Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Gemeenskap herstel HOP-huisie toe Gogo 100 word
Daar is hard gewerk om gogo Lydia Radebe se HOP-huisie vir haar 100ste verjaarsdag te verfraai. Foto: Verskaf

Gogo Lydia Radebe van Villiers in die Noordoos-Vrystaat het verlede week 100 jaar oud geword, en om dit te vier het die gemeenskap ingespring en haar vervalle HOP-huisie herstel en mooi gemaak.

Gogo Lydia Radebe (voor met die kierie) in haar HOP-huisie voordat gemeenskapslede dit herstel en verfraai het. Foto: Verskaf

Die werklike ster in dié verhaal is Petrus Mazibuko, ’n werklose man wat sedert Februarie ’n span mense motiveer om gratis gemeenskapsprojekte aan te pak in die Mafube- munisipale gebied (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling), sê Jacques Jansen van Vuuren.

Hy is die voorsitter van die Villiers Qalabotjha-Aksiegroep, ’n belastingbetalersvereniging in die Mafube-gebied.

“Mazibuko en sy span het weer eens ingespring en in ’n kort tydjie die huisie herstel en verbeter. Met skenkings van boumateriaal en hulp van plaaslike sakeondernemings, inwoners en boere, is daar baie aande tot laat gewerk om die huisie betyds klaar te kry.

“Nuwe binnemure, vensters en deure is ingesit. Al die mure is gepleister en geverf en plafonne is ingesit.

“Die vloere is geteël en nuwe ligte, skakelaars en muurproppe is ingesit.”

Jansen van Vuuren sê die HOP-huis lyk nou byna soos ’n Sandtonse meenthuis.

Radebe is op 13 Augustus 1919 op ’n plaas naby Villiers gebore en het haar hele lewe hier deurgebring.

“Dié oumatjie is nog besonder sterk en gesond, stap en gesels nog lekker en doen steeds haar eie huiswerk.

“In 1995 het sy een van die eerste HOP-huisies wat in Qalabotjha by Villiers gebou is, ontvang. Sy bly steeds daarin saam met twee van haar kleindogters.”

Jansen van Vuuren sê dié drie-vertrek-huisie was maar altyd net ’n dop van rou stene met ’n sinkdak. Dit was koud in die winter en warm in die somer.

“Daar was nooit geld om die huisie te verbeter nie en oor die jare het dit erg bouvallig begin raak.

“Maar Sondag is makietie gehou by haar ‘Sandton-pophuisie’ toe die gemeenskap die sleutel aan haar terugbesorg het.

“My seun, Dyan (17), ’n matriekleerling aan die Hoërskool Villiers, het tussen sy matriek-eksamen-leerdery deur vir die oumatjie ’n verjaarsdagkoek gebak en ons het almal koeldrank en lekkernye gaan koop.

“Die gemeenskap het spontaan vir haar gesing en die maroeties (predikante) het kom kerk hou toe die huisie aan haar terugbesorg is.”

Jansen van Vuuren sê gogo Lydia was “oorbluf en bewoë” toe die sleutel aan haar oorhandig is.

Petrus Mazibuko, ’n werklose gemeenskapslid (met die groen pak) het die leiding geneem om gogo Lydia Radebe se HOP-huisie in die Qalabotjha-townshop by Villiers te herstel. Hier oorhandig hulle die sleutels van die huis aan haar. Foto: Verskaf

Volgens hom is daar groot dankbaarheid teenoor almal wat by dié besondere projek betrokke was.

Hy sê Mazibuko het ’n gawe om werklose mense te motiveer en dan verrig hulle wondere. Hulle het al skoonmaakveldtogte in Frankfort en Tweeling gedryf en dorpies silwerskoon gemaak sonder dat hulle daarvoor betaal is.

Die Villiers Qalabotjha-Aksiegroep se lede help gewoonlik met kos vir Mazibuko en sy werkers.

Mazibuko sê hy het “kwaai gebid vir die skenkings”.

“Ek wens die Here wil my mooi help dat ek baie meer skenkings kry sodat ek vir meer arm en gestremde mense op die aarde kan help.”

Mazibuko sê gogo Lydia se HOP-huisie was so bouvallig die mure kon enige tyd op haar ineengestort het.

Ek wens die Here wil my mooi help dat ek baie meer skenkings kry sodat ek vir meer arm en gestremde mense op die aarde kan help.
Die bouvallige HOP-huisie het nooit voorheen plafonne gehad nie. Foto: Verskaf
Die verjaarsdagkoek wat Dyan Jansen van Vuuren (17) vir gogo Lydia Radebe se 100ste verjaarsdag gebak het. Foto: Verskaf
Meer oor:  Gogo Lydia Radebe  |  Villiers  |  Herstelwerk  |  Mylpaalverjaarsdag  |  Hop-Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.