Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Feestyd: tref só voorsorg vir jou diere

Die feestyd en vakansie kan baie stresvol wees vir troeteldiere én hul eienaars. Gelukkig kan jy dit makliker maak vir almal, skryf Karla Janse van Vuuren.

As jy nie vir Woefie kan saamneem op vakansie nie, maak seker jy tref voorsorg sodat hy/sy nie erge stres ervaar dié vakansietyd nie. Foto: iSTOCK

Of jy nou die langpad aandurf, of met Jan Tuisbly se karretjie ry, Desember is gewoonlik ’n tyd wat roetine omvergewerp word. Vir jou vierpotige gesinslede kan dié verandering baie stres veroorsaak, veral as jy vir weke koers kies kus toe.

“Wanneer jy die besprekings maak vir jou vakansie, dink sommer terselfdertyd aan die reëlings aangaande jou troeteldiere. Dit is die beste om dit weke en selfs maande vooruit te doen. As jy plek wil bespreek vir jou dier(e) by ’n betroubare kat- of hondeherberg, moet jy beslis ver vooruit bespreek,” meen Kez O’Connor, voedingsadviseur by Hill’s Pet Nutrition.

Jy moet ook al die beskikbare opsies oorweeg en ’n ingeligte besluit neem, meen David Roache van dotsure.co.za (’n maatskappy wat troeteldierversekering bied).

“Neem jou troeteldier se geaardheid, ouderdom en algehele gesondheid in ag wanneer jy besluit,” sê David.

As jy egter te lank gewag het om plek by ’n herberg te bespreek (en teen dié tyd is hulle reeds stampvol), het David en Kez ’n paar wenke oor hoe om die stres van verandering vir jou troeteldier te verminder:

  • Soek dierevriendelike vakansieverblyf. Daar is deesdae al hoe meer sulke opsies beskikbaar. “Onthou net, as Wagter nie ’n gesoute reisiger is nie, kan dit baie stresvol vir hom wees (om saam te gaan),” maan David.

Dr. Barry Dallas van Hill’s voeg by dat daar ’n verskeidenheid medikasie beskikbaar is om jou troeteldier kalm te hou tydens stresvolle tye.

“Dit is egter belangrik om die beste stresbestuursbenadering vir jou spesifieke troeteldier met jou veearts te bespreek. Onthou ook dat sommige diere meer sensitief is vir verandering as ander. As jy weet jou troeteldier het ’n geneigdheid om erg gespanne te raak, maak vooruit ’n plan om te verseker dat jou (en jou troeteldier) se vakansie so stresvry as moontlik verloop.”

  • Vra ’n betroubare persoon om jou huis en troeteldier op te pas. Maak seker daar is genoeg kos in die huis vir jou troeteldier, sodat dit nie opraak terwyl jy weg is nie.
  • As jou troeteldier medikasie nodig het, maak seker die persoon wat na hom omsien weet hoe om dit toe te dien en dat daar genoeg medikasie beskikbaar is. “Onthou dat diereklinieke vir die feestyd kan sluit of vir verkorte ure oop is, so dit is kritiek dat jy genoeg medikasie tot jou beskikking het voordat jy iewers heen vertrek,” sê David.
  • Gee vir die oppasser ’n lys noodkontaknommers en maak seker hy/sy weet wie jou veearts is. “Lig ook jou veearts in dat jy weggaan en wie na jou diere kyk.”
  • “Bespreek ’n gebeurlikheidsplan met jou veearts ingeval jou troeteldier behandeling nodig het terwyl jy weg is,” is Kez se raad.
  • As jou troeteldier tuis bly met iemand wat net nou en dan kom inloer, is dit veral belangrik om seker te maak dat jou eiendom veilig is en dat daar geen ontsnappingsroetes is nie. Hou ook die dier veilig binnenshuis in geval daar harde geluide, soos vuurwerk is.
  • As jou troeteldier nie reeds ’n mikroskyfie het nie, laat dit insit voordat jy vertrek. “Halsbande waarop jou kontakbesonderhede is, kan verwyder word of wegraak in pogings om van ’n vreemde oppas-omgewing te ontsnap,” sê David.
  • Neem troeteldierversekering uit vir gemoedsrus. “Só kan jy dekking kry vir ongelukke, siektes en selfs algemene welstand,” sê David.
  • Bied vertroosting vir jou troeteldier in jou afwesigheid deur een van jou ou kledingstukke in jou vierpootkind se bed of gunsteling-lêplekkie te sit. Die blote reuk sal hom/haar nader aan jou laat voel.
Meer oor:  Feestyd  |  Troeteldiere  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.