Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Forum gee sy dorp nuwe lewe

Inwoners van verskeie dorpe in die Vrystaat het deur middel van gemeenskapsforums en die samewerking van die breë gemeenskap hande gevat om die voorkoms van hul dorp te verbeter.

Dit is ook hoe die Senekal-Matwabeng-gemeenskapsforum (SMCF) verlede jaar tot stand gekom het. Die forum se hoofdoel is om Senekal op te knap en nuwe lewe te gee.

“Ons het die dorp teruggeplaas in die gemeenskap se hande, en een keer per maand word daar opgeruim, herstelwerk gedoen, geverf en tuingemaak om Senekal splinternuwe lewe te gee,” sê Giel Bekker, voorsitter.

Sedert 2014 is die dorp deur onder meer ’n erge droogte, waterprobleme en vervalle infrastruktuur geteister.

Verlede jaar, ná die opspraakwekkende moord op die jong boer Brendin Horner, was inwoners raadop oor hul omstandighede. In Oktober het belanghebbendes van Senekal en Matwabeng ’n vergadering belê om projekte te bespreek oor hoe hulle vir die dorp ’n nuwe baadjie kon aantrek. Inwoners het op die vergadering besef dat die aansien van hul dorp in hul eie hande lê, en met die voortdurende opknapping hoop hulle om ander te inspireer en só hoop te bring.

Die Senekal-Matwabeng-gemeenskapsforum bedryf een maal per maand ’n opknappingsprojek. Hier verf lede van die forum sperstrepe en vee die straat. Foto: Verskaf

Benewens die maandelikse projekte is instandhouding daagliks deel van die forum se bedrywighede. Vrywilligers gebruik hul eie gereedskap en toerusting om die opknappingswerk te doen en daar is selfs boere wat hul trekkers, sleepwaens, laaigrawe, vragmotors en arbeiders vir projekte beskikbaar stel.

AfriForum ondersteun ook die SMCF deur geld en skenkings en ’n kerkgroep van Matwabeng het op eie koste paaie begin herstel.

Bekker sê dit is goed om te sien hoe almal saamwerk, ongeag hul woonbuurt of ras. Die organisasie is ook dankbaar vir al die ondernemings in die dorp wat hulle ondersteun.

Gemeenskapslede wat graag by die SMCF wil betrokke raak, kan die volgende belanghebbendes kontak: Giel Bekker by 082 497 2453; Barend la Grange by 082 450 2185; John Mathuhle by 073 378 0415; Mike Odendaal by 083 411 6710; Emma­nuel Jardim by 083 306 1304; of Petrus Manyatso by 073 810 3646. Besoek ook die SMCF se Facebook-blad vir meer inligting.

Die bekende fliekmaker, regisseur en skrywer Frans Cronjé is deur die samewerking geïnspireer en beoog om binnekort ’n dokumentêre rolprent oor die projek die lig te laat sien.

  • Die berig het eers inVrystaatKroonverskyn.
Meer oor:  Vrystaat  |  Lewe  |  Dorp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.