Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Foto’s: Stellenbosch-wynplaas pars 1ste van seisoen
Die pinot noir-druiwetrosse van die Simonsig-wynplaas klaar gepluk. Foto: Anneri Wasserman/Basque Imagery

Die pars het Donderdag begin op die Stellenbosse wynplaas Simonsig met die eerste lot pinot noir-druiwe wat beskore is om Kaapse vonkel te word.

“Dit is vreemd om druiwe te pluk vir wynmaak, maar jy mag nie wyn verkoop nie,” sê Francois-Jacques Malan, bemarkingsbestuurder van die plaas.

“Maar solank mense aanhou drink, sal ons aanhou wyn maak,” skerts hy.

Hy is die kleinseun van wyle Frans Malan wat 50 jaar gelede die eerste Simonsig Cap Classique Kaapse Vonkel op die plaas gemaak het.

Die druiwe wat Donderdag geoes is, is dié wat gebruik sal word vir Simonsig Cap Classique, ’n eg Kaapse bottelgegiste vonkelwyn.

Charl Schoeman, wynmaker op Simonsig, in die wingerd. Foto: Anneri Wasserman/Basque Imagery

Planne om die mylpaal van 50 jaar te vier, is egter deur die pandemie in die wiele gery, sê Malan. Al kan dinge egter nie voortgaan soos beplan nie, is daar steeds vooruitsigte vir heerlike vieringe.

Voorheen is berig Frans Malan het 50 jaar gelede die chenin blanc-druiwe van Simonsig gevat en besluit om bottelgegiste vonkelwyn daarmee te maak. Vandag is dit ’n heel ander wyn as daardie eerste een.

Chenin blanc word nie meer gebruik nie, maar eerder pinot noir, chardonnay, pinot meunier en selfs die eg Suid Afrikaanse druifsoort, pinotage. Boonop het die reeks uitgebrei na vyf verskillende soorte cap classiques.

Charl Schoeman, wynmaker op Simonsig, bekyk ’n pinot noir-druiwetros. Foto: Anneri Wasserman/Basque Imagery
Die druiwe word op Simonsig in die parsmasjien gegooi. Foto: Anneri Wasserman/Basque Imagery

“Alles het ten goede saamgewerk vir vanjaar se oes,” sê Charl Schoeman, wynmaker op Simonsig. “Hoewel die oes ’n bietjie laat is, het ons wonderlike reënval gehad en die hitte van Januarie het gehelp dat die druiwe gesond bly. Dit is nog eintlik ’n bietjie vroeg om te sê wat die gehalte sal wees, maar ons is optimisties.”

Volgens Schoeman het Simonsig besluit om vanjaar minder wyn te maak as gewoonlik weens die inperkingsregulasies wat drankverkope tans verbied.

“Gewoonlik koop ons druiwe van buurplase aan van ’n soortgelyke gehalte, maar vanjaar het ons dit verminder weens die invloed van die beperkinge.”

Hy sê hoewel Simonsig nog plek het, is dit ’n probleem in die bedryf dat daar nie oral genoeg oop tenks is om die nuwe oes in te neem nie.

“Hoewel daar nog tenkruimte is, is dit heelwat minder as vorige jare,” sê hy.

Volgens hom is daar praatjies dat die wynbedryf ’n oorskot van 280 tot 300 liter sal hê. Hy sê hy hoor ook dat ongeveer 80 miljoen liter pulp van verskillende kelders wat vir wyn bedoel was, nou sap en druifkonsentraat sal word.

Die sap sal volgens hom veel minder inkomste genereer as wyn.

“Al is daar nou baie uitdagings, bly ons positief dat dinge binnekort beter sal gaan,” sê hy.

Francois-Jacques sê daar word voorspel dat die wyn wat nou geproduseer word, eers oor twee jaar gedrink sal word.

Meer oor:  Simonsig  |  Stellenbosch  |  Druiwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.