Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Goodwood – ’n skou om te onthou

Jy moes destyds vroegoggend ry na die Goodwood-skou om plek te kry naby die hoofhek, anders is dit vér stap met die stofpad langs.

Met die instap kon jy reeds die plastiekperde sien wat al in die rondte draai in die mallemeule en die kinders wat gil en skree met ’n spookasem in die hand.

Die Goodwood-skouterrein. Die foto is in die 1970’s geneem.

Later jare was daar ook ’n man wat so in ’n groot, leë silinder in ’n motorfiets al in die rondte gejaag het. Dan sal die bodem van die silinder wegval, maar die man sou nog steeds in die rondte bly jaag.

Ma het gesê dit is een of ander middelpuntvlietende krag wat hom daar hou.

Pa het gesê hy gaan hom des moers val as hy daar laat los.

In die groot skousaal was ’n uitstalling in die een hoek van die Nasionale Weermag en Bernina-naaimasjiene – en die Suiderkruisfonds en Triomf-kunsmis in die ander hoek.

Dan was daar die ooms wat kom skou het. Perde, beeste, skape, hoenders, hase en al wat ’n plaasdier is.

Die ooms was tog te spoggerig as hul diere gewen het.

Waar die skouterrein in Goodwood eens was, is nou die GrandWest-casino.

Die landbouskou-prinses was in ’n lang, noupassende wit rok, silwerkroon op die kop, hoëhak­skoene en ’n blou-en-wit band oor haar lyf.

Sy het dan so ’n groot, veelkleurige roset aan die oom se baadjie vasgesteek, waarna hy en sy koei nog so ’n ere-rondte in die skou-arena gestap het onder groot applous van die skare.

Die skou-arena. Die paviljoen kon 80 000 mense vat. In die middag was daar die veelberoemde stukkie Bolandse kultuur van muilwaens wat al in die rondte voor die paviljoen paradeer het.

Die waens het bestaan uit sowat agt muile met ’n wa agter. Die waens se wiele was rooi-en-groen geverf en die muilbande wit.

Op die wa was die drywer met nog twee helpers langs hom en drie helpers agter hom op die wa­kis. Drywer en helpers, almal met ’n pak klere aan.

Die helpers moes help met die agt muile se leisels en die drywer moes behoorlik sy storie ken tussen die briek en die dryf van die wa, want as daardie muile wou jaag, het hulle geja. Die manne agterop die wa moes hul storie ken.

Reg in die middel van die skouterrein was die wit Total­toring, met vier luidsprekers bo en aan die onderkant. Van hier sou die Total-oom gereeld roep: “Jannie Fouché, Jannie Fouché, jou ma en pa wag vir jou hier by die Total-toring.”

Hier kon jy inligting vra, afkondigings laat doen en mense laat weet om jou daar te ontmoet.

Seker die belangrikste was egter dat ouers en kinders hier mekaar kon opspoor. Dit was meer as ’n toring – dit was ’n baken by die skou.

Wanneer dit aand raak, het ons weer afgesit na die skou-arena vir ’n vuurwerkvertoning en dan stock cars.

Ons held was Jan Swart, wat in sy vierkantige geel Ford gery het.

Daar was ook een of twee wat ’n woonwa agter hul motors gesleep het.

Dit was net so een of twee keer om die draai, dan lê daardie woonwa op sy sy.

Deesdae is daar ’n baie mo­derne casino op die skouterrein gebou en het die Bernina-naaimasjiene plek gemaak vir dobbel­­masjiene . . . en die Suiderkruis is vervang met die “Jackpot Star”.

Casino’s is verbode vir kinders. Ook maar goed so, want daar is nie meer ’n Total-toring nie.

Meer oor:  Bertie Cloete  |  Goodwood-Skou  |  Geskiedenis  |  Onthou  |  Leef  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.