Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Groen & aards

Aardse teksture soos rottang, gras en raffia, tesame met groen is dié manier om jou huis in 'n oase te omskep. Dis boonop maklik. Yolandi North vertel hoe.

Skep ’n lushof in jou huis met groen en meubels van natuurlike materiale soos hout, rottang en geweefde gras.

In 2020 is groen 'n megatendens. Oral gons dit oor omgewingsvriendelike keuses en 'n groener leefstyl, groener eetgewoontes, maar ook ? estetiese groen, verduidelik Li Edelkoort, Nederlandse tendensvoorspeller en kurator.

Op die huis-front is hierdie ’n heerlike tendens wat jy maklik jou eie kan maak. Dink hier aan huisplante, verskeie skakerings van groen verf, interessante drukwerk in groen én geweefde materiale soos rottang, raffia en riet.

“Dit is nou so maklik om ’n dromerige Mediterreense gevoel in jou huis te skep. ’n Vertrek wat nóg binne nóg buite is, is die tipe vertrek waar jy al jou tyd wil deurbring,” sê Carike Greffrath, eienaar van Wanderland Collective – ’n onderneming wat opkomende plaaslike kunstenaars se werk in drabare, leefbare kuns soos kussings, handsakke en serpe omskep.

Hierdie rusbank sal sorg vir ’n groen fokuspunt in jou huis; R6 000 by Mr Price Home.
Groen, groener, groenste

“Persoonlik is ek gek na die kleur groen,” sê Nikki Tyack, eienaar van die dekorwinkel Esque Online.

“My gelukkige plek is oral in die buitelug tussen gras en bome. My huis spog met groot glas-skuifdeure wat heeltemal oopmaak om ’n wonderlike buite-gevoel binne die huis te skep. Ek het ook groen strooikussings in my sitkamer gebruik om die buitelewe verder in te bring.”

Met groen kan jy moeiteloos ’n vars buitelug-gevoel in enige ruimte skep, verduidelik Carike.

“Gebruik ligter lemmetjiegroen in ruimtes waar daar meer natuurlike lig is en dieper buierige smarag in donkerder ruimtes om ’n dramatiese gevoel te skep.”

Groen skakerings wat in die kol is, is Duram Smart Paint se Kentucky Blue Grass (146-6) en Plascon se Mulberry Leaf (G1-C1-1).

Bak ’n Franse brood in hierdie rottang-broodpan van Kitchencraft. Dit gee aan jou brood daai outentieke gevoel met ’n spiraal-afdruk wat aan die onderkant vorm. ­R469 by yuppiechef.co.za.
Rottang is hoogmode. Laat hang dit uit jou dak met hierdie raffia-lampskerm, R1 800 by Esque.co.za.
’n Natuurlike grasmandjie (R199 by Woolworths) bring ook ’n natuurlike element na jou huis.
Rottang, riet en gras

Dink maar terug aan jou kinderjare en jy sal waarskynlik heelwat rottang- en riempiesmeubels onthou. Geweefde lampskerms is veral gewild.

“Natuurlike materiale soos rottang, ruwe hout en beton werk pragtig saam,” sê Nikki, wat ook glo dat jy glad nie genoeg rottang in jou huis kan hê nie.

Snuffel in jou pakkamer of by tweedehandse winkels en jy sal waarskynlik iets in geweefde materiaal soos raffia, gras of rottang kry.

'n Rietleertjie teen 'n groen muur, ’n rottangstoel of twee en grasmandjies gee tekstuur en karakter aan 'n vertrek.

Strooihoede teen ’n muur is nóg ’n maklike manier om dié gier tuis te bring.

Vrolik ’n ou meubelstuk op met Annie Sloan se Amsterdam Green-verf.
Groen linne en gedrukte motiewe

Li voorspel ook dat ons al hoe meer donker linne en gedrukte motiewe te sien gaan kry.

Vir diegene wat sukkel om ’n prominente stuk lap of kussing te kies, het Carike die volgende raad: “Kontras, kontras, kontras! Gebruik aardse kleure as basis op groter oppervlakke en skep dan aksent met meer gewaagde ontwerpe en kleure op kleiner gestoffeerde stukke en strooikussings. Plaas eenvoudiger, groter skaalontwerpe saam met meer gedetailleerde ontwerpe.

“Ek was nog altyd mal oor hoe interessante strooikussings die vermoë het om die hele gevoel in ’n vertrek te omskep.”

Maak groen keuses met groen

Kyk eerstens watter items jy nuut kan maak deur ’n lagie verf of om meubels anders te skuif of te stileer sonder om iets nuuts te koop. Oppervlakke – soos mure, kassies en selfs kersblakers – waarop Annie Sloan se reeks bordkrytverf byvoorbeeld geverf kan word, het omtrent geen voorbereiding nodig nie.

Carike se raad is verder om items te koop wat 'n storie vertel – byvoorbeeld plaaslike handgemaakte items. Fokus ook daarop om ? meer volhoubare keuse te maak deur items van hoë gehalte te koop.

  • Li Edelkoort gaan vanjaar weer haar gewilde tendensaanbiedinge doen tydens die 25ste Design Indaba: 25 Februarie in Johannesburg en 29 Februarie in Kaapstad. Besoek designindaba.co.za.

Yolandi North is ’'n vryskut-leefstyljoernalis en -blogger. Volg haar op azestylife.co.za.

Meer oor:  Dekorwenke  |  Groen  |  Dekor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.