pa die glase vul

nooi hy almal: vat nou hande,

en word kortstondig stil

My Pa bid Pater Noster

Soos net ’n pa kan bid

Ja, so vra hy die seën

vir almal wat hier sit

óm ’n tafel wat nog droom

van die hemel hoog daarbo,

van die winde in sy takke

dis wat dié hout steeds glo

My tafel is ’n eiland

In die see van my gesin:

Hy weet hoe elkeen kan ontrafel,

En hoe elkeen kan bemin

My tafel luister mee

Na die gesprekke wat ons hou

Ken die getye van ons lewens,

Wat ons vier, wat ons berou

My Pa bid Pater Noster

Soos net ’n pa kan bid

Ja, so vra hy die seën

vir almal wat hier sit

óm ’n tafel wat nog droom

van die hemel hoog daarbo,

van die winde in sy takke

dis wat dié hout steeds glo

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.