Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Geel net waar jy kyk

Hierdie herfs beweeg die mode van koninklike gousblomgeel na die gepeupel se mosterd- geel, vertel die ontwerpers aan Alet Wichmann. 

Amal Clooney se gousblomgeel rok wat volgens die ontwerper Simon Rademan dié seisoen se neiging voorafgegaan het. Foto: Getty Images

Gousblom-geel. Daardie goue geel wat Amal Clooney verlede jaar na die koninklike bruilof gedra het.

Dis nou ’n jaar later en dis asof klerewinkelrakke nou met ’n kryt in dieselfde skakering ingekleur is. ’n Mens sien dit oral!

Nie heeltemal nie, sê die ontwerper Simon Rademan. Wat ons nou sien, is ’n “armer” mosterd-ondertoon van daardie ryk, koninklike kleur wat Amal gedra het.

Gousblomgeel is werklik al eeue lank ’n streng koninklike kleur en dit moes eintlik omstrede wees vir Amal om dit na ’n koninklike troue te dra, vertel Simon. Hy filosofeer dat hierdie stap van Amal wat protokol omvergegooi het, selfs ’n teken kan wees dat die Britse monargie na aan sy einde gekom het . . .

Mosterd ná die maal

Hierdie mosterd-ondertoon pas die beste by ’n blasser vel, sê Simon. Vir die res is dit beter om dit net aan te wend as fokuspunte, soos met ’n gordel en juwele.

Dis nie ’n muurblommetjiekleur nie, beaam Werner Wessels, stilis van die skoonheidskoninginne. “Dit gaan régtig indruk maak, daarom stel ek voor jy beperk dit tot een item.”

Simon stel voor ’n mens gebruik hierdie geel om klem te plaas op die deel van jou lyf waarvan jy die meeste hou. “Jy kan maar weet, as jy ’n geel broek dra, gaan almal na jou heupe en boude kyk,” sê hy. “As jy ’n katpak dra, gaan hulle na álles kyk.”

Jy kan ook maar weet dis ’n kortstondige kopie, sê Simon, wat voorspel ons gaan dit nie volgende herfs weer sien nie.

Sowel Simon as Werner kombineer die kleur graag met wit en swart. “Wees net versigtig met swart, want jy kan maklik soos ’n bytjie lyk,” waarsku Werner. “As jy dit met swart kombineer, bring ook koningsblou of wynrooi in.”

Die grimeerkunstenaar en The Bachelor South Africa-deelnemer Gina Myers het onlangs ’n katpak in dié kleur baie suksesvol gekombineer met koningsblou hoëhakskoene. “Dit verras jou. Sy kon dit ook saam met kameelkleur- of swart skoene gedra het, maar sy het eerder ’n modestandpunt ingeneem,” sê Werner beïndruk.

Saam met wit sal dit jou wintersdag ophelder al is dit koud en mislik, sê hy.

“Dit lyk ook fantasties by denim. ’n Denimbroek met ’n gousblomhemp en kameelkleurige handsak en skoene.”

Gina gee weer die raad dat jy dit met bloedrooi lippe moet dra. Haar gunsteling is Dior se ikoniese Rouge 999.

Gousblomgeel is eintlik ’n streng koninklike kleur. Koningin Elizabeth II dra dit graag.
’n Oorgroot trui vir ’n informele voorkoms. R1 199 by H&M.
Jy kan hierdie oorvou-hemp kombineer met ’n swart broek en baadjie as jy dalk nie dapper genoeg is om van kop tot tone geel te dra nie. R499 by www.poetrystores.co.za.
’n Trui met ’n mosterdgeel hals en moue sal jou laat uitstaan in jou ontspanningsdrag. R699 by www.poetrystores.co.za.
Snoesig teen die winterkoue in ’n goudgeel windjakker. R999 by poetrystores.co.za.
Jy kan ’n eenvoudige uitrusting in swart of wit (selfs koningsblou as jy dapper is) afrond met hierdie handsak. R279 by H&M.
’n Lekker warm mus met ’n vrolike tossel. R199 by www.poetrystores.co.za.
Die wat weet, sê die kans is skraal dat mosterdgeel volgende seisoen steeds in die mode gaan wees. Dis daarom dalk ’n wyse besluit om dit liewer net met ’n bekostigbare sonbril in jou klerekas in te bring. R149 by H&M.
Rooi lippe rond ’n geel uitrusting mooi af. R251 by Dis-Chem.
Die grimeerkunstenaar Gina Myers meen Dior se ikoniese Rouge 999 (R655) is die perfekte lipkleur om by mosterdgeel te dra.
Koningsblou kan ook ’n geel uitrusting afrond. Probeer Mavala se Blueberry-naellak. R87 by Dis-Chem.
Essence se Electric Blue- naellak kos R29,95 by Dis-Chem en www. takealot.com.
Jy kan hierdie geel baie suksesvol kombineer met koningsblou skoene, nes Gina Myers.
Die model en TV-aanbieder Minki van der Westhuizen dra graag skakerings van geel. Foto: Instagram
Die Suid-Afrikaanse ontwerper Palesa Mokubung het gousblomgeel gebruik as fokuspunte in haar Mantsho-modehuis se herfs/winter-modereeks vir vanjaar. Foto: Getty Images

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.