Die Kovsie-drawwers vir geestesgesondheid het Woensdagmiddag ná ’n afstand van 1 075 km binne minder as ’n week die “aflosstok van hoop” aan die Universiteit Stellenbosch (US) oorhandig.
Dié stok, waarmee die groep Vrydag uit Bloemfontein gedraf het, is vir hulle ’n simbool van hoop wat oorgedra word. Hulle wou die boodskap uitdra dat individue nie die pad met geestesgesondheid alleen hoef te pak nie.

Susan van Jaarsveld, Kovsies se senior direkteur van mensehulpbronne, oorhandig die “aflosstok van hoop” aan dr. Pierre Vivier, Maties se senior direkteur van kampusgesondheidsdienste, in die Coetzenburg-stadion op Stellenbosch. By hulle is die drafgroep. Foto: Stefan Els
Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se personeellede uit verskillende afdelings – sommige se eggenote het saamgedraf – het dié tog aangepak om bewusmaking oor geestesgesondheid te skep.
Hulle wou mense ook aanmoedig om ter wille van hul gesondheid gereeld te oefen.
Arina Engelbrecht, welstandspesialis by die UV se mensehulpbron-afdeling en ’n organiseerder van dié projek, sê daar is ook simboliek daarin dat hulle 24 uur per dag, selfs in die aand, gedraf het.
“As jy depressie het en op jou donkerste is, is daar altyd ’n flikkerende lig. Daar is altyd ’n ligpunt, jy moet net aanhou. Die lig raak sterker, soos toe ons die sonsopkoms ingehardloop het,” sê Engelbrecht.

Arina Meyer tydens die draftog van Bloemfontein na Stellenbosch, 10 km voor Victoria-Wes. Foto: Verskaf
Die drawwers is in groepe van drie verdeel, elke span met sy eie voertuig. Elke lid het met die tog sowat 60 km voltooi. Terwyl een span se lede hul afstand vir die dag gedraf het, het die ander twee spanne gerus.
Die sirkel is voltooi toe hulle onder die klank van “Chariots of Fire” by die Coetzenburg-stadion in Stellenbosch aankom. Dié lied is ook met hul wegspring in Bloemfontein gespeel.
Engelbrecht sê die gees tydens die tog was “ongelooflik” en hulle het die Eikestad met die Kovsie-kreet binnegedraf.
Susan van Jaarsveld, die UV se senior direkteur van mensehulpbronne, het die aflosstok aan dr. Pierre Vivier, die US se senior direkteur van kampusgesondheidsdienste, oorhandig.

Burneline Kaars, ’n organiseerder en deelnemer aan die draftog. Foto: Verskaf
Die tog was nie sonder uitdagings nie, sê Engelbrecht.
Hulle moes onder meer erge koue in die Sutherland-omgewing trotseer, teen winde in en op ’n sinkplaatpad hardloop, en boonop het ’n papwiel die span getref.
Die roete was: Bloemfontein, Fauresmith, Luckhoff, Petrusville, Philipstown, De Aar, Britstown, Victoria-Wes, Loxton, Fraserburg, Sutherland, Ceres, Wellington en Stellenbosch.