Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
FOTO'S: Van bo af gesien

Lugfotografie is ’n besondere kuns. Marzahn Botha het met Jay en Jan Roode gesels oor dié stokperdjie wat ’n avontuurlike beroep geword het.

Die duine van die Namib-Naukluft- nasionale park. Foto: AERIAL ART

Met die rolprentmaker Craig Foster se My Octopus Teacher is kykers verlede jaar meegevoer deur nabyskote van ’n onderwaterwêreld waar ’n skattige seekat en sy nuwe mensvriend ’n hegte band vorm.

Met die verbeeldingryke lugfotografieboek Aerial Art bied die skeppers Jay (43) en Jan (47) Roode, weer kunssinnige verafskote van landskappe van Suider-Afrika en wys hoe mens en dier slegs ’n klein kleurpigment in die groter geheel is.

In albei gevalle word fotografie gebruik om die boeiende verhaal van die natuur te vertel. Dis alles net ’n kwessie van perspektief . . .

Die Roode-egpaar van Johannesburg sigsag nou al vir meer as tien jaar in hul Jabiru-vliegtuig oor Afrika.

Walvisbaai se vleilande, met pienk flaminke wat amper onherkenbaar langbeen in die water staan. Foto: AERIAL ART
’n Wit pan staan uit in die landskap van die Namib-Naukluft- nasionale park. Foto: AERIAL ART

Die besondere beelde wat hulle in dié tyd vasgevang het, is uiteindelik in ’n boek beskikbaar.

Die boek beeld ’n Afrika-landskap uit van woestyne, watervertakkings, rotse, sand, eilande, bote, mens en dier wat diep spore in jou hart laat. Maar dis méér as dit.

Deur die gebruik van abstrakte kunsbeginsels soos lyne, lig, skaduwee, kontoere, patrone en kleur is die eindresultaat psigedeliese dubbelbladfoto’s wat oor ’n landskap van 144 bladsye strek.

Vlieg in die Limpopo

Tydens my besoek aan die egpaar by die Kapama- private wildreservaat naby Hoedspruit kry ek kans om saam met Jan in die Jabiru te vlieg. Ons styg op in ligte reën met die vliegtuigskroewe wat saggies brom.

“Ons kan al dié foto’s uit die lug neem omdat die enjins sag is en nie die diere, voëls of mense afskrik nie,” sê Jan.

Etosha se riviervertakkings ná die reën. Foto: AERIAL ART

Die Australiese vliegtuig, wat in George aanmekaargesit is, is omgebou met ander wiele vir al die uitdagende landings op ongelyke Afrika-terreine soos by Lüderitz en Hentiesbaai in Namibië. Daar is ook ronde gate in die vensters gesny waardeur Jay met haar kameralense mik.

“Ek vlieg gewoonlik op ’n afstand van 350 m bo die landskap, maar ons gaan nie hoër as 1 500 m nie, weens regulasies.”

Jan is in Bothaville in die Vrystaat gebore en was aanvanklik ’n geoktrooieerde rekenmeester, wat toe eerder ’n entrepreneur geword het. Jay, oorspronklik van Johannesburg, het weer in natuurbewaring studeer en gewerk.

Onkonvensioneel

Hy is Afrikaans, sy Engels. Sy was maar 17 jaar oud toe hulle ontmoet het. Toe Jan die pad vat met ’n rugsakreis deur Egipte en Europa, het hulle briewe vir mekaar geskryf. Die paartjie lyk nogal na mekaar, met die vryheid van ’n onkonvensionele lewe wat aan hulle kleef.

“Saam het ons al meer as 70 lande besoek, waarvan Suid-Amerika se ysgletsers in Patagonië en kajak in Antarktika by my bly,” sê Jan.

Flaminke staan soos ballerinas in die water by Walvisbaai. Foto: AERIAL ART

Ons vlieg oor Kapama tot nader aan die skaduwee van die Drakensberge wat tot hier kartel. Jakarandas spikkel pers tussen die groen bos.

Jan ken van sirkeldraaie vlieg – as hy dit nie doen nie, gaan Jay nie die perfekte foto met die regte lig en sonder die vliegtuig se vlerk in die foto kry nie. Hy het duisende vliegure agter die blad. Soms is daar ’n derde asem in die vliegtuig, wanneer hul brak, June Skydog, saam met hulle vlieg.

Verbeelde landskappe

“Jay is een van die min vroulike lugfotograwe in die wêreld,” spog Jan.

“Dit is maar nog ’n manswêreld. Ek was nog altyd lief vir vlieg en tydens my studentedae het die gogga my gebyt toe ek saam met ’n loods vanaf Komatipoort in Mosambiek gevlieg het,” vertel Jay.

