Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Groep reis van Vegkop na Amajuba in ’n spaaider
Maak gereed vir die vertrek. Die groep reis met die spaaider van Heilbron in die Vrystaat na Utrecht in Kwazulu-Natal. Foto: Verskaf

’n Skrywer, ’n gewese wêreldkampioen-skopbokser, ’n oorlognabootser wat homself ’n swart Boer noem, en 'n perdefluisteraar reis met ’n perdekar terug die geskiedenis in op agterpaaie deur die Vrystaat.

Nico Moolman, skrywer en geskiedenisliefhebber van Utrecht, Wessel Mostert, gewese MMA-skopbokskampioen van die wêreld van Rustenburg, Twin Mosia, sakeman van Petrus Steyn wat die rol van ’n swart Boer op Anglo-Boereoorlog-gedenkgeleenthede vertolk, en Mbongeni Butakane, die perdehanteerder, pak saam die reis aan wat Dinsdag buite Heilbron afgeskop het.

Die groep pak die reis met ’n gentlemen’s viersitplek-spaaider oor 13 dae van Heilbron in die Noord-Vrystaat tot by Utrecht in KwaZulu-Natal aan. Hulle span ses perde in wat deurentyd afgewissel word en stop by elke historiese gedenkwaardigheid langs die pad.

Saans kuier hulle met die mense om die kampvuur wanneer die perde uitspan.

Die toer verloop van Vegkop buite Heilbron, waar die Voortrekkers die Matabeles op 16 Oktober 1836 verslaan het, tot by Amajuba in KwaZulu-Natal, waar die Boere ’n beslissende oorwinning op 27 Februarie 1881 in die Eerste Vryheidsoorlog teen die Britte behaal het.

Hulle gaan ook Petrus Steyn, Vrede, Memel en Wakkerstroom aandoen.

'n Skaduwee van die spaaider van die groep liefhebbers van geskiedenis is hier laatmiddag Dinsdag te sien waar hulle onderweg is na Heilbron in die Vrystaat. Foto: Nico Moolman
Op reis op 'n vergete agterpad. Die spaaider ry hier op 'n grondpad op pad na Heilbron. Die groep is Woensdagaand by Vegkop buite die dorp. Foto: Verskaf
'n Varkwa. Die foto van twee reuse-varke wat in 'n karretjie ingespan is, het opgeduik op die groep wat per perdekar deur die Vrystaat reis en historiese gedenkwaardighede, stories, staaltjies en foto's versamel. Foto: Verskaf

Die perdekargroep en ruiters wat saamry, word Donderdag met aankoms in Petrus Steyn by Huis Silwerjare met boerekoffie en melktert verwelkom, waar hulle gaan kampeer, kuier, braai en stories vertel om die vuur.

Moolman sê hulle ry net op die vergete grondpaaie die rofweg 500 km van Heilbron tot by Utrecht, waar hulle op 1 Mei gaan aankom. Hy sit op die agtersitplek van die spaaider en verwonder hom aan die natuur, geluide en reuke. Mostert en Butakane, die perdehanteerder, sit voor.

“Dit is ’n lekker avontuur. Vir my is die beste die reuke, die reuk van salpeter en Vrystaatse stof. Ons reis terug in die geskiedenis in. Dit is ’n trippie deur die landskappe en die geskiedenis.”

“Hoekom doen ons dit? Omdat die vergete grondpaaie daar is. Dit is ’n reis vir die herlewing van kultuur. Ons ry by ou plaasopstalle met hul stories, murasies, grafte en gedenktekens verby, stop en luister na die verhale.”

Moolman, skrywer van The Boer Whore wat die museum Buskruit & Laventel op ’n plaas by Utrecht bedryf, het die naweek as geskenk ’n geraamde kaart van Vryheid gekry wat uit 1888 dateer.

Een storie wat reeds opgeduik het, is van die Boereperd met die naam Rooibok wat sy baas goed in die ABO gedien het en naby Vryheid begrawe lê.

*Mense kan die toer op die groep se Facebook-bladsy My soektog volg.

*Die musiekgroep Beeskraal gaan op 25 April by Vrede optree en die Radio Kalahari Orkes gaan op 1 Mei lewe in die moeë litte pomp.

Meer oor:  Twin Mosia  |  Wessel Mostert  |  Amajuba  |  Vegkop  |  Nico Moolman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.