Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Gaan jou huwelik hou? Die statistieke praat

Hoewel meer mense trou, skei mense ook al hoe meer, met vier uit elke tien paartjies wat nie hulle tiende huweliksherdenking haal nie.

So bevind Statistieke SA in sy jongste verslag oor huwelike en egskeidings.

Luidens die 2016-statistieke het die meeste van die 139 512 huwelike in die land daardie jaar in Gauteng plaasgevind (26,1%). Daarna volg KwaZulu-Natal (15,4%) en die Wes-Kaap (14,7%), terwyl skaars 3,1% van paartjies in die Noord-Kaap afgehaak het.

’n Nuwe bruidegom of kom die ring af? Statistieke SA het pas die jongste huwelik- en egskeidingsyfers bekend gemaak. Foto ter illustrasie. Foto: Unsplash.com

Die egskeidingsyfer het in 2016 op 25 326 gestaan.

Sowat 78% van alle egskeidings landwyd het in die Wes-Kaap (6 224), Gauteng (5 816), KwaZulu-Natal (4 314) en die Oos-Kaap (3 352) plaasgevind.

Te oordeel aan die statistiek soek die meeste mans ’n jong blaar wat nog nie getroud was nie. Meer as ’n driekwart (76,4%) van die bruidegomme was ouer as hul bruid en 93,9% het met ’n vrou getrou wat nog nie voorheen in ’n huwelik was nie. Slegs 1% van mans het met geskeide vroue getrou en 0,7% met weduwees.

Mans en vroue trou ook al hoe later in hul lewe. Die gemiddelde ouderdom van mans wat in 2016 getrou het, was 36. Vir vroue was die gemiddelde ouderdom 32. Mans én vroue trou dus gemiddeld twee jaar later as in 2012.

Die gemiddelde ouderdom van geskeide mans was 44 en vroue 40. Meer as die helfte van alle egskeidings is deur vroue geïnisieer, terwyl net meer as 30% van mans wou skei. Slegs 7,4% (1 868) van alle egskeidings was onbestrede.

Die meeste egskeidings het tussen vyf en nege jaar ná die troue plaasgevind. In meer as die helfte van alle skeisake (13 922) het die gesinne kinders jonger as 18. Meer as 80% van al die egskeidings was eerste huwelike.

Van sprokiestroues was daar min sprake. Meer as die helfte van paartjies (57,9%) het in die hof getrou, terwyl slegs 31,1% van huwelike op ’n geestelike seremonie bevestig is.

Die aantal gebruiklike huwelike wat ingevolge die inheemse Afrika-wet soos vervat in die Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike (120 van 1998) voltrek en gevier word, het van 2015 tot 2016 met 14,7% toegeneem.

Selfdegeslaghuwelike het in die ooreenstemmende tyd van 1 185 tot 1 331 toegeneem. Die meeste daarvan was in Gauteng en die Wes-Kaap.

  • Lees die volledige verslag hier.
Meer oor:  Statistieke Sa  |  Statistieke  |  Huwelike
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.