Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Geniet Erfenisdag met Eet kreef! herleef!

Die laaste KKNK Mothership-sessie gaan sorg vir heerlike Erfenisdag-vermaak op Donderdag 24 September.

Eet kreef! herleef! is ’n produksie wat nuwe lewe gee aan die ikoniese album wat in 1989 uitgereik is deur Johannes Kerkorrel en Die Gereformeerde Blues Band. In die hedendaagse weergawe laat die musiek die kranse antwoord gee in ’n moderne herinterpretasie van hierdie satiriese, dog salwende musikale meesterstuk.

Frank Freeman verduidelik hoe die idee van Eet kreef! herleef! ontstaan het: “Toe ek daaraan gedink het om ’n produksie in Afrikaans te doen, het ek in die argiewe van alternatiewe Afrikaanse musiek gaan soek, want dit is my erfenis. Dis hoekom die musiek van die Eet kreef!-album deur Johannes Kerkorrel en Die Gereformeerde Blues Band die antwoord was. Dis die erfenis van die alternatiewe Afrikaner. Die vrydenkende Afrikaner. Terselfdertyd is dit nou net so relevant soos dit toe was. Net in ’n moderne konteks. Dis wat hierdie produksie spesiaal maak. Ons kyk terug, maar ons kyk ook vorentoe.”

Die voorsanger, Laudo Liebenberg, is opgewonde om in iemand soos Kerkorrel se skoene te staan. “Ek dink dit is ’n groot uitdaging om ’n projek soos dié aan te pak, omdat dit so uniek is en baie mense na aan die hart lê. Ons het van die begin af gesê dat dit ’n verwerking moet wees en nie ’n tribute show nie. Sit jou eie stempel daarop, en wees eerlik en respekvol teenoor die songs – dis my mantra vir hierdie album en vertonings.”

Laudo Liebenberg is die voorsanger in Eet kreef! herleef!.Foto: Marilie Loubser

Freeman sê dit voel vir hom of van die beste musikale oomblikke tussen die groeplede gebeur wanneer hulle saam vir ’n optrede repeteer. “Dis wat die Eet kreef!-KKNK Mothership-sessie vir my spesiaal gemaak het. Dit was ’n lekker ontspanne atmosfeer, amper soos om net saam met mekaar te wees, maar met uitstekende tegnici. Almal staan in ’n sirkel en speel hierdie musiek, wat nou al deel geword het van ons as ’n groep. Ons het dit ook opgeneem met die onsekerheid of ons dit weer iewers gaan uitvoer. Dit het so bietjie van ’n ekstra element van emosie gegee. Dis spesiale musiek gespeel deur ’n spesiale groep musikante. Ons saal dalk moontlik vir ’n laaste keer hierdie rock ’n roll-ossewa op. Dit kan nie méér intiem wees nie.”

Jannie Hanepoot van Tonder van die Gereformeerde Blues Band het na die album-weergawe van Eet kreef! herleef! geluister. “Dis uitstekende renditions, almal topmusikante wat great performances lewer. Ek hou die meeste van die songs wat hulle hul eie gemaak het, byvoorbeeld ‘Ry’ is baie cool, dalk beter as die original.”

Eet kreef! herleef! het vroeg in 2020 ’n Fiësta-prys ontvang vir beste musiekgedrewe produksie. Moenie hierdie uitstekende konsert misloop nie!

Kry jou kaartjie by Webtickets. Dié musieksessie sal van Donderdag 24 September om 20:00 beskikbaar wees om te kyk tot Sondag 4 Oktober.

Hoe om na die vertoning te kyk (in twee maklike stappe):

1. Jy koop ’n kaartjie by Webtickets, presies soos wat jy ’n kaartjie vir ’n gewone konsert sou koop. Jy moet ’n profiel skep en jou kontakbesonderhede invul.

2. Op die aand van die vertoning skakel jy weer in op Webtickets, gaan na “My Account” en klik dan op “My Tickets”. Hier sal ’n skakel wees wat om 20:00 aktief raak. Klik dan op die skakel – die speler sal outomaties oopmaak en jy kan na die vertoning kyk.

Meer inligting en die volledige program vir die KKNK Mothership Sessions-musiekreeks is beskikbaar by: http://www.kknk.co.za/kknk-mothership-sessions/.

  • Musiekliefhebbers kan ook met die aankoop van kaartjies ’n skenking aan die Tribuo-fonds maak. Dié hulpfonds is gestig om mense in die uitvoerende kunste tydens die Covid-19-pandemie te steun. Meer inligting is beskikbaar by https://www.tribuo.co.za/.
Meer oor:  Kknk  |  Kknk Mothership  |  Erfenisdag  |  Kreef
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.