Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Goggas kort ook omgee

Jy moet selfs die lastige vlieë soos goud oppas, skryf Kelly Minnie.

Jy moet alle insekte oppas, want sonder hulle sal ons ekostelsel faal.

As jy hou van mooi kantrokkies dra, moet jy lief wees vir motte, want sonder hulle is daar geen sywurms wat die sy vir die kant kan spin nie.

En as jy graag ’n lekker vars tamatie in jou slaai sny, moet jy lief wees vir miskruiers, want hulle raak ontslae van die lastige vliegies wat aan die plante kou.

Daardie lepeltjie heuning in jou vroegoggend-rooibostee sal ook nie moontlik wees sonder die bye in jou tuin nie, want as hulle nie die nektar uit jou blomme haal nie, wie gaan?

Selfs daardie lastige vlieë is noodsaaklik, want onthou sonder vlieë is daar nie maaiers wat noodsaaklik is om al ons voedselafval af te breek tot kompos nie.

Dis maklik om om te gee vir die renosters, maar ons almal is nie ewe veel aan die bytjies en besies se kant nie.

Tog is 52% van alle insekte op die rand van uitwissing. Daarom het 73 wetenskaplikes, onder meer ’n paar van die Universiteit Stellenbosch (US), pas saamgewerk om ’n padkaart vir wêreldwye insekbewaring en herstel te ontwikkel.

Dié padkaart het onlangs in die vak­tydskrif Nature Ecology & Evolution verskyn.

Een belangrike punt wat genoem word, is om mense op te voed oor die bewaring van insekte.

Dr. James Baxter-Gilbert, een van die wetenskaplikes aan die US, benadruk dat ons insekte as belangrik moet ag omdat dit ’n noodsaaklike deel is van ons ekosisteem.

“Ons moet lief wees vir insekte omdat hulle wonderlike, uiteenlopende en pragtige lewensvorme is en daarsonder sou ekosisteme in gevaar wees en selfs ons voedselproduksie,” voeg hy by.

James gee ’n paar wenke vir wat jy kan doen om die bytjies op jou blomme en die vlinders in jou gras te beskerm:

1. Skep ’n plekkie in jou tuin waar jy die voëls kan voer. Voëls help om die insekbevolking te beheer en verminder dus die behoefte aan chemiese plaagdoders in jou erf.

2. Gebruik minder plaagdoders. Dit maak dikwels nie net die ongewenste insekte dood nie, maar ook die wat noodsaaklik is vir die tuin, soos hemelbesies wat die klein witvliegies (Aleyrodidae) eet wat aan die blare van jou tamaties of eiervrug kou. Om dan plaagdoder te gebruik vir hierdie witvliegies sal hemelbesies ook vernietig. Hierdie plaagdoders bly vir lank in jou grond en kan sleg wees vir jou tuin op lang termyn.

3. Skep ’n ruimte vir insekte. Kry ’n hoek in jou erf en gaar klippe, takkies, hout en blare op. Binnekort sal jy insekte daar sien rondkoek. Jy kan ook ’n byekorf bou van bamboesbuise. Sien hier hoe: friendsoftheearth.uk/bees/make-a-bee-house. Met meer mense kom daar meer huise en minder grond word toegeken aan diere. Daar is ook minder plek vir bye om hul korwe te maak.

4. As jy al ooit ’n verskoning gesoek het om nie gras te sny nie, hier’s een. Lang gras is vir vlinders ’n geskikte habitat om in eiers te lê. Die onkruid in jou tuin is ook vir vlinders en motte ’n belangrike bron van voedsel.

5. Ontdek jou groenvingers en raak ontslae van jou baksteenmuur. ’n Heining wat geskep is uit inheemse bome, bosse en rankplante sal skuiling bied vir insekte en ook voëls.

6. Maak ’n komposhoop. Buiten die voordele vir jou tuin se gesondheid, bied kompos ook ’n habitat en kos vir insekte, veral wurms.

7. Verminder jou koolstofvrystellings. Om minder koolstofdioksied vry te laat verbeter nie net die luggehalte nie, maar kan ook die omgewing vir insekte verbeter.

8. Ondersteun eerder die klein plaaswinkeltjie in jou omgewing wat self vrugte en groente kweek, as dié wat dit invoer. Kyk ook uit vir handelsname wat ingestel is daarop om die natuur en grond te herstel en beskerm.

Meer oor:  Universiteit Stellenbosch (Us)  |  Omgee  |  Herstel  |  Insekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.