Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Hoedspruit maak hul harte oop vir ernstige siek tiener

In ’n stadium het sy vir haar ma gesê sy is gereed om dood te gaan, maar Keira Rutherford (13) het met die hulp van ’n klein dorpie in Limpopo opgestaan om teen haar siekte te veg.

Lyme-siekte is in Februarie amptelik by Keira gediagnoseer.

Danksy die gemeenskap in haar tuisdorp, Hoedspruit, is binne weke honderdduisende rand ingesamel sodat sy die nodige behandeling kon kry.

Keira Rutherford (13) van Hoedspruit in Limpopo.Foto: Facebook

Keira, wat eens aktief was en aan atletiek, netbal, hokkie en swem deelgeneem het, het in Julie 2018 begin siek word.

Sedertdien was sy só siek dat sy nie kon terugkeer skool toe nie.

Melanie Leicester, die gesin se fisioterapeut, wat ook as ’n woordvoerder vir hulle instaan, verduidelik dat Keira vir byna ’n jaar siek was.

Lyme-siekte word deur bosluise oorgedra.

Die siekte word gekenmerk deur ’n kenmerkende velletsel, artritis en neurologiese en hartaantasting. Ander simptome wat kan voorkom, is koors, nekstyfheid en geswolle limfkliere.

Die siekte het so ver gevorder dat Keira later die gevoel in haar bene en arms verloor het. Sy was later in ’n rolstoel.

“Sy, wat so lief was vir lees, kon later nie eens meer ’n boek vashou nie. Sy het ook ongelooflike pyn ervaar en was op baie sterk pynmedikasie,” sê Leicester.

Keira Rutherford (13) kry behandeling in die St. George-kliniek in Duitsland. Foto: Facebook

Keira het weke lank in hospitale deurgebring.

“Sy was ernstig siek. Sy het in ’n stadium vir haar ma uit die hospitaalbed gesê dat sy nou reg is om dood te gaan,” sê Leicester.

Keira se ouers, Rankin en Lana, het gehoor van behandeling in Duitsland wat spesifiek op Lyme-siekte fokus.

Die koste om Keira in die St. George-hospitaal in dié land te laat behandel het egter sowat R800 000 beloop.

“Keira se pa is deel van die plaaswag hier op Hoedspruit en hy neem baie aktief deel daaraan. Toe Lana sê hulle kyk na behandeling in Duitsland, omdat hulle raadop is hier in Suid-Afrika, het die gemeenskap en die plaaswag ’n vergadering gehou. Ons het besluit die kind moet dringend Duitsland toe gaan,” sê Leicester.

Binne drie weke het die gemeenskap sowat R680 000 ingesamel.

Keira Rutherford kon teen 8 Junie met behulp van dokters al ’n paar treë gee. Foto: Facebook

Volgens Leicester het die hele dorp ingespring om te help.

“Kinders het worsrolletjies by die skole verkoop, mense het skarebefondsing begin en daar was gereeld mense wat hier en daar R100 bygedra het.”

Daar is ook nog R120 000 ingesamel op JacarandaFM se Good Morning Angels-program.

Keira en haar ma is sedert 15 Mei in Duitsland vir die behandeling en hulle keer Dinsdag na Suid-Afrika terug.

Volgens Leicester lyk dit tot dusver of die behandeling suksesvol is.

“Keira kon verlede week vir die eerste keer self opstaan. Ons hoop die bakterieë is nou dood, maar sy het vir agt maande lank nie geloop nie. Dit gaan dus nog ’n lang pad wees voordat sy ten volle herstel. Sy gaan nog baie terapie benodig om haar spiere weer sterk te maak.”

Keira het selfs Donderdag met die hulp van ’n dokter ’n paar treë gegee.

Leicester sê dit is moontlik dat die gemeenskap van Hoedspruit Keira se lewe gered het.

“Dit is regtig ’n klein boeregemeenskap wat besluit het om ’n verskil te maak.”

Klik hier om na video te kyk

Meer oor:  Keira Rutherford  |  Limpopo  |  Hoedspruit  |  Liefdadigheid  |  Gesondheid  |  Lyme-Siekte  |  Siek Tiener
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.