Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Goed om te weet

Praat van die Tankwa-Karoo se skoonheid en passe en sommige staar jou in ongeloof aan. Asof te sê ja, die (half)woestyn is nie sonder bekoring nie, maar bergpasse? Justus Visagie het die Tankwa, Hantam en Cederberge verken

Op pad na die verlate Oubergpas met sy 38 draaie in net minder as 8 km én jy klim 497 m.
Foto:
’n Donkiekar is die enigste verkeer op ’n pad naby die grens van die Tankwa-Karoo Nasionale Park.
Foto:

Ek hou in die middel van die pad stil en skakel die motorfiets af.

Daar’s geen geluid nie, net die knars van klippe onder my stewels. Die lig is van ’n onsekere kleur; ’n uitskot-Instagram-filter. In die verte giet ’n wolk hom uit.

Dié wêreld het lankal vergeet wat die kleredragreëls vir reën is.

’n Welkome verlatenheid

Ek laat die Honda op sy systaander rus. Dis so verlate op die pad wat ek volg, ’n mens kan piekniek daarop hou. Dis die derde dag van my reis.

Die laaste verkeer was ’n donkiekar met man, vrou en kind, iewers tussen hier en die grens van die Tankwa-Karoo Nasionale Park. Dit was omtrent ’n uur gelede. Buiten die donkiekar? Niks. En dit ná byna 100 km, al die pad van Middelpos en toe Gannaga-lodge, waar ek oornag het.

Ek en die fiets het twee dae gelede aan bergpasse begin weglê, nog voor ek die Karoo bereik het.

Eers die effens gehawende Bainskloofpas met sy kenmerkende skerp rotse. Dan die kort maar skouspelagtige Michellspas, wat jou optel en in Ceres neersit. Hier het ek die Honda se 18 liter-tenk volgemaak en ’n ekstra vyf liter gekoop wat ek in ’n spesiale sak vervoer. Op ’n vriend se aanbeveling het ek ’n stel Rockfox-stawe laat monteer om die kwesbare dele van die fiets te beskerm as dit sou val.

Foto:
Die uitsig van ’n Honda CRF 1000 L Africa Twin se rug.Foto’s: Justus Visagie
Foto:
Foto:

Teerpasse as voorgereg

In Ceres draai ek noord, na die R303, in die rigting van Prince Alfred Hamlet en die Cederberge.

Dis sodat ek die Gydo- en Katbakkiespas kon ry. Eersgenoemde is in die 1850’s gebou deur A.G. Bain en bandiete, min of meer in dieselfde jare as die Michellspas. Dit maak sierlike draaie en bied ’n praguitsig oor die godin se vallei.

By Op-die-Berg het ek regs gedraai, na die Katbakkiespas. Dié naam het glo niks met ’n kat en sy gesig te doen nie. In die winter vul vlak poele (bakkies) met water, waaruit wilde katte soos luiperds en rooikatte kan drink. Dié steil pas is al 20 jaar gelede geteer, maar die res van dié verlate pad, wat by die R355 aansluit, is van gruis. Dit loop oor ’n pragtige plato, bekend as die Klein Cederberg.

’n Halfuur later het ek links gedraai en die Tankwa-padstal gewaar. Jy kan dié eetplek uitken aan die motor wat lyk of hy vanuit die ruimte in die grond ingeploeg het en teen ’n hoek van 45 grade uitsteek.

Die atmosfeer is pure Bagdad Café, met ’n sweem Salvador Dalí. Vodacom het my spoor verloor en met die padstal se WiFi het ek Skoorsteenberg Cottages – my eerste oornagplek – laat weet ek’s op pad.

Foto:
Foto:
Foto:

Die stilte van Skoorsteenberg

Die eienaar, Nana Stallbom, het my verwelkom en na ’n groot, mooi kliphuis met ’n lang kuierstoep vergesel. Dis pynlik netjies binne en als is van ’n goeie gehalte.

Die volgende oggend is ek op voor die son. Die huis is amper aan die voet van die grote Skoorsteenberg, met sy spits wat soos ’n skoorsteen lyk.

Dit was tjoepstil. Nie ’n voël of insek het getjirp nie. ’n Gevoel van saligheid vloei van die berghange.

Ek het ’n oostelike koers gekies en in Sutherland se rigting gery.

Ek het die Tankwa-Karoo Nasionale Park (TKNP) betree. “Park” is nie juis gepas nie, want jy kan die bome op een hand tel. Ek’s op pad na een van Suid-Afrika se mooiste, eensaamste passe: die Oubergpas naby Sutherland.

Die rooi planeet

In die TKNP voel dit telkens of ’n mens op Mars is – nie net vanweë die verlatenheid nie, maar ook weens die rooi kleur van rotsriwwe wat ontbloot lê. Omtrent 90 minute later staan ek aan die voet van die Oubergpas. Dit het 38 draaie binne sy lengte van 7,8 km en styg 497 m. Die kans dat jy iemand op die pas gaan teëkom? Ongeveer een uit 1 000, raai ek.

Van bo-op die pas sien ’n mens die Tankwa-Karoo voor jou uitgestrek lê as jy terugkyk, soos die bodem van ’n see wat oor millennia verdamp het. Die laatmiddagson kleur alles goud. Die pad lê soos ’n lint, asof die wind dit kan wegwaai.

Toe ry ek noord na die nedersetting Middelpos. Dié oase skep die indruk van ’n piepklein dorpie, maar dis eintlik ’n plaas – met ’n winkel, ’n interessante oudmodiese hotel en ’n vulstasie.

Middelpos en Gannaga-lodge

Met die motorfiets se pens weer vol, het ek wes gemik, na Gannaga-lodge. Toe steek die weer op. Die geel van die laaste son en donkerpers wolke het soos ink op kladpapier gemeng. Die wind het koel deur my somerbaadjie gewaai en ’n paar voortvarende druppels spat van my helm af.

Ná 20 km het ek by die lodge ingedraai, waar die eienaar en hoofkroegman, Johann Visagie, my hartlik verwelkom het.

Die volgende oggend het dit gereën. Ek het gebid dat dit oral in die Karoo val, behalwe op die nou, klipperige pad – Gannagapas – wat my 550 m na benede en terug na die Tankwa-Karoo sou vat.

Ondanks die reën was die oppervlak nie juis nat nie en die fiets het gemaklik teen die steiltes afgeloop.

Gannagapas bied vele uitkykpunte en ’n kenmerkende brandwagrots, wat saam met hoë rotsagtige kranse ’n poort vorm.

Rampspoedige gevolg

Van hier is daar ’n maklike en ’n moeilike pad na Wuppertal. Ek het die moeilike een gekies. 90 minute later hou ek die solo-piekniek waarmee ek die storie begin het. Ek ry aan en verlustig my in die alleenheid van die reis.

’n Halfuur later beur die motorfiets teen ’n steilte besaai met groot, los klippe uit. Die klippe word klein rotse en dit verg konsentrasie om die fiets regop te hou.

Gewoonlik loon dit ’n ryer om vet te gee om uit die moeilikheid te kom. Maar ek let nie op dat erosie ’n stuk van die pad weggekalwe het nie. Die volgende oomblik is my voorwiel daarin en ek slaan neer.

My linkerheup is nerf-af en die fiets het (ook) kosmetiese skade. Die beskerming­stawe, wat nou op een plek effens gebuig is, het die enjin en ratkas beskerm. Dit vat dadelik wanneer ek die aansitter se knop druk. Ek ry tot bo op ’n plato en sien berge en valleie om my. ’n Verweerde groen padteken sê: “Afdelingsgrens Calvinia/Cederberg Divisional Boundary”.

Op en op na Eselbank

Ek steek ’n droë rivierloop oor, tussen groot swart spoelklippe. Ek ry verby Enjo Nature Farm en deur ’n oneindige reeks plaashekke.

By ’n T-aansluiting draai ek links na Wuppertal. Daar is huisies wat in puin lê ná die brand in Januarie. Anderkant die dorp is een van die land se bekoorlikste passe: die Eselbankpas.

Dié pas is so steil, jy kan voel hoe die swaartekrag jou terughou. Dis egter met sement teen die berghang vasgemessel en die Africa Twin trap vas soos ’n Basothoponie. Ek voel soos Jan, wat die boontjierank deur die wolke tot bo geklim het en nou ver bo die aarde is. Die plantegroei, die rotsformasies, die lig – alles is nou anders.

Ek is in die Cederberge se hart.

Die Eselbankpad is so effentjies, ek is verbaas dat dit op ’n kaart verskyn. Plek-plek is dit nie veel breër as ’n beespaadjie nie. Ek ry verby ’n huisie en ’n man lyk verbaas om my te sien.

Laaste nag

Ek nader my laaste oornagplek ná sononder en die fiets se lig beur die donker in. Daar’s ’n laaste klein pas waar jy versigtig moet ry, want daar’s geen relings nie, net die liggies van Kromrivier wat onder in die vallei vonkel. Die bestuurder het vir my ’n huisie bespreek ’n ent van die werf af. Dis naby die paadjie wat na Truitjieskraal loop, nog ’n besienswaardigheid.

Vele dekades gelede het skaapwagters hier geskuil en eeue gelede het die eerste mense van ons land rotstekeninge gemaak, wat steeds duidelik is. Onthou om ’n permit en die hek se kode van Kromrivier te bekom voor jy soontoe gaan.

Verblyf: Besoek www.cederbergpark.com, stuur ’n e-pos na bookings@cederbergpark.com of bel 027 482 2807.

Besoek die Gannaga-lodge se webblad by www.gannagalodge.co.za of stuur ’n e-pos na gannaga@hantam.­co.za. Gaan na karoo-accommodation.co.za of stuur ’n e-pos na skoorsteenberg@­gmail.com vir verblyf in die Skoorsteenberg.

Hoe kom ek daar?

Begin op Ceres. Dis 130 km van Kaapstad.

Watter voertuig is gepas?

Ek het met ’n 2019 Honda CRF 1000 L Africa Twin-motorfiets gery, maar enige avontuurfiets, dubbeldoelfiets of 4x4 (met laestrekratkas) sal werk. Ekstra-groot viertrekvoertuie kan dalk wel op die Eselbankpas sukkel.

Bykomende bron: Mountain Passes South Africa.

Meer oor:  Tankwa  |  Cederberge  |  Besoek  |  Reis  |  Tankwa-Karoo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.