Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Fietsryers wil met Border2Beach demensielyers help

Vanaf die grens met Zimbabwe tot by die see in Blouberg. Dit is die mikpunt van vier fietsryers wat dié 2 200 km wil ry om geld vir gespesialiseerde opleiding vir die versorging van demensielyers in te samel.

Die deelnemers aan die Border2Beach-projek is die broers Struan en Lyle Anderson, wie se pa aan demensie gely het, en Gareth Myles en Simon Clayton. Clayton se pa ly tans aan demensie.

Die fietsryers wat aan die Border2Beach-veldtog deelneem, gaan op 24 Augustus van Beitbrug op die grens van Zimbabwe na Kaapstad wegspring om geld vir die versorging van demensie-lyers in te samel. Foto: Border2Beach

Op 24 Augustus spring hulle weg by Beitbrug, op die grens met Zimbabwe. Hulle beplan om 160 km per dag te ry en op 7 September in die Moederstad aan te kom. Hulle beoog om langs Blouberg se strand te eindig. September is ook Wêreld-Alzheimer-maand.

Dit is dieselfde roete wat Struan en Lyle se pa, Jonathan Anderson, byna 50 jaar gelede as 17-jarige afgelê het. Jonathan is verlede jaar in die ouderdom van 65 dood.

Hy het die roete in 1969 per fiets saam met twee vriende en ’n onderwyser aangepak. Hulle het van die destydse Salisbury (Harare) tot in Kaapstad gery.

Hulle het hul R1,50 per dag gerek en 50c betaal vir ’n bad waarin almal gebad en hul klere gewas het. In sommige dorpe is hulle slaapplek aangebied en in ander het hulle na die polisiekantoor gegaan en op die stoep of in ’n sel geslaap.

Ná nege dae het hulle aangekom in Johannesburg, waar die seuns se onderwyser, Rob van Heerden, hom aan die tog onttrek het.

Die drie seuns het 10 uur per dag gery en selfs Kersfees in ’n polisiesel op Richmond deurgebring. Ná drie weke het hulle in Kaapstad aangekom.

Jonathan se seuns wil sy nagedagtenis herdenk deur dieselfde roete aan te pak.

Border2Beach sê demensie verwys na onder meer geheueverlies, ’n afname in denkvermoë en optrede, asook die onvermoë om daaglikse take te verrig.

Met die veldtog wil hulle groter bewustheid hieroor kweek.

Die fietsryers wil R200 000 insamel om die opleiding van sowat 80 versorgers te ondersteun. In Suid-Afrika kos dit R2 500 om een versorger op te lei.

Livewell Villages, wat ’n versorgingseenheid het wat spesialiseer in die versorging van mense wat aan Alzheimer se siekte en demensie ly, is een van die borge.

Ander borge sluit in Publicis Groupe en Willard Batteries.

Volg hul tog op Instagram en Facebook

Meer oor:  Zimbabwe  |  Liefdadigheid  |  Fietsryers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.