Op die eerste dag van die inperking het Marcel Augustyn-Clark, ’n bloemis van Tulbagh, blomme uit sy tuin gepluk en die eerste een gerangskik.
Meer as 100 dae later is daar ’n foto wat elke dag van die inperking geneem is – die een meer kreatief as die ander.
Augustyn-Clark het elke dag omstreeks 09:00 sy rangskikking gemaak en ’n foto daarvan op Facebook gedeel. Die nommers was soms uit blomme gemaak, ander kere is vrugte soos suurlemoene en rissies gebruik. Toe die blomme opraak, het hy verrottende blare en boomwortels gebruik.

Marcel Augustyn-Clark, ’n bloemis van Tulbagh, met sy 100ste rangskikking vir die 100ste dag van die inperking. Foto: Lindy Kriek

Die 100ste rangskikking van naderby. Foto: Lindy Kriek
“Dit was baie lekker, amper soos ’n tipe meditasie, ’n stukkie van my,” sê Augustyn-Clark, wat ook deel was van ’n inisiatief om die dorp se strate te versier met blomme wat vir gekanselleerde troues en geleenthede bestem was.
“As ’n mens na die foto’s kyk, kan jy amper sien hoe die seisoene verander. Toe ek begin het, in Maart, was dit nog somer. Soos die tyd verbygegaan het, verander die kleure en die blomme wat ek gebruik het.”
Augustyn-Clark se rangskikkings was vir baie mense die hoogtepunt van hul dag, en volgens hom het mense opgelet as hy teen 10:00 nog nie sy daaglikse foto opgelaai het nie.
“Hulle het my dan gebel en gevra wat fout is en of ek oukei is,” sê hy laggend.

Nommers 1 tot 12. Foto: Marcel Augustyn-Clark

Nommers 12 tot 24. Nr. 17 is volgens Augustyn-Clark uniek omdat dit van verrottende plantmateriaal en wortels gemaak is. Foto: Marcel Augustyn-Clark

Die rangskikking wat hy op die 50ste dag gemaak het. Foto: Marcel Augustyn-Clark

Nr. 58 in rose. Foto: Instagram/Marcel Augustyn-Clark

Nr. 82 met nartjies. Foto: Instagram/Marcel Augustyn-Clark
Die blomme het grootliks uit sy eie tuin gekom, maar soms het hy blomme by Adene Nieuwoudt, die eienaar van ’n blomkwekery in die nabygeleë Wolseley, gekry.
Die dag toe hy die 100ste rangskikking maak, het sy vriendin Lindy Kriek kom kuier en haar kamera saamgebring. Hy het besluit dat hy ná 100 net op spesiale dae nog rangskikkings gaan maak.
Sy foto’s het wêreldwyd aandag getrek en mense het hom selfs betaal om vir hulle woorde of prentjies te pak, en daar is selfs ’n moontlikheid dat hy ’n almanak met dieselfde tema gaan publiseer.
“Lockdown is nog steeds nie verby nie, so wie weet, dalk begin ek met nog ’n interessante projek.”