Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
FOTO'S: Mej. SA dra die land saam op haar rok

’n Kleurvolle golf van liefde omraam Zozibini Tunzi, Mej. Suid-Afrika 2019 se skraal lyf in haar spierwit katpak. Bokant haar glimlag straal ’n kroon wat die son verteenwoordig. Sy dra letterlik die land saam met haar wanneer sy in Desember aan die Mej. Heelal-kompetisie in Amerika gaan deelneem.

Sy sê sy sal die land met trots dra.

“Ek gaan ’n hele land verteenwoordig, my ouma of my voorvaders sou dit nooit kon glo nie. Dit is moontlik.”

Zozibini Tunzi se nasionale kostuum is geïnspireer deur haar veldtog om geslag en ander ongelykhede te oorbrug. Liefdesbriefies van mans aan die vroue van Suid-Afrika vorm die golf van liefde wat haar katpak omring. Foto: Felix Dlangamandla

Honderde liefdesbriefies van mans aan die vroue van Suid-Afrika is as strikkies aan haar nasionale kostuum vasgeheg. Dit is deel van #HeForShe, Tunzi se veldtog om geslags- en ander ongelykhede te oorbrug.

Sy het haar nasionale kostuum en aandrok Vrydag by ’n hotel in Sandton bekend gestel. Mej. Heelal word op 9 Desember in Atlanta, Georgia gekroon.

“Ek wou die land met my kostuum uitbeeld. Ons land het moeilike tye oorbrug en ons werk vir versoening. Ons is nog nie heeltemal daar nie, maar ons werk hard om ’n verenigde land te word. Ons kon dit sien met die Springbokke se oorwinning.”

Bo Zozibini Tunzi se skitterwit glimlag pryk ’n kroon wat die son uitbeeld. Foto: Felix Dlangamandla

Die ontwerper, Lloyd Kandlin, wat al voorheen rokke vir Tamryn Green (Mej. SA 2018) en Demi-Leigh Nel-Peters (Mej. SA 2017) ontwerp het, sê hy wou ook Tunzi se erfenis in die nasionale kostuum uitbeeld.

“Die simboliek en die veldtog oor gelykheid is ook in die kostuum ingesluit. Die blou gedeelte moes soos ’n golf lyk. Die rok staan as die golf van liefde bekend. Daar is meer as 2 000 boodskappe op die rok wat ek een vir een aangeheg het,” sê Kandlin.

Die ontwerp-proses het sowat twee maande gelede begin. Vir die afgelope drie weke het hy elke dag 12 ure aan die skepping gewerk. Katoen en ander materiaal is ingespan. Haar nousluitende deurskynende aandrok met silwer detail is deur Biji Gibbs ontwerp. “Ek het ’n spesiale aandrok vir Zozi ontwerp. Sy het ’n unieke voorkoms en die rok pas by haar,” sê Gibbs.

Tunzi sê sy is trots op dit wat haar uniek maak, veral haar natuurlike kort haarstyl. “Daar is verskillende mooi vroue, ons moet die stereotipes rondom skoonheid breek.”

Haar ouers, Philiswa en Lungisa beskryf haar as ’n respekvolle beskeie jong vrou met selfvertroue.

“Sy was skaam toe sy jonger was, maar sy het toe ’n liefde vir skoonheidskompetisies ontwikkel en van daar het haar selfvertroue toegeneem,” sê haar ma.

Tunzi se suster, Sibabalwe (24) sê sy is trots om te sien haar suster verteenwoordig nie net hulle familie nie, maar ook die land.

*Die kroning word regstreeks uitgesaai op 9 Desember van 02:00 tot 05:00 op 1 Magic, DTSV kanaal 103.

Toe Zozibini Tunzi in haar aandrok verskyn het die emosie haar oorval. Foto: Felix Dlangamandla
Zozibini Tunzi omhels haar jongste suster Ayakha (13) tydens ’n emosionele oomblik. Foto: Felix Dlangamandla
Zozibini Tunzi se aandrok is deur Biji La Maison ontwerp.Foto: Felix Dlangamandla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.