Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Zondi sien 1ste keer pikkewyne, ‘swem’ in see

Nooit sou ’n 34-jarige serebraal-gestremde man ooit kon dink dat hy pikkewyne in die regte lewe sou sien nie.

“Hy het gesê dat hy die pikkewyne nog altyd net op National Geographic gesien het,” sê Leon Fourie, bedryfsbestuurder van die Life Response-ambulansdiens.

Dié dag is egter Vrydag bewaarheid toe Sibusiso Zondi na uShaka Marine World in Durban geneem is. Hy was ook vir die heel eerste keer in die see – sy eintlike droom!

Sibusiso en sy ma, Zama Ngcobo, woon al tien jaar op die agtste verdieping in ’n woonstelgebou in South Beach, Durban.

Sibusiso Zondi (34), ’n serebraal-gestremde, loer na die visse in die akwarium by uShaka Marine World in Durban.

Zondi is gebore met serebrale verlamming en is in ’n rolstoel. Hy kan egter nie uit sy woonstel gaan nie, omdat die hysbak in dié gebou al vir sowat nege jaar buite werking is, sê sy ma.

Voor Vrydag was hy in 2017 laas vinnig uit die woonstel toe sy broer van Johannesburg vir hom kom kuier het, sê Fourie.

Ngcobo sê die nuwe opsigter van die woonstelgebou het gereël dat haar seun se droom waar word. Hy het Alfred Newman van die eThekwini-brandweer gebel en gevra of hy kan help.

“Sowat twee weke gelede het die opsigter my gebel oor ’n gestremde man wat net een versoek het en dit is om net by die strand uit te kom – iets wat ander as vanselfsprekend aanvaar,” sê Newman.

Newman het toe vir Fourie genader en hulle het eendag vir Zondi by sy woonstel ontmoet om te bepaal hoe hulle te werk sal gaan.

“Ons was so geskok, want hy is fisiek gestremd en word die basiese dinge ontneem. Hy sit net daar in die woonstel en beweeg tussen die sitkamer, die badkamer en sy kamer,” sê Fourie.

“En dan is hy skerpsinnig en het ’n goeie sin vir humor.”

Leon Fourie, bedryfsbestuurder van die Life Response-ambulansdiens, saam met Sibusiso Zondi (34) en sy ma, Zama Ngcobo. Die eThekwini-brandweer en dié ambulansdiens het ’n spesiale dag vir Zondi gereël nadat hy vir twee jaar in sy woonstel vasgevang was.

Toe die groot dag uiteindelik aanbreek, het ’n groep werknemers van Life Response en die brandweer beurte gemaak om Zondi van die agtste verdieping af in sy rolstoel na onder te dra.

“Die hele week het ons slegte weer ervaar, maar dié dag was mooiweer,” sê Fourie.

Zondi is eers bederf met ’n heerlike ontbyt by die Bike and Bean-restaurant op die Durbanse hoofstrand. Sy ma was saam om dié spesiale dag te beleef.

Leon Fourie, bedryfsbestuurder van die Life Response-ambulansdiens, stoot Zondi die see in op Durban se hoofstrand.

Daarna het die groot oomblik aangebreek en hy is in ’n spesiale rolstoel vir gestremdes in die vlak seewater ingestoot waar die branders breek.

Fourie het heeltyd by Zondi gestaan.

“Hy was só gelukkig en het sy hande in die water gesit. Soos die golwe breek, het die water onder sy rolstoel ingespoel en hom natgemaak.”

Nadat Zondi “geswem” het, is hy uShaka Marine World toe geneem.

Ná ’n dag vol opwinding is Zondi weer opgedra na sy woonstel.

Hy en sy ma het in trane uitgebars. Nooit het sy gedink dat haar seun dié dag sal beleef nie, sê Fourie.

“Hy was baie lanklaas by die see en het dit vreeslik geniet,” sê sy.

Zondi word op ’n spesiale rolstoel gelaai voordat hy vir die eerste keer gaan “swem”.
Sibusiso Zondi en sy ma, Zama Ngcobo, saam met lede van die Life Response-ambulansdiens, voordat hulle hom die seewater in gestoot het.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.