Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Harde valle wanneer eindstreep wink

Daar is ’n paar geluide wat ek as fietsryer nie kan verdra nie en een is die geluid wat fietse maak wanneer dit die teer tref tydens ’n val wat op spoed gebeur – daardie kenmerkende skerp skuurgeluid van metaal op teer.

Dis dieselfde geluid wat ortopediese chirurge besig hou wat in skouers, sleutelbene en gewrigte spesialiseer en gewoonlik gaan die skuurgeluid gepaard met gille en krete van pyn. Saam met die bloed en vel en spandex wat op die teer agterbly, is dit dalk ook groot drome en ideale wat net daar in die niet verdwyn en derduisende rande wat, soos die verf van jou fiets, binne ’n oogwink weg is.

Die beeldmateriaal van die groot ongeluk wat Woensdag tydens die eerste skof van die Poolse fietstoer gebeur het, het my weer laat besef waarom fietsry as so ’n gevaarlike sport beskou word en waarom ek ná al die jare steeds bang is vir bondels, veral as die einde in sig is.

Ek het al menige ongeluk by die eindstreep sien gebeur en nie net in groot renne soos die Tour de France nie.

Selfs sosiale ryers se kop haak mos heeltemal uit wanneer hulle moeg en hul boude seer is en hulle ’n eindstreep gewaar.

Dan vergeet hulle skoon dat die wenners al besig is met hul derde Coke Zero en reeds warm gevryf is deur hul sportmasseerders en hulle jaag of dit hulle is wat die podium probeer haal.

Reg aan die einde van die Poolse toer se skof, toe tientalle ryers in ’n naelren gewikkel was, het die Nederlandse fietsryer Dylan Groenewegen, wat in daardie stadium voor was, na regs beweeg.

Eina! Dis waarom fietsry nie vir sissies is nie.

Dit het veroorsaak dat sy landgenoot Fabio Jakobsen teen die versperring langs die pad inploeg en ’n beampte tref. Jakobsen het sleg seergekry. Op sosiale media word Groenewegen nou uitgekryt as iets soos ’n misdadiger omdat hy die ongeluk veroorsaak het en mense gaan selfs so ver as om te sê hy moet tronkstraf kry, omdat hy met opset opgetree het.

Dis nie so eenvoudig nie.

Groenewegen het waarskynlik nie die bedoeling gehad om Jakobsen en soveel ander ryers te laat val nie, sê Alasdair Garnett, hoofafrigter by The Practice in Linden, Johannesburg, en voormalige direkteur van padfietsry vir Fietsry Suid-Afrika.

“Wanneer jy só in die eindstryd gewikkel is, gaan soveel goed gelyktydig deur jou kop en al waarop jy eintlik fokus is om eerste oor die streep te probeer ry.

“Dit kon bloot ’n natuurlike refleks van Groenewegen gewees het om sy elmboog uit te druk om self net op sy fiets te probeer bly,” sê Garnett.

Verder wys hy daarop dat die versperrings langs die pad nie korrek ingevolge die regulasies opgerig was nie en iemand moet daarvoor verantwoording doen.

My vriend Hano Smit vertel steeds die storie dat ek hom tydens een Cape Pioneer Trek laat val het toe ek reg voor hom in die enkelspoorpaadjie op ’n afdraande gestop het. Ek was salig onbewus van sy lot en het (gelukkig) nie eens sy krete gehoor nie!

Meer oor:  Beseer  |  Val  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.