Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Gulde geleenthede in hul goue jare

Vroue oor 50 huiwer deesdae nie om hul ‘crone’-status met trots te dra nie. Hul loopbane bereik nuwe hoogtes, hulle omarm hul geleefde ervaring en tree as wyse mentors vir die nuwe geslag op.

Nie so lank gelede nie was menopouse die begin van ’n afdraande pad in ’n vrou se lewe. Sy moes woorde soos “oor die muur” verduur of hoor dat “haar beste jare verby is”.

Watwou! Welkom by die era van die crone.

Vandag se 50-plusser is gemaklik in haar vel, sensueel, seksueel selfversekerd, leef gesond en lees wyd. Maar sy is ook wys, koesterend en ’n beskermer en mentor.

Vandag se 50-plusser is gemaklik in haar vel, sensueel, seksueel selfversekerd, leef gesond en lees wyd. Maar sy is ook wys, koesterend en ’n beskermer en mentor.Foto: iStock

Die Jung-argetipe van die oermoeder, oftewel die crone, word nie altyd gevier in ons jeugbehepte samelewing, waar ons gereeld met die “30 rykste, 30 slimste, 30 suksesvolste snuiters onder 30 jaar”-lysies gebombardeer word nie. Selfs die Afrikaanse vertaling daarvan het ’n negatiewe konnotasie – wyf of heks.

Volgens die Jungiaanse sielkunde simboliseer die crone-argetipe die tydperk in ’n vrou se lewe waar sy volkome tot haar reg kom. Dié argetipe word met onafhanklike denke, wysheid, insig, intuïsie en selfversekerdheid vereenselwig.

Die Amerikaanse aktrise Frances McDormand wat Woensdag haar 64ste verjaardag vier, is baie uitgesproke oor die voorreg om ouer te word en die wysheid en selfaanvaarding wat daarmee gepaardgaan te vier.

McDormand is ook gekant teen enige verjongingskure. Terwyl ’n paar van haar tydgenote lyk asof hulle saans in ’n tenk eter slaap om hul jeugdige voorkoms te preserveer, weier die aktrise om haar hare te kleur, grimering te dra of behandelings soos Botox of kosmetiese chirurgie te oorweeg.

As ons onsself toelaat om die wysheid van volwassenheid te omarm en bewustelik ouer word, sal elke fase van ons lewens kans vir groei en nuwe geleenthede bring.

“Ek het nog altyd gedink dat veroudering die natuur se manier is om ons te tatoeëer. Dis natuurlike littekens en jou lewe en die pad wat jy stap, gee vir jou die simbole en die embleme van jou lewe, en wys die padkaart aan wat jy gevolg het,” het sy in ’n onderhoud gesê.

Sedert sy 50 jaar oud geword het, het sy ook meer pryse ingepalm as wat die meeste aktrises in ’n leeftyd sou doen en vanjaar die eerste mens geword wat in die geskiedenis van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences (Ampas) ’n Oscar kon wen vir vervaardiger én aktrise vir dieselfde fliek, Nomadland.

’n Nuwe skeppingsdrang

Die styl-ikoon Jackie Burger sê sy het ná haar 60ste verjaardag besef om ouer te word, bring nuwe geleenthede oor jou pad.

“As ons onsself toelaat om die wysheid van volwassenheid te omarm en bewustelik ouer word, sal elke fase van ons lewens kans vir groei en nuwe geleenthede bring.”

Burger sê ons moenie die waarde van ervaring onderskat nie; ouer vroue beweeg nader aan groter selfaanvaarding en genade.

“Albei is ’n broodnodige gelykmaker in ’n samelewing wat behep is met jeug en voorkoms.”

Dié voormalige redakteur van die modetydskrif Elle Suid-Afrika, is nou besig om deur haar argiewe te werk met die oog op ’n boek oor styl, vrouwees en die grasie van ouer word.