Die afgelope tien jaar deurkruis die paartjie Suid-Afrika, Mosambiek, Botswana en Namibië.

“Toe ons begin het, het ons nie te veel oor dinge gedink nie. Ons het net begin vlieg, want Jan, wat eers op die ouderdom van 36 begin vlieg het, moes sy vliegure inkry,” sê Jay.

Jay en Jan Rhoode by hul vliegtuig. Hy is agter die stuur, sy agter die lens.

Hul fotoboek vertel van dié avonture, met labirinte van Etosha se waterkanale, wrakke van die Skedelkus, onbekende eilande wat geëts staan in die Indiese Oseaan by Mosambiek, vertakkings van droë riviere in Namibië, migrasie van diere op die Makgadikgadi-panne, woestynduine van Namibië wat lyk soos lae sand wat stadig uit ’n uurglas loop . . .

’n Deel van die avonture lê in kampeer op vreemde plekke onder die vliegtuig se vlerk en vriendelike ontmoetings met plaaslike inwoners.

“Ek is mal om oor die waters van Mosambiek te vlieg,” sê Jan, en raak liries oor die kleurspel van die Save-rivier.

Jay hou weer van die dramatiese woestyntonele wat onder haar afspeel. Die liefde wat hulle deel is vir die Oos-Vrystaat en die Maluti-berge.

Daar was ook ontberings en noue ontkomings, soos die keer toe ’n brandstoflek hulle gedwing het om op die Mosambiekse eiland Matemo te land.

Van ’n landingstrook was daar nie veel sprake nie en die vliegtuig is so erg beskadig dat Jan dit weer in George moes kry vir herstelwerk.

Jan wil steeds hê Jay moet ’n vliegkursus doen sodat sy die Jabiru kan land as iets dalk met hom gebeur.

Lugkastele bewaarheid

In die vliegtuig gesels ons oor lugfotografie en die toenemende gewildheid van hommeltuigfotografie.

“Ek glo ons kan groter afstande aflê om te verken. Die meeste foto’s vanaf ’n hommeltuig is ook 90 grade afwaarts geskiet. Hommeltuie word ook nie op plekke soos die Okavango-delta en ander parke toegelaat nie. Ons mag daar vlieg op ’n sekere hoogte,” sê Jan.

“Ek voel om met ’n vliegtuig te vlieg is amper soos ’n skattejag. Jy vlieg en dinge kom op. Met ’n hommeltuig weet jy wat jy meer spesifiek wil afneem,” sê Jay.

Sy het mettertyd geleer om meer presies te wees in haar fotografie.

“My oë het baie beter geword met die tyd. Ek neem nie meer so baie foto’s soos aan die begin nie.”

Toe hulle besluit het om ’n boek te publiseer, het hulle nie dadelik geweet watter soort boek dit gaan wees nie.

Hulle het vir Heinrich van den Berg van HPH Publishing en een van Suid-Afrika se vernaamste wildlewefotograwe, gekry om te help.

“Ons het die boek basies oor ses jaar aanmekaar geslaan. Heinrich was die perfekte kurator, wat die foto’s so gekies het om die regte ritme te skep,” vertel hulle. “Soms moes ons teruggaan na ’n plek om ’n beter foto te kry, maar niks is natuurlik dieselfde nie. In ’n stadium moet jy stop!”

Hulle is onafskeidbaar, maar tydens die eerste inperkings verlede jaar was Jay in Swakopmund en Jan in Johannesburg.

Op die horison wink ’n nuwe uitdaging. Die egpaar gaan hulle in Botswana in die Okavango-delta vestig.

Van daar af kan hulle ook hul ander onderneming bedryf, naamlik om lugfoto-safari’s en fotografie-slypskole aan te bied. Immer aan die reis, immer aan die skep . . .

  • Botha is ’n fotojoernalis van die Kaap.
Kuier boek in hand by Kapama
  • Aerial Art, uitgegee deur HPH Publishing, is ’n hardebank-koffietafelboek. Die prys is R980, of R1 960, wat ’n R1 000-koopbewys vir ’n gedrukte foto insluit.
  • Besoek www.aerial-africa.com vir meer inligting.
  • Die Kapama- private wildreservaat bestaan uit vier kampe. Met my besoek het ek in die Kapama River Lodge gebly. Tariewe (tot 21 Mei 2021) beloop R4 100 per persoon per dag en sluit alle etes en drankies in, park- en bewaringsgelde en vervoer vanaf die Hoedspruit Eastgate-lughawe. Besoek www.kapama.com vir meer inligting.
  • Uit die Kaap kan jy op Maan- dae, Donderdae, Vrydae en Sondae met ’n verbindingsvlug na Hoedspruit vlieg. Besoek www.flycemair.com.


Meer oor:  Foto  |  Fotografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.