Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Goedhartiges gee seun (7) se hart nuwe skop
Willie Brynard en Elmarie van der Merwe-Brynard saam met hul seun, Joshua, voordat hy Saterdag ’n prosedure by die Life. St.George-hospitaal in Port Elizabeth ondergaan het. Foto: Lulama Zenzile

Met die Oos-Kaap se kateteriseringslaboratorium by die provinsiale hospitaal in Port Elizabeth nou byna twee jaar gesluit, het goedhartiges 'n sewejarige seuntjie gehelp wat dié broodnodige prosedure moet ondergaan.

Hoewel Elmarie van der Merwe-Brynard se seun, Joshua (7), Saterdag die prosedure by die Life St. George-hospitaal deurgemaak het, is sy lank nie klaar met haar stryd om die kateteriseringslaboratorium, oftewel “cath lab”, se deure weer te sien heropen nie.

Die laboratorium is reeds in Oktober 2018 gesluit nadat die toerusting onklaar geraak en nie vervang is nie.

Sedertdien het Van der Merwe-Brynard hordes verbreekte beloftes van die gesondheidsdepartement aangehoor oor wanneer die laboratorium sal heropen, terwyl Joshua se tyd vir behandeling by die laboratorium by die dag nader kruip.

Joshua is op die ouderdom van vier maande met enkelventrikel pulmonale artresia, prima atriale septale defek (ASD), asook ’n rits hartdefekte gediagnoseer. In leketaal het Joshua ’n halwe hart, wat nie aan die longe gekoppel is nie.

Een van die gevolge hiervan is dat sy suurstofvlakke in sy bloed tot sowat 75% daal, en hy raak vinnig uitgeput.

Hoewel dit nie reggemaak kan word nie, kan Joshua verligting-behandeling en operasies ondergaan wat hom sal help.

Klein Joshua het Maandag in sy superman-uitrusting rondgehol terwyl sy ma die gevolge van sy hartsiekte verduidelik. Dit is moeilik om op die oog af te glo hy het reeds drie groot operasies in sy kort lewe ondergaan. Nóg een lê voor, maar hiervoor moet Joshua ’n prosedure by die laboratorium ondergaan wat sal bepaal of hy vir die operasie geskik is.

Nadat dit duidelik geword het die provinsiale hospitaal se laboratorium gaan nie binnekort heropen nie, het Van der Merwe-Brynard, sonder ’n mediese fonds, na die privaathospitaal gegaan.

Van links na regs is dr. Samkelo Jiyana, pediatriese kardioloog, dr. Adele Greyling, pediatriese kardioloog en elektrofisioloog, dr. Albert Vermeulen, narkotiseur, en Fran Stone, ’n tegnoloog, saam met Joshua van der Merwe-Brynard kort voordat die prosedure Saterdag begin het. Foto: Lulama Zenzile

Die rekening sou sowat R190 000 beloop.

Sy het onmiddellik met ’n aanlyn geldinsameling begin.

’n Maatskappy, wat anoniem wil bly, en gemeenskapslede het dadelik ingespring en gehelp, waarna die dokters van die Thanda Hart-stigting hul tyd gratis aangebied het en selfs die Life St. George-hospitaal ’n gedeelte van die rekening betaal het.

Saterdag het die stigting se dr. Samkelo Jiyana, pediatriese kardioloog, en dr. Adele Greyling, pediatriese kardioloog en elektrofisioloog, die prosedure op Joshua voltooi, wat onder meer die drukking in sy are rondom en binne die hartkamers ondersoek.

Jiyana het Maandag bevestig Joshua se drukking is laag genoeg, wat hom geskik maak vir die finale operasie wat verdere bloedvermenging in die hart kan voorkom.

’n Datum vir die operasie moet nog vasgestel word, aangesien slegs een opehartoperasie tans by die provinsiale hospitaal gedoen word.

“Joshua se hele verhaal tot nou is niks minder nie as ’n wonderwerk.

“Dit was ’n wonderwerk dat hy oorleef, gegroei en gewig aangesit het voordat hy gediagnoseer is.

“Elke keer verbaas hy ons met hoe sterk hy is,” sê Van der Merwe-Brynard

Sy erken daar was tye dat die vlaag uitdagings en onbekende pad haar in haar geloof laat twyfel het, maar noudat sy die impak van Joshua se verhaal op ander mense sien, gee dit haar gemoedsrus vir die trauma wat hulle deurmaak.

“Dit maak my so opgewonde om te sien hoe die mense van Port Elizabeth saamgekom en gehelp het,” het sy bygevoeg.

Joshua se hele verhaal tot nou is niks minder nie as ’n wonderwerk

Met die grootste deel van Joshua se hospitaalkoste betaal en danksy ’n gholfdag-geldinsameling, is genoeg geld ingevorder om selfs nog kinders in soortgelyke situasies as Joshua te help.

Intussen het Judy Ngoloyi, woordvoerder vir Sindiswa Gomba, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, by navraag gesê die kateteriseringslaboratorium in Port Elizabeth sal na verwagting in November in werking wees.

Volgens haar is die nuwe masjien veel moderner en meer gesofistikeerd as die voorganger, wat opleiding vir die personeel noodsaak.

Die opleiding sal in Oktober afgehandel wees.

Sy het egter nie gereageer op vrae oor hoekom die proses vir bykans twee jaar gesloer het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.