“Soos ek ouer geword het, het ek ook gehunker om stadiger en meer betekenisvol te leef. Só het ’n nuwe tipe kreatiwiteit ook sy verskyning in my lewe gemaak.

“ ’n Direkte gevolg hiervan is minder druk om die heeltyd produktief te wees – ek ag gehalte belangriker as hoeveelheid!”

’n Gogo met gô

Sedert sy 60 geword het, is sy intens bewus hoe vinnig vroue kan ontwikkel en groei, vertel die bekroonde aktrise Elsabé Daneel (65). Tans dink sy nie eers daaraan om af te tree nie.

“Verlede jaar met die inperking het ek gedink ek gaan heeltyd agter my kleinkind aanhol, toe ek by my dogter, Roeline, en haar man, Werner Lotz, ingetrek het.”

Maar Daneel kon nie voorbly met werk nie. Tydens die grendeltyd het sy in nege TV-reekse opgetree – waarvan talle se produksie soms oorvleuel het.

Op 65 vlieg ek op die vleuels van die tydsgees waar vroue ál sterker, vryer, meer ingelig en dapperder word.

Sy moes kophou of sy Estelle in Suidooster, Sandra in Home Affairs: A Christmas Tale, Trudie in Die sentrum of Esmerelda in G.I.L. is.

Sy het gedigte op RSG voorgelees en ’n oudio-kinderboek opgeneem.

“Op 40 jaar was my tuisbly-ma al effens moeg en onvergenoeg. Op 65 vlieg ek op die vleuels van die tydsgees waar vroue ál sterker, vryer, meer ingelig en dapperder word. Ek ervaar hoe my dogter se generasie hul stemme en geleenthede met gesag toeëien.

“Ongelukkig is dié regte steeds nie vir alle vroue beskore nie en dit bly ’n jammerte.

“Vir my is dit ’n voorreg om ’n gogo te wees wie se gô nog lank nie uit is nie. Ek voel gemaklik in my vel, want ek ken myself en bestuur my swak- én sterkpunte.

“Soos Leonard Cohen aanvaar ek onvolmaaktheid en om foute te maak. Hy’t immers gesê: ‘Dis die krake wat die ligstrale deurlaat.’ Ek het met tyd geleer hoe om sagkens met almal rondom my te werk,” vertel sy.

Ervaring moet gedeel word

Errieda du Toit, kookboekskrywer, radiopersoonlikheid, inhoudsvervaardiger van televisiereekse soos Kokkedoor en In die sop, wat tans op kykNET wys, meen ouer vroue is noodsaaklik in ons samelewing.

“Boonop is ons cool. Ons bring insig, wysheid en kalmte na ’n situasie. Nadat ek 60 geword het, het my lewensgehalte verbeter en my uitkyk verander. Om te kan sê en doen wat ek wil, is bevrydend. Ek glo ook daaraan om avontuurlustig en weetgierig te leef.”

Boonop is ons cool. Ons bring insig, wysheid en kalmte na ’n situasie.

Sy glo haar geleefde lewenservaring moet ook vrylik gedeel word. Om jou kennis en ervaring net vir jouself te hou, is soos ’n staande poel water wat nie vrugbare grond vind nie, meen sy.

Deesdae gun Du Toit haarself ook tyd om net ledig te wees – sonder die druk wat ’n mens vroeër in jou loopbaan ondervind.

“Dit laat meer skeppende idees vloei as ooit. My grootste oorwinning van die ouderdom, is om die begrip van ouer word onder die knie te kry. Nou klop ek myself op die skouer vir elke plooi, eerder as om daaroor te frons.”

Meer geduld, meer begrip
Bo, van links: Errieda du Toit, Susan van der Merwe en Jackie Burger. Middel: Marinda Kruger, Elsabé Daneel en Erika Kruger. Onder: Renée Rautenbach Conradie, Terena le Roux en Carolyn Malan.

Die Groblershoopse boer Susan van der Merwe het meer as ’n dekade gelede op 51 voltyds op haar pa se plaas begin boer nadat hy afgetree het. Skaars vyf jaar nadat sy begin boer het, wen sy die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se prys as die Noord-Kaapse kommersiële vroueboer van die jaar.

Haar ervaring in die lewe kom in alle aspekte van die plaaslewe tot uiting: van die manier hoe sy personeelkwessies hanteer tot om buite die boks te dink om ’n boerdery-probleem op te los.

Sy het eers haar drie kinders grootgemaak, as personeelbestuurder gewerk en haar rol as eggenote volgestaan voordat sy voltyds begin boer het.

Van der Merwe is Suid-Afrika se enigste vroulike kommersiële katoenprodusent.

“Ek het die afgelope paar jaar geleer hoe afhanklik ’n mens van God is en die verloop van tyd, veral om die verandering van die vier seisoene soveel meer intens te ervaar. Om katoen groot te maak, is om soos kinders groot te maak. Darem praat katoen nie terug nie,” sê sy laggend.

Die boerdery het haar as mens verander, erken sy. “Ek is nou baie geduldiger, verdraagsaam en het baie meer begrip.”

Moenie ‘oud’ dink nie

“Op 60 is jou kinders gewoonlik goed op dreef en staar ‘aftrede’ (wat ’n aaklige woord!) jou in die gesig. Dié dat ek toe besluit het om vir ’n skryfkursus in te skryf wat toe later ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns geword het. As joernalis het ek altyd gewonder of ek in staat is om ’n roman te skryf,” vertel die oudjoernalis en diplomaatsvrou Renée Rautenbach Conradie.

Sy het haar debuutroman, Met die Vierkleur in Parys, op 70-jarige ouderdom uitgegee. Twee jaar later, op 72, werk sy weer aan ’n nuwe boek.

“Toe ek 60 word, was my ma 88 jaar oud. Sy het nog kar bestuur, geskilder en mooi klere gemaak.

“Oudword” was nog nooit deel van haar ma, Sophia, se woordeskat nie – nie eens nou op amper 101-jarige ouderdom nie.

“Dis dalk net so by my ingeprent: Moenie oud dink nie.”

Sy sê joga, jong geselskap en nuwe stimulasie doen wondere vir ’n ouderdomlose ingesteldheid. As sy op 30 geweet het wat sy nou weet, het sy ook nie elke dieet beproef nie. “Ek sal ook vir my jonger self wil sê, moenie jou kop te veel oor beuselagtighede breek nie.”

‘Ek wil nie leef met berou nie’

Tegnologie mag dalk die hedendaagse bron van inligting wees. Die medium is egter nie altyd so goed daarmee om feite te interpreteer, stories te vertel, wyshede te deel of vir die volgende geslag die waarde van grense, selfvertroue en deernis te leer nie, meen die gesoute tydskrifredakteur en uitgewer Terena le Roux.

Mediawiggelaars het gedink sy is stapelgek toe sy ’n nuwe tydskrif, Joernaal, begin het, net toe groot mediamaatskappye begin maai het onder hul drukpublikasies en glanstydskrifte.

Joernaal fokus spesifiek op 50-plussers en sy het ook Idees by die Media24-groep oorgekoop toe die maatskappy die tydskrif in 2016 gesluit het. Sy sê as ’n 50-plusser wat gevoel het sy het nou alles gelees oor elke aspek van vrouwees, wou sy iets skep vir mense wat dieselfde as sy voel.

Ouer word is een van daardie dinge wat niemand kan ontsnap nie, maar ons kan kies hóé ons ouer word. Ek kies om jonk van gees te wees en goed te bly voel.

“Net omdat jy ouer is, het jou belangstellings nie skielik verander nie. Al begin jou rug en gewrigte jou nou pla, is dit nie al waaroor jy wil lees nie. Ek wou graag ’n publikasie saamstel met sorgsame stilering, goeie illustrasies, retro-foto’s en uitstekende skrywers.”

Terena sê sy het die uitdaging aangeneem – ten spyte van die moeilike medialandskap en Covid-19 se draaiballe – omdat sy nooit wil terugkyk op haar lewe met berou nie.

“Ek maak liewers foute as om niks te waag nie. My seun is al drie jaar gelede uit die huis uit en toe my laaste Skotse terriër aan die begin van die jaar die hiernamaals betree het, het ek besef: Dis my tyd. Ná 31 jaar van kinders en diere versorg, hoef ek nou net na myself te kyk, en dis fantasties! Dis tyd om die drome wat ek aanhou uitstel, te takel.

“Ouer word is een van daardie dinge wat niemand kan ontsnap nie, maar ons kan kies hóé ons ouer word. Ek kies om jonk van gees te wees en goed te bly voel. Ek sien kans vir meer goed as toe ek jonger was. Ek beplan om dit vir so lank as moontlik vol te hou.

“Ons samelewing het ouer vroue nodig. Ons geslag vroue kan nog die wêreld se verskil maak. Hulle is net so slim en ondernemend as dekades gelede en boonop het hulle jare se lewenslesse en ondervinding agter die blad.”

Sy meen dis ’n tragedie dat ouer mense op 65 gedwing word om af te tree en hul waarde misken word, terwyl hulle dikwels nog soveel het om die samelewing en werksektor te bied.


Waardeer jou energie

Carolyn Malan en haar man wou niks weet van ’n “stadiger pas” ná hul aftrede nie.

Hulle het hul hele lewe lank hul eie ondernemings bedryf, en was die laaste paar jaar eienaars van ’n versekering-franchise. Toe ander mense kniekombersies en boeke begin nader trek, het hulle korporatiewe Kaapstad agtergelaat en op Velddrif aan die Weskus gaan woon, waar hulle Kokerboom Kaas gestig het. Nou verskaf hulle kaas aan die land se voorste sjefs en luukse hotelgroepe en maak alles self.

“Ek wens wel ek kon die energie van ’n dertigjarige met die wysheid van ’n 60-plusser hê,” sê Malan.

Vertrou jou intuïsie

Dr. Marinda Kruger, wynmaker en Elgin Vintners se sakebestuurder, het so tussen haar loopbaan en kinders grootmaak op 55 haar doktorsgraad voltooi. Die veranderende verbruikerstendense het haar ook verskeie geleenthede laat raaksien en sy het gehelp om ’n laer-alkoholwyn in ’n blikkie te ontwikkel en bekend te stel.

Haar raad vir jonger mense?

“Dis orraait om soms onseker van jouself te wees. Vertrou dat jy eintlik baie meer talentvol is as wat jy jouself ag, en vertrou jou intuïsie; jou innerlike self weet waar is die Ware Noord.”

Marinda sê die enigste resies op die lewenspad is tussen jouself en wat jy bestem is om te wees. “Wees wys, en mik altyd hoër.”

Daag jouself uit

Erika Kruger, voormalige joernalis en kunsmuseum-registrateur, glo nie daaraan om haar hele lewe lank net een lees na te volg nie. Sy het op 42 ’n meestersgraad in opvoedkunde voltooi en haar honneurs in sielkunde op 54 voltooi. Nou praktiseer sy as ’n staatsgeregistreerde masseer-terapeut en is die eienaar van SomaSense, ’n maatskappy wat entrepreneurs en onderwysers help om nuwe vaardighede aan te leer om na hul geestesgesondheid en welsyn in die werkplek om te sien.

Sy meen ook dat jonger vroue nie bang moet wees om geleenthede aan te gryp nie.

“Moenie twyfel nie, sê net ja vir die geleenthede wat jou kant toe kom, veral as dit met die eerste oogopslag lyk of dit nie tans binne jou verwysingsraamwerk is nie. Verbreed jou horisonne en troetel jou persoonlike, sosiale en professionele netwerke. Daai ondersteuning en betrokkenheid kom terug na jou toe in moeilike tye, soos hierdie pandemie.”

Meer oor:  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.