’n Splinternuwe gesondheidsentrum slegs vir mans is Maandag by die Karl Bremer-hospitaal in Bellville geopen.
Die sentrum, die eerste in sy soort in die Kaapstad-metrogebied, bied onder meer siftingstoetse vir chroniese siektes en ander siektes soos prostaatkanker en MIV/vigs, asook berading, behandeling vir seksueel oordraagbare siektes en besnydenis, luidens ’n verklaring.
Dr. Saadiq Kariem, bedryfshoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het mans aangemoedig om die sentrum te besoek.
Juanita Arendse, direkteur van gesondheidsdienste (Noordelike Tygerberg), sê seuns van 15 tot 18 moet egter deur ’n voog vergesel word. Volgens haar kan alle mans in die metrogebied van die nuwe Metro Men’s Health Centre gebruik maak. Dit is op die perseel van die Karl Bremer-hospitaal en naby die treinstasie en taxistaanplek.

Die Noordelike Tygerberg-span: Jonathan Lucas, uitvoerende hoof, van die Karl Bremer-hospitaal, dr. Douglas Newman-Valentine, hoof van ministerie, dr. Saadiq Kariem, bedryfshoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Juanita Arendse, direkteur, Noordelike Tygerberg-substruktuur, Elizabeth Van Niekerk-Fortuin, bestuurder van die Metro Men’s Health Centre, Alfonso Patientia, primêre gesondheidsorgbestuurder, en Msokoli Qotole, adjunkdirekteur: MIV/vigs. Foto: Verskaf

Juanita Arendse, direkteur van Noordelike Tygerberg-substruktuur, Elizabeth Van Niekerk-Fortuin, bestuurder van die Metro Men’s Health-sentrum, en Winton Gibbs, infrastruktuur: hoofingenieur, Karl Bremer-hospitaal.) Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
“Ons hoop om mans se gesondheid te verbeter, dienste uit te brei en mans se toegang tot gesondheidsorg te normaliseer.”
Die sentrum is ingerig op ’n plek waar ’n stoorkamer was. Daar is kamers vir berading, siftingstoetse, chirurgie en nasorg. Die sentrum is van Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 16:00 oop.
Afsprake kan gemaak word deur 079 530 2593 te bel of te WhatsApp, of stuur ’n SMS met die woord “Hi” van Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 15:30. ’n Gesondheidsorgwerker sal oproepe hanteer.
Die lyn vir afsprake is in werking gestel om mense en personeel te beskerm terwyl die Covid-19-pandemie voortduur.
Volgens Elizabeth van Niekerk-Fortuin, die sentrumbestuurder, vermy mans dikwels die soort dienste. “Maar ons is hier om ’n broodnodige diens te verskaf en om hulle gerus te stel sodat hulle na hul gesondheid kan omsien.”

Dr. Douglas Newman Valentine, hoof van die Wes-Kaapse ministerie van gesondheid, knip Maandag die lint om die nuwe Metro Men’s Health-sentrum te open. Agter hom is die Noordelike Tygerberg-substruktuur se bestuurspan wat die sentrum moontlik gemaak het. Foto: Verskaf