Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Gaan ons aanhou pendel ná Covid?

Die koronavirus het diegene wat kon die afgelope jaar wêreldwyd genoop om van die huis af te werk. Dit laat vrae ontstaan oor die toekoms van die werkplek, waar mense bly en hoe hulle werk toe pendel.

In veral gevorderde ekonomieë gaan die pandemie strukturele veranderings op dié gebied waarskynlik versnel.

Die tempo van die verandering sal onder meer bepaal word deur openbare vervoerstelsels en eiendomspryse, namate al hoe meer mense van sentrale stadsgebiede na voorstede en sekondêre stede verhuis.

Namate meer mense van die huis af werk, sal die vraag na openbare vervoer in wêreldstede afneem. En dis maar één gevolg. Foto: istock

Die manier hoe grond in dié stadium in veral wêreldstede verdeel is en aangewend word, is die gevolg van die ontstaan en uitbreiding van spoorwegstelsels in die 19de eeu en die opkoms van motors vir private gebruik in die 20ste eeu. Dit het mense in staat gestel om groter afstande af te lê tussen hul huise en hul werkplekke.

Terwyl baie professionele (ryk) mense dit kan bekostig om, as hulle wil, in ’n middestad te bly en só voordeel trek uit netwerkgeleenthede en die stadslewe, word die meeste werkers gedwing om in voorstede of satellietgemeenskappe te bly waar behuising goedkoop is.

Die gevolg is dat dié mense twee keer ’n dag tussen huis en werk moet pendel. Dit is duur wat geld, tyd en energie betref, veral in groot stede. Dit eis ook ’n beduidende tol op mense se fisieke en geestesgesondheid.

Oor die laaste drie dekades het kommunikasietegnologie verbeter. Dit sluit in toegang tot e-pos, kitsboodskapdienste en goedkoper videokonferensies. Dit het dit moontlik gemaak om van die huis af te werk, selfs in die dienstesektor waar maatskappye staatmaak op kontak tussen kollegas, verskaffers en kliënte.

Tuiskantore

In Brittanje het die aantal mense wat van die huis af werk oor die jare stelselmatig begin toeneem, hoewel van ’n lae basis af. Voor die epidemie uitgebreek het, het 5% van Brittanje se arbeidsmag van die huis af gewerk, volgens die land se statistiekdiens. Daarby het 12% van mense gesê hulle het ten minste een dag ’n week van die huis af gewerk. Die opname is in 2019 gedoen.

Mense wat heeltyds en deeltyds van die huis af werk, was veral algemeen in gebiede waar daar tradisioneel baie pendelaars is. Dit het ook meer voorgekom onder ouer mense, meer senior werkers en diegene in beroepe met die hoogste salarisse.

Die implikasie was dat jy pendel gedeeltelik of heeltemal kon vermy indien jy van die huis af kan werk – en meer en meer mense wou die keuse hê om dit te kan doen.

Daar was egter ook ’n stigma – die idee dat net bevoorregte mense van ’n hoër status en diegene na aan aftrede van die huis af werk.

Toe die pandemie mense geen ander keuse gelaat het as om van die huis af te werk nie, is dit skielik bewys as tegnies moontlik én dit het sosiaal aanvaarbaar geword. Dié faktore gaan die proses uiteindelik versnel dat mense in die toekoms toenemend permanent of gedeeltelik van die huis af gaan werk.

Pendelgemeenskap

In Londen het werkers in 2019 gemiddeld een uur en 32 minute per dag tussen huis en werk gependel. In die res van Brittanje was dit net minder as ’n uur.

Dit beteken werkers in Londen het gemiddeld ’n ekstra 140 uur per jaar tussen werk en huis gereis teenoor hul landgenote.

Die langste pendelroetes was na sentraal Londen. Per trein het dit sommige mense gemiddeld tot twee ure en 18 minute geneem om tussen werk en huis te pendel.

Londen, soos ander megastede, maak staat op openbare vervoer om miljoene werkers by die werk te kry. Voor die epidemie het twee derdes van diegene wat in Londen se stadskern gewerk het van openbare vervoer gebruik gemaak. In kleiner stede was dit 15% en in die res van die land 10%.

Openbare vervoer is baie meer energiedoeltreffend as private vervoer, wat dalk verklaar hoekom Londen se per kapita-energieverbruik vir vervoer minder as die helfte is as in ander streke in Brittanje.

Pendel – veral op openbare vervoer – is egter duur, tydrowend en selfs voor die pandemie is dit uitgewys as ’n plek waar versnelde oordrag van lugwegsiektes soos griep voorkom.

Eiendom en vervoer

Verbeterings in vervoerstelsels het oor die eeue gehelp om die grootte en aard van stede te vorm. Nou lyk dit of verbeterings in kommunikasietegnologie stede wéér gaan omvorm.

’n Toename in mense wat van die huis af werk, beteken ’n afname in die behoefte aan sentrale kantoorruimte en die dienste wat daarmee saamgaan. Dit lei tot ’n toename in werkruimte in voorste, sekondêre stede en op die platteland.

Die hibriede model word dikwels as die beste van twee wêrelde voorgehou, maar dit kan net so maklik die slegste van twee wêrelde wees.

Baie van dié werkruimte sal in gewone huise wees, wat ’n groter vraag skep vir groter huise met meer vertrekke, dikwels verder van groot stadsentrums.

Daar is ’n toenemende ooraanbod van werk- en diensruimtes in groot stede en nie genoeg daarvan in ander gebiede nie.

En dit gaan jare neem om groot kantoorgeboue in middestede te omskep vir nie-kommersiële gebruik.

Slegste van twee wêrelde?

In reaksie op die pandemie en weens druk van meer mense wat van die huis af wil werk, probeer eienaars van kommersiële eiendomme en werkgewers ’n hibriede model voorstel.

Opnames wys werkgewers voorsien dat hul werkers uiteindelik 60% van hul tyd by die kantoor sal deurbring. Daarteenoor dui opnames onder werknemers dat hulle tussen 40% en selfs net 20% van die tyd by die kantoor wil wees.

Die hibriede model word dikwels as die beste van twee wêrelde voorgehou, maar dit kan net so maklik die slegste van twee wêrelde wees.

Werknemers sal steeds naby genoeg aan die werk moet bly om vir twee of drie dae ’n week werk toe te pendel.

Mense gaan ook meer ruimte moet vind om behoorlik van die huis af te werk, wat sal lei tot hoër huispryse.

Die epidemie en gevolglike verskuiwing van werk na mense se huise, het die potensiaal om ’n revolusionêre verskuiwing mee te bring wat die tradisionele ligging van mense se werkplek en huis betref. Maar die groot, onbeweeglike kragte van eiendom en vervoerstelsels kan die skuif verstadig. – Reuters

Meer oor:  Koronavirus  |  Nuwe Variant  |  Tweede Vlaag  |  Entstof  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.