Kaartjies vir die Voortrekkermonument se jaarlikse Geloftediens op 16 Desember is alles reeds uitverkoop, maar diegene wat nie betyds een in die hande kon kry nie, kan dit ook aanlyn stroom.
Vanjaar se diens sal plaasvind met ’n baie beperkte aantal besoekers wat vooraf kaartjies gekoop het, en weens die Covid-19-maatreëls sal dit ’n heel ander formaat aanneem, luidens ’n verklaring.
Slegs 250 besoekers kan hierdie jaar die diens bywoon en daar sal geen sitplek om die monument beskikbaar wees nie.
Gaste wat nie teen 08:30 hul sitplek in die monument ingeneem het nie, sal hul plek verbeur. Gereserveerde sitplekke is slegs vir die wenners van die Herbou die Monument-kompetisie beskikbaar.
Ná die diens sal daar tot 16:00 ’n antiek- en versamelaarsmark op die amfidak plaasvind.
Geraldine Paulsen, woordvoerder van die Voortrekkermonument, verduidelik die doel van hierdie mark is om geld vir die monument in te samel.
“Die veiligheid van ons besoekers en personeel is vir ons ’n prioriteit. Besoekers se besonderhede sal geneem word en hul koors sal met hul aankoms by die toegangshek gemeet word,” sê Cecilia Kruger, besturende direkteur van die monument in die verklaring.
Maskers moet te alle tye gedra word en handreiniger sal by alle toegangspunte beskikbaar wees.
Die diens sal regstreeks hier uitgesaai word op en daar sal ’n skakel op die Voortrekkermonument se webblad daarvoor wees.