Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Gaan die somer skoon gesig tegemoet

Die warmer weer is hier en dit is nodig om weer met ’n vergrootglas na jou velsorgroetine te kyk. Maskers en lang dae buite in die son gaan sorg dat jy mooi na jou vel moet kyk om op jou beste te lyk dié somer.

’n Paar klein veranderinge aan jou velsorgroetine sal sorg dat jy gereed is vir die somer. Foto: iSTOCK

‘Die belangrikste ding wat jy vir jou vel kan doen aan die begin van die somer is om getrou sonskerm aan te wend. Dit is een van jou beste wapens teen veroudering,” meen Karen Bester van die velsorgreeks Lamelle.

“As jy baie tyd binnenshuis deurbring is SPF30 heeltemal voldoende. Op dae wat jy baie in die son gaan wees, wend eerder SPF50 aan, en wend dit elke twee tot drie ure aan,” is Bester se raad.

Dr. Reza Mia, ’n bekende estetiese spesialis, sê sonskerm is natuurlik belangrik, maar moenie die belangrikheid van ’n sonhoed onderskat nie.

“Die direkte beskerming van ’n hoed kan ’n massiewe verskil maak, en beperk ook jou blootstelling aan die son wanneer dit op sy warmste is.”

Volgens Diane Eales, die stigter van die Beaucience-velsorgreeks, kan jy ’n skuif maak van swaarder, meer romerige produkte, na dié wat ligter en varser is.

“Ligter rome met antioksidante om jou vel te beskerm, en ’n reiniger wat nie jou vel stroop van sy natuurlike olies nie, maar wel oortollige vetterigheid verwyder, is belangrik.

“ ’n Mis-sproei wat die vel afkoel en maskers wat dit hidreer is ook ’n moet.”

Maritsa Heath van Gatineau en Diego Dalla Palma Professional voeg by dat ’n mens jou vel vir die somer moet voorberei deur ’n goeie afskilferaar te gebruik om ontslae te raak van droë wintervelselle wat dan ook kan lei tot beter absorpsie van die aktiewe bestanddele in die produkte wat jy gebruik.

Omdat ons meer sweet in die somer, het die vel ’n groter behoefte aan diep reiniging, meen Helene Cloete van NUXE en Sothys.

“Kies ’n reiniger wat die vel daagliks sagkens afskilfer, of ’n masker met afskilferingseienskappe wat gebruik maak van sowel chemiese as meganiese metodes om die vel te reinig.”

Oppas vir ‘maskne’

Al die kenners stem natuurlik saam dat die aanwending van SPF heeljaar belangrik is, maar nog belangriker in die somer. Vanjaar het ons egter iets anders om ook in gedagte te hou – ons gaan waarskynlik in die hitte met maskers oor die helfte van ons gesigte moet rondloop.

“ ‘Maskne’, oftewel aknee veroorsaak deur die gereelde dra van maskers, is iets eie aan 2020. Die irritasie van die masker en die asemhaling teen jou vel beskadig die dubbele lipiedlaag wat jou vel beskerm teen waterverlies en die penetrasie van molekules wat nie in jou vel hoort nie.

“Dit veroorsaak inflammasie en as jy die geringste geneigdheid tot puisies het, gaan dit opvlam,” verduidelik Bester.

Karla Janse van Vuuren

“Haal jou masker af sodra jy tuis kom. Ruil jou masker gereeld om die verspreiding van bakterieë wat aknee kan veroorsaak, te voorkom. Was jou lapmasker gereeld indien moontlik, was jou gesig sodra jy dit afgehaal het en ’n rukkie tuis gaan wees. Gaan gereeld vir chemiese afskilferings by ’n professionele velsorgterapeut om verstopping van jou porieë te voorkom,” is Mia se raad.

Heath sê ook goeie afskilfering en ’n diepreiniger, serum en velmasker om bakterieë te beveg is ’n moet.

“Gebruik ’n bevogtiger met ’n ligter tekstuur. Die verhoogde hitte in die area wat die masker bedek veroorsaak sweet wat, gekombineer met ’n swaar bevogtiger, die vel olierig kan laat voel en puisies meer waarskynlik maak.

“Vermy ook swaar onderlaag,” voeg Cloete by.

Kies produkte met Aloe vera wat strelend is op die vel, sê Eales. “Produkte met tea tree-olie of selfs nog beter, willow bark-ekstrak, sal jou vel teen puisies beskerm.”

As jy geneig is om pigmentasie-kolle te kry, sê Mia, moet jy gaan vir gereelde professionele behandelings om te voorkom dat pigmentasie in die vel opbou en afdaal na die dermis wat dan meer intense behandeling soos inspuitings sal vereis.

“Onthou dat die sonskade wat jou velselle al in jou 20’s opgedoen het, steeds daar is in jou 40’s en 50’s. Maar dis egter nooit te laat om jou vel te begin beskerm nie, anders is dit net skade op skade en gaan jy sukkel met ouderdomsvlekke,” voeg Bester by.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.