Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Fred Mouton vier sy vyf dekades

Fred Mouton is vanjaar 50 jaar by Die Burger en ’n gedenkboek met sowat 500 van sy beste spotprente en etse sedert 1970 verskyn vandeesweek. Bun Booyens het dit saamgestel.

Waar het die projek begin?

Aanvanklik wou ek net seker maak Fred se oorspronklike sketse bly behoue, want Die Burger het basies niks van sy twee voorgangers se werke oor nie.

Baie van Honiball s’n is darem in Maties se biblioteek, maar Boonzaier het sy sketse destyds verkoop. Ek reken omtrent die helfte van Fred se 10 000 spotprente is nie meer in Die Burger se besit nie.

En toe druk jy deur en stel die boek saam?

Ja, dit was nogal sleurwerk om ’n paar duisend prente te laat skandeer en te orden, maar daar was elke keer ’n heerlike moment wanneer ek die prente in volgorde begin sit het.

Dan skielik begin die verhaal homself vertel, amper soos ’n strokiesprent van die geskiedenis – die stryd tussen Nat en Sap in die 1970’s, die stormagtige 80’s, die oorgang van die 1990’s en so aan.

Hoe het jy gekies watter prente haal die boek?

Dit was nie maklik nie. Dink so daaraan, Fred het al begin teken toe John Vorster die eerste minister was en Richard Nixon die president van die VSA. Op die ou end het ek probeer om die sketse te kies wat as pertinente, visuele satire slaag, ongeag die politieke ideologie daaragter. ’n Spotprent sonder woorde is gewoonlik ’n treffer.

Het jy vir Fred geraadpleeg?

Ek het ’n paar keer met hom gaan gesels oor spesifieke prente en sy tegnieke, maar hy het my as samesteller toegelaat om te kies wat ek wou.

Watter politikus het die ergste deurgeloop?

Die Springbok-rugbyafrigters het veral swaar geleef in die Bokke se maer jare. Maar onder die politici, loshande Jacob Zuma. Fred is nie iemand wat daarvan hou om kwetsend te wees nie, maar Zuma se dikvelligheid het daartoe gelei dat hy dikwels nogal grotesk uitgebeeld is.

Hoe het Fred se styl oor die vyf dekades verander?

Dit is asof hy sy prente in die tweede helfte van die 1970’s skielik met meer selfvertroue begin teken het. Fred sê dis omdat hy ’n kwassie begin gebruik het in plaas van ’n pen, maar jy kan in sy sketse van daardie tyd sien hy was nie meer bloot “die nuwe Honiball” nie. ’n Hele klomp van die ou Sappe – sir De Villiers Graaff en so aan – het ook toe uitgetree en skielik was daar ’n klomp nuwe gesigte waarmee Fred kon begin spot.

’n Ander belangrike verandering was in die vroeë 1980’s toe Fred begin het om spraakborrels in sy prente pleks van onderskrifte te gebruik. Dit het die prente lewendiger gemaak, want een karakter kon nou regstreeks met ’n ander praat. Die dialoog was skielik ratser.

Dit lyk ook vir my of Fred elke ses maande of so moeg raak vir sy eie handskrif en dan verander hy sy letters – soms groot, dan kleiner, dan vet, dan weer dunner.

Fred is tegnies briljant. Wat sou jy sê is sy beperkinge? 

Fred se grootste vrees is waarskynlik dat mense nie sy prente sal verstaan nie. Daar is dus baie detail in sy sketse, maar juis daarin lê ook die bekoring. Daar is gewoonlik drie of vier interessante ekstra goedjies daarin versteek. Maar hy hou beslis nie daarvan om té abstrakte goed te teken nie.

Ek het een oggend as (koerant)redakteur so half aangedring dat hy een of ander vae konsep teken – ek kan nie onthou wat dit was nie – en hy het baie teësinnig ingestem. Toe hy uitstap het hy oor sy skouer op sy droë manier vir my gesê: “Nou ja, eendag sal ons almal seker besef jy was jou tyd ver vooruit.”

Hoe doeltreffend is spotprente as politieke kommentaar?

Baie. Die Burger praat reeds in sy eerste bestaansjaar in 1915 van die “haas onweerstaanbare mag” van die spotprent. Dit beklee eintlik ’n paradoksale plek in die joernalistiek. Koerante streef na balans en billikheid, maar by enige spotprent is daar altyd ’n element van moedswilligheid. Soms is dit ’n knuppel, soms ’n skalpel.

Hoe belangrik is die verhouding tussen ’n spotprentkunstenaar en sy redakteur?

Party kunstenaars verkies om alleen te werk. Zapiro is byvoorbeeld op sy eie, maar ander soek weer daardie samesyn. Boonzaier, Die Burger se eerste spotprenttekenaar, kla in sy dagboek steen en been oor die redakteur en senior redaksielede wat hom glad nie kan of wil help met konsepte nie.

Fred het onder sewe van die tien redakteurs in Die Burger se geskiedenis gewerk en jy sien elk van hulle se hand in die spotprente van hul tyd. In my tyd as redakteur het Fred nooit iets geteken waarmee hy nie saamstem nie. Hy het net doodstil bly sit totdat hy die prent begin ‘sien’.

Sy grootste bydrae?

Ek dink Fred laat ons meer vir onsself lag as vir die politici. So baie van sy politieke sketse speel in mense se huise af. Die mense, die meubels, die huishond, die motor . . . als is bekend.

* 50 Jaar met Fred, deur Bun Booyens, word deur Jonathan Ball-uitgewers uitgegee (224 bladsye; R320)

Meer oor:  Fred Mouton  |  Spotprente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.