Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Gratis aanlyn klasse in houtwerk baie gewild

Wat maak ’n mens as pres. Cyril Ramaphosa die land op vlak 4 van die nasionale inperking sit? Dis maklik: Jy bied ’n gratis aanlyn kursus in die ontwerp van kombuise en die bou van kaste aan.

Dit is presies wat Johan Schronen (59) van Rondebosch, Kaapstad, gedoen het toe die jongste vlak 4-inperkings ingestel is.

Hy het besluit om sy houtwerkvaardighede aan ander oor te dra “sodat hulle kan droom om ’n werkgewer te word, en nie net ’n werknemer te bly nie”.

Een van Johan Schronen se vorige praktiese klasse. Foto: Verskaf

Schronen sê hy het 10 of 15 mense verwag, maar uiteindelik het 52 mense van oor die Skiereiland heen vir sy kursus ingeskryf.

Die kursus bestaan uit ses modules, en elkeen daarvan het ’n bepaalde vaardigheid gedek. Kursusgangers het ook toetse geskryf.

Schronen beplan om in die tweede week van Augustus praktiese sessies in ’n gemeenskapsaal te begin aanbied. Hy sal naweke klein groepies akkommodeer.

Daarna sal elkeen “gradueer” en ’n sertifikaat kry.

“Ek het voorheen ook al houtwerkklasse aangebied en geld daarvoor gevra. Maar nou het ek besluit ek het vrye tyd met die inperking en ’n onderneming het van sy afvalhout geskenk. Daarom het ek die klasse gratis aangebied.”

Schronen sê sy liefde vir houtwerk het in die 1970’s op hoërskool begin, maar dit het net ’n stokperdjie gebly omdat hy in die joernalistiek was.

Johan Schronen (59) ten tyde van een van sy vorige klasse. Foto: Verskaf

“Ek dink dis belangrik om my vaardighede oor te dra aan diegene wat dit benodig. Die rye mense wat werk soek, is lank. As jy houtwerk leer doen, kan jy ’n geldjie verdien terwyl jy in daardie ry staan.”

Yolanda Neves (57) van Plattekloof, wat die kursus gevolg het, sê sy het voor Covid-19 ’n gastehuis gehad, maar moes dit sluit.

“Ek het baie kaste en het besluit om in te skryf vir die kursus omdat ek self wil weet hoe om daarmee te werk. Ek hou ook daarvan om met my hande te werk, dus siek ek baie uit na die praktiese deel van die kursus.”

Neves sê sy haal haar hoed af vir Schronen wat die kursus gratis aangebied het.

“ ’n Mens kry nie elke dag mense wat hul tyd so opoffer om terug te ploeg in gemeenskappe nie. Ek het nou nuwe kennis en gaan die dinge aan my familie ook leer.”

Die kursusgangers. Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.