Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Gemoedsrus oor jou troeteldier

Onverwagte veearts-rekeninge kan ’n mens se begroting lelik beduiwel, maar daar is stappe wat jy kan neem om jou troeteldier gesond en uit die spreekkamer te hou. Mediese versekering vir jou dierkind is ook ’n goeie idee, skryf Karla Janse van Vuuren.

Daar is stappe wat jy kan volg om onnodige (en duur) besoeke aan die veearts te vermy.

Veeartse stem saam dat daar veral vier dinge is wat troeteldiereienaars kan doen om hul dier gesond en gelukkig te hou:

  • “Elke hond of kat moet in­geënt word teen die belangrikste siektes, soos adenovirus-infeksies, hondesiekte en hondsdolheid by honde, en panleukopenia en herpesvirus-infeksies by katte. Dit beteken jy moet jou babadier vir inentings neem op ses weke, tien weke en 14 weke. Met elke inenting word die dier ook ontwurm. Daarna moet jy jou dier een maal per jaar inneem vir ’n hupstoot-inenting om die immuniteit te behou. Tydens die jaarlikse ondersoek kan jou veearts ook seker maak dat jou dier oor die algemeen gesond is,” sê dr. JJ de Jong van die Wilgers-dierehospitaal.
  • Die belangrikheid van jaarlikse ondersoeke kan nie genoeg beklemtoon word nie, voeg dr. Caitlyn Dewey van die Radiokop-dierekliniek by. “Dit is wanneer jou veearts dalk vroeg ’n probleem kan opmerk en dan is die behandeling minder ingrypend en kos dus ook minder. Ons sien te veel diere waar ’n probleem weke lank onbehandel is en dan wanneer die dier uiteindelik by ’n veearts aankom, is die eienaar verbaas oor die duur en gekompliseerde behandeling.”
  • Gee vir jou dier kos van die beste gehalte wat jy kan bekostig. “Jou dier eet elke dag hierdie kos en mettertyd kan dit baie voordelig vir die dier wees – of tot ’n ramp lei. Vra jou veearts watter kos hul dier eet. Daar is ook deesdae terapeutiese kos wat kan help om toestande soos artritis, velallergieë en blaasprobleme te behandel,” sê Carla Bath, bemarkingsbestuurder van Hill’s. “Danksy vooruitgang in wetenskap en voedingkunde kan ons makro- en mikrovoedingstowwe, asook ander chemiese elemente in kos inspan om verskeie simptome aan te pak. Dus moet jy met sorg jou dier se kos kies,” Caitlyn.
  • Dit is baie belangrik om jou dier teen eksterne parasiete soos bosluise, vlooie en velmyte te beskerm, sê JJ. “Wees puntenerig oor ’n goeie ontwurmingsroetine en vlooibeheer. Op dié manier beskerm jy ook jou dier teen moontlike siektes wat hierdie parasiete kan veroorsaak,” sê Carla.

Gesels met jou veearts, en kry versekering

Jy is natuurlik geregtig om te vra hoeveel ’n prosedure gaan kos wanneer jou dier moet dokter toe, sê Carla. “As dit astronomies gaan wees en jy het ’n goeie verhouding met jou veearts, kan jy vra of hulle ’n betaalplan sal oorweeg.”

Caitlyn voeg by dat die meeste veeartse sal probeer om ’n plan te maak om by jou begroting in te pas, maar onthou dat ’n konserwatiewe plan dalk nie so doeltreffend sal wees nie.

“Al is ons baie lief vir diere en wil hulle gesond maak, is ons praktyke steeds ’n sake-onderneming met hoë lopende koste,” voeg JJ by.

Juis daarom is mediese versekering vir jou troeteldier tot voordeel van jou beursie, jou dier én jou veearts.

“Troeteldier-versekering is ’n soort korttermynversekering en verskil van ’n mediese fonds (daar is geen mediese fondse vir diere in Suid-Afrika nie). Die kliënt betaal die veearts, en eis dan terug van die versekering,” sê dr. Cath Dallas, ’n veearts by MediPet.

“Dit gee ’n mens gemoedsrus dat jou dier gedek is as daar iets onvoorsiens gebeur,” sê Caitlyn. JJ voeg by dit is iets waaroor veeartse baie opgewonde is.

“Dit maak ons en die kliënt se lewe makliker en ons probeer mense bewus maak daarvan.”

Wenke vir die regte plan
  • Dr. JJ de Jong van die Wilgers-dierehospitaal: “Ek moedig mense aan om die planne of maatskappy se webwerf te besoek of om met ’n konsultant te praat oor die verskillende opsies en planne vir hul spesifieke dier. Ons het in ons wagkamer brosjures van verskillende opsies en moedig mense aan om daarvan te neem.”
  • Oorweeg jou begroting, maak baie seker wat jy kan bekostig, is dr. Caitlyn Dewey van die Radiokop-dierekliniek se raad. “Vra ook baie vrae – dek hulle net hospitaalkoste, of ook buitepasiënt-tariewe? Vra of hulle oorerflike of bestaande toestande dek. Vra ander diere-eienaars oor hul ervaring met die maatskappy wat hulle gebruik.”
  • Maak seker jy verstaan wat die plan wat jy kies behels, beklemtoon dr. Cath Dallas. “Jy moet seker maak jy kry die regte dekking. Troeteldiereienaars moet veral versigtig wees vir planne met baie sub-limiete en wat sekere hond- of katrasse uitsluit. Planne wat lyk asof dit dekking bied met ’n baie lae maandelikse koste, moet ook versigtig benader word.”
Vergelyk hier

’n Internetsoektog wys ’n hele paar maatskappye in Suid-Afrika wat mediese versekering vir troeteldiere bied (sowat 12 is getel). Hier is ’n idee van wat die topvyf in die soektog aan verbruikers bied:

  • Oneplan Pet Insurance: Hulle bied ’n hospitaalplan vir R134 per maand, ’n klassieke plan teen R262 en ’n superplan vir R368. Die hospitaalplan gee jou ongeluksdekking van tot R28 000, siektedekking van tot R28 000 en ook diereherberggelde van R125 per dag en tot R1 240 per jaar. www.oneplan.co.za
  • Paw Paw Pets: Hul planne begin by R255 vir honde, R178 vir katte en R107 net vir ongeluksdekking. pawpawpets.co.za.
  • Hollard Pet Insurance: Hul Plan 100 dek onvoorsiene ongelukke en siektes en betaal 100% PetSure-tariewe (minus bybetaling). Plan 80 dek dieselfde, maar betaal 80% van Pet­sure-tariewe. Hulle het ook ’n slegsongeluksdekking en dan is daar ook ’n bykomende roetinesorg-opsie wat ’n mens by die 100- en 80-plan kan voeg (dit dek dan onder meer inentings, ontwurming, asook vlooibeheer). hollardpetinsurance.co.za.
  • Medipet: Daar is drie opsies, en Medipet tref ’n onderskeid tussen katte en honde. Opsie 1 het ’n maandelikse premie van R259,34 vir ’n kat en R302,32 vir ’n hond, en sluit onder meer dekking vir siektes en ongelukke in. Opsie 2 is die omvattendste en kos R296,39 vir ’n kat en R367,52 vir ’n hond en sluit ook onder meer tandheelkunde in. Opsie 3 bied slegs ongeluksdekking en kos R164,48 (hond/kat). www.medipet.co.za.
  • Genric Pet Insurance: ’n Mens kan tot vyf diere op elke plan hê. Hospitaalplanne vir katte begin by R215 (vir een kat, R967,50 vir vyf katte), en vir honde R250 (R1 125 vir vyf honde). Daar is ook meer omvattende planne. Slegs ongeluksversekering is ook beskikbaar. www.genricpet.co.za
Meer oor:  Troeteldiere  |  Versekering  |  Veeartse  |  Veeartsrekeninge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